‘Ons het soveel drome vir hom gehad’

Dian Terblanche. Foto: Verskaf

Dian Terblanche (18), wat Woensdag oorlede is nadat hy ernstig beseer is tydens ʼn veldbrand, sal onthou word vir sy uitbundige lag en skerp humorsin.

Volgens Riana Terblanche het haar seun sommer sy kop agteroorgegooi wanneer hy so uitbundig gelag het. “Hy kon altyd die snaakse kant in iets raaksien en het altyd goed gesê wat mense laat lag het. Hy het ook ongelooflike dryfkrag en deursettingsvermoë gehad. As hy besluit het hy gaan iets doen, het hy dit deurgevoer.”

Riana sê sy het daarom geglo haar kind sou oorleef nadat hy op 5 September brandwonde oor 85% van sy liggaam opgedoen het toe hy en sy pa, Dieter, besig was om ʼn brand te bestry op hul familieplaas in die Reitz-distrik in die Vrystaat en die vlamme hulle oorval het.

Dokters was Dinsdag baie bekommerd oor Dian se bloeddruk. Sy toestand was egter deur die nag redelik stabiel, maar Woensdagoggend het dit weer baie sleg met hom gegaan.

“Dit is so ʼn groot skok vir die liggaam. Om te brand is seker een van die ergste dinge wat iemand kan oorkom. Jou lyf en organe trek net al hoe swaarder. Hy is darem saggies weg hemel toe. Ons weet Didi was ʼn kind van God.”

Dian sal onthou word vir sy uitbundige lag. Foto: Verskaf

Dian, ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Reitz en kaptein van die eerste rugbyspan, sou volgende week sy matriekafskeid bywoon en is genooi om volgende maand Ierland toe te toer vir rugby. Volgens Riana was haar seun baie lief vir sport.

“Daar is niks waaroor ek spyt is in die 18 jaar en bietjie meer as twee maande wat ons hom gehad het nie. Dit was ook genade dat ons vir 14 dae by hom in die hospitaal kon wees.”

Riana sê Dian se ouer broers, TJ (24) en Paul (22), kry baie swaar ná die dood van hul boesemvriend. “Hulle was regtig nie net broers nie maar beste vriende. Dit was altyd lekker om te weet hulle is ook vriende. Al Dian se vriende is ook teen die grond.”

TJ, Dian en Paul Terblanche. Foto: Verskaf

Dian sou volgende jaar BCom aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus gaan studeer het.

TJ was primarius van die Caput-koshuis en het vanjaar by ʼn ingenieursfirma begin werk. Paul is besig met sy honneurs en was in die huiskomitee van Caput.

Volgens Riana het Dian ook reeds keuring gehad by Caput en het hulle geglo hy sou in sy broers se voetstappe volg. “Ons het soveel drome vir hom gehad.”

Magda Venter, een van Dian se onderwysers, sal hom ook onthou vir sy uitbundige lag. “Hy was gelukkig in homself en min gepla oor wat ander dink of sê.”

Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Zuri ·

Ai sterkte vir julle, my hart bitter seer vir julle part. Ook 3 sulke bulle en kan nie indink om een van hulle te verloor nie. Sterkte vir julle en bid dat God julle sal toevou in Sy liefde en vertroos in julle groot smart.

Anoniem ·

Wat n groot tragedie met so prag kind onthou altyd die mooi dinge !!en as die aanwind die blare n ritsel gee op die plass weet dan Dian sal daar wees om te inloer en te glimlag . En sy kop agteoor te gooi en te skatterlag !!! Baie sterkte aan jul as familie GOD IS ALTYD IN BEHEER ??

Lollie ·

Sterkte! Ek glo dit moet ń bitter groot seer wees! Pragtige jong fris en gesonde jong man wat se lewe kortgeknip is. Hy was in die fleur van sy lewe en daar is soveel groot dinge wat nou vir hom sou wag. Matriekafskeid, universiteit, die rugby toer …….. Al daardie dinge gaan vir die familie verskriklik wees.
Ons kan net bid en vra vir krag en sterkte! Ek glo daar is baie wat aan julle dink en vir julle bid.

christa ·

So Jammer So Jonk Sal ons dit ooit verstaan Dink aan Sy Ouers En Broers .

willie ·

Ek as ñ pa en oupa kon hierdie berig nie lees sonder dat die trane vloei nie! Baie sterkte aan die familie en vriende, net Onse Vader kan julle in hierdie tyd en vorentoe dra! Ek bid vir julle!

Ander Annie ·

Ek huil saam met julle. Dit is die seerste seer wat daar kan wees. Mag julle vertroosting vind in die mooi gedagtes wat hy vir julle nalaat. My diepe meegevoel. Mag onse Hemelse Vader julle omvou in Sy liefde. Baie sterkte. My gebede en gedagtes met julle. Rus In Vrede pragtige kind.

Amelia ·

Rus in Vrede Dian, ek huil ook saam met almal wat hom geken het – hy lyk na ‘n persoon wat net grappe met mense kon deel – wat net kon hardop lag. Jinne dit is net so so hartseer.

Gesiggie ·

Hoe vloei die trane nou,,, om soveel mooi te lees van Dian se Mamma… n mens kan sien dat hy n ware en eerbare seun was en wat die lewe geniet het. Ons kan soveel keer vra? hoekom Here, hoekom hy… daar was nog so baie wat hy moes doen, en hoe kon hy nie die vooreg kry om sy matriek afskeid by te woon om nie die Rugby toer te geniet. Jesus alleen weet hoekom nou? en al is daar soveel seer en vrae.. het jul as ouers altyd hierdie mooi gedagtes en als wat mooi was in Dian se lewe om te onthou en te koester… sy mooi glimlag sal vir altyd met jul wees… en nou… gooi hy sy kop agteroor… en lag uit die diepte van sy siel, want hy is n Engel kind van God…Als wat mooi is vir jul as ouers.. om finaal te groet is nooit maklik.. Mag God jul bystaan en vertroos.

MJ ·

Laat ons dan vandag almal, wanneer ons by die huis kom, ons kindertjies styf vashou en hulle vertel en wys hoe lief en kosbaar hulle is.. Want ons weet nooit wanneer is enige een se dae getel nie. Baie sterkte aan hierdie familie. xx

Genoeg! ·

Wat ‘n ongelooflike tragedie! Sterkte vir die familie. Hy was ‘n pragtige seun en die hemel is ‘n engel ryker!

Elle ·

Riana,(moeder van Dian), kyk weer na die foto wat op MM geplaas is.
Die honde se kop was ook ‘teruggegooi’ op die bepaalde foto.
Soos jyself sê as Dian gelag het, was sy kop ‘teruggegooi’…
Was dit toevallig?
Baie sterkte ,dierbares. Groot pyn wat jul ervaar. Ons innige meegevoel.

Suzette ·

Ai Ellle my ook opgeval die foto dit was nie toevallig nie dit was ware companionship. My hart is so stukkend vir hierdie familie wat so prag seun verloor het. Ek kan nie werklik saampraat nie want ek het nog nooit in dieselfde skoene gestaan soos sy ouers en baie van die kommentaars nie. Ouers mag nie hulle geliefde kinders begrawe nie dis ongelooflik seer. Al wat ons kan doen is bid vir sy familie vir krag en genade. Dit klink dalk eentonig en so afgesaag want dis wat almal se, maar ek moet se vir die famiele en vriende hierdie is ‘n saak van gebed en julle opdrae aan ons Hemelse Vader mag julle die vertroosting kry wat julle toekom. Baie bid vir julle sterkte met julle groot verlies

Hester ·

Ek kan nie in woorde beskryf hoe hartseer ek is saam met Dian se ouers nie. My seun is matriek hierdie jaar, sy matriekafskeid is ook volgende week. Baie sterkte aan julle. My hart huil saam met julle oor jul onbeskryflike groot verlies.

Frank Combrinck ·

Dis die begin van n lewens lange vonnis…waarvan ek nou eers 62 weke uitgedien het. Nagte se wakker le en verlang, worstel met wat as en se nou maars. Ons as ouers word in n oogwink statistiek en bekom lidmaatskap van n klub waarvoor ons nooit aansoek gedoen het nie…Treurende ouers… in my geval was Franco maar skaars sewentien, toe n frats ongeluk sy lewe geeis het…drome versplinter …toekomsdrome daarmee heen, en ons moet voortgaan. Baie sterkte aan julle as Dian se ouers…onthou verwyt verander niks, dit bring net meer skeuring, julle het mekaar en opregte omgee vriende nou nodiger as ooit. Nee, jy kom nie daaroor nie…jy leer eenvoudig om met dit saam te leef, sommige dae louter hel, maar daar is draagliker tye ook. Maak GOD jou rots en anker vir die donkerder dae wat wag. Baie liefde en sterkte.

Gebroke Moeder ·

Frank, jou beskrywing, om ons liefling kinders aan die dood af te staan, kan nie beter uitgedruk word nie. Die woorde het my altyd ontbreek & jy beskryf presies hoe dit is. Ons het ons dogter verlede jaar in ‘n motor ongeluk verloor, sy was net 19 jr oud gewees. Ons as ouers is lewens lank gevonnis met trane, slaaplose nagte en al die waaroms en hoekoms. As ons emosies as seisoene geklassifiseer kan word, beleef jy al 4 seisoene in 1 dag.

Frank, sterkte vir julle.

Aan elke ouer wat saam ons deur hierdie lewenslange vonnis beweeg – vra ek dat Vader vir ons almal innerlike krag sal gee & al ken ek julle nie weet dat ek elkeen van julle opdra in gebed.

Terblanche Familie sterkte & liefde vir julle

Ken julle GLADNIE ·

Maar ek sit hier met trane wat brand en n knop in my keel, so groot, dit maak seer.
Ek kan hom amper hoor lag!
Pragtige jongman.

Sterkte aan sy ouers.
Mag julle troos vind in Jesus se arms♡

DS ·

Geen woorde kan die seer ooit beter maak nie. Ek weet. Ek weet want ek het net soveel drome vir my seun gehad. Sou die Januarie Frankryk toe gegaan het om daar rugby te gaan speel het en die Desember in ‘n motorongeluk oorlede. Glo my tyd leer jou om daarmee saam te leef maar die seer word nooit nie beter nie. Dis 4 jaar later. Vertrou en soek julle vertroosting by die Here anders word alles op ‘ n stadium net te veel. En ASB gaan vir rouberading. Dit, die Here en my familie hou my staande. Hou julle in my gebede.

Lente ·

Ai, hier sit ek in trane terwyl ek die berig lees. Ek kan aan niks erger dink as ‘n ouer wat ‘n kind verloor nie. Ek dra Dian se familie aan God op, en sal hulle in my gebede onthou. Sterkte aan sy familie, mag hulle berusting vind.

Patrys ·

“Ek ken jou pyn, jou donkerste nag
Ek is by jou Ek gee jou krag”

Mariette ·

Sterkte vir jul as ouers en almal wat vir hom lief was.
Koester die mooi dinge.Jesus sal sorg.

Ansie Geldenhuys ·

Swart van innige hartseer, maar onthou die goeie Hoe Heer ……

Madelein ·

Frank Combrinck… dit is sooo waar wat jy se… Dit is n lewenslange vonnis, n vonnis van smart, hartseer, self verwyt en verlange… en ek wil nie eers daardie lidmaatskap gratis aan my vyand gee nie… Ons stap al hierdie pad 15jr met ons dogtertjie en 5jr met ons seuntjie en dis soos jy se mens MOET net leer om saam hierdie emosies te leef… Soms is dit n marteling om net deur die dag te kom en die afsterwe van jou kind verander jou hele menswees… Al daardie onbeantwoorde vrae is net te veel vir die menslike brein om te verstaan…en daarom kan ons net vasklou aan al die mooi herinneringe…

Riana, gesin, familie en vriende .. Baie sterkte vir die moeilike pad wat voorle.. Daar is baie mense wat julle in hulle gebede hou … Mag die Here sy arms om jul vou en jul vertroos…

Marlene ·

God het weereens een van sy mooiste engele kom haal. Daar waar hy nou is ken hy geen pyn en smart nie. Baie sterkte aal al die familie en vriende met sy heengaan………………..

Elsa ·

Ek sit en tjank nou behoorlik. Ek huil saam met Dian se familie, maar ook saam met Frank Combrinck, Gebroke Moeder, DS en Madelein, want ek ken julle seer. In ‘n mate is dit wel ‘n lewenslange vonnis, maar die meeste van julle dien nog nie so lank jul vonnisse uit nie. Ek het 3 waaroor ek kan treur, maar met genade van Bo en 25 jaar later, het mens volle aanvaarding en berusting en is die seer regtig nie meer so rou nie. Soms, net soms krap mens rowe af, of mens lees van ander se seer soos julle s’n en dan vloei die trane sommer net en jy huil sommer vir jouself ook. Sterkte aan julle almal en mag julle en Dian se ouers vertroosting vind.

LB ·

Wat my eerste opval is hoe netjies die 3 jongmanne lyk. Voorwaar seuns om op trots te wees! Baie sterkte aan die famile en vriende….

CJ ·

Tannie, ek huil saam met julle. Die tragedie is verskriklik en ek kan nie glo dat hy net so weggeraap is van julle nie. Weet net dat ekke elke aand vir julle bid en ek vra dat pappa God tannie-hul en Dian se familie en vriende sal kom toevou in Sy liefde en dat Hy tannie hulle sal dra deur hierdie ongelooflike moeilike tyd. Ek dink baie aan tannie-hulle! Even though I walk through the darkest valley, I will fear no evil, for you are with me; your rod and your staff, they comfort me.
Psalm 23:4
Sterkte vir hierdie moeilike tyd. Onthou dat God tannie hulle sal dra deur hierdie moelike tyd.

Jenny Thom ·

Goeiedag
Mag Majesteit YHWH jul troos en sag teen Sy hart koester. Weet maar dat Hy vir Dian benodig het vir ‘n baie spesiale werk wat net Dian kon vermag. ABBA Vader het hom kom haal terug vanwaar hy vandaan gekom het.Baie krag en sterkte en vrede bid ek julle toe.

Johan ·

Tannie moet sterk wees die Here het ge weer wat is die beste

Maria ·

RIV.Hy was n pragtige jong man.Mag God jle deur hierdie moeilike tyd dra.Sterkte dink aan jle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.