‘Ons het vrede,’ sê ma ná ongeluk verloofdes eis

Ruan Coen en Jessika Kennedy.

“Dit gaan nie vir ons soseer oor vergelding nie, maar eerder om ’n boodskap te stuur om mense daarbuite gerus te stel dat geregtigheid tóg uiteindelik geskied.”

Só vertel Ursula Kors (54) van Pretoria nadat ’n motorongeluk meer as drie jaar gelede die lewe van haar seun, Ruan Coen (26), en sy verloofde, Jessika Kennedy (25), geëis het. Die ondersoek teen die bestuurder van die ander betrokke voertuig het sedertdien bykans stilgestaan nadat die dossier daaroor spoorloos by die Silverton-polisiestasie verdwyn het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen ingegryp om seker te maak dat die motoris vervolg word en dat geregtigheid geskied. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het baie nou met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak saamgewerk, asook met sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak om die dossier weer saam te stel.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vandeesweek AfriForum se privaatvervolgingseenheid in kennis gestel dat hy die bestuurder op ’n aanklag van moord gaan vervolg. Die beskuldigde moet nou vir die eerste keer op 29 April in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Kors vertel Coen en Kennedy het op 23 Desember 2017, kort ná hul verlowing, met die N4 van Witrivier na Pretoria teruggekeer toe hulle in die ongeluk betrokke was. Hulle het na Pretoria teruggekeer nadat hulle by Kennedy se ma in Witrivier gaan kuier het.

Die motorwrak.

“Volgens ooggetuies het ’n groot BMW in die aankomende baan beheer oor die motor verloor en in Ruan-hulle se baan beland en teen hul Ford Ka gebots. Ruan en Jessika is op die toneel oorlede en die bestuurder van die BMW het ongedeerd weggestap.”

’n Saak van strafbare manslag is ná die ongeluk teen die bestuurder van die BMW aanhangig gemaak. Maande lank is daar egter weinig met die ondersoek gevorder.

Kors het kort ná die ongeluk ’n bewusmakingsveldtog oor roekelose en onverskillige bestuur van stapel gestuur. “Ek wou hierdeur op die een of ander manier die wet beïnvloed dat die straf vir sulke voorvalle swaarder gemaak moet word.”

In die proses het Kors en adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid se paaie gekruis.

“Ek het hom van die ongeluk en my veldtog vertel. Hy het my ’n bietjie ingelig oor hoe die wetgewing werk en ook sommer vir die saaknommer gevra. Hy het gesê hy wil kyk waarom die saak sloer. En só het AfriForum begin ondersoek instel.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir AfriForum se span en die moeite en tyd wat hulle ingesit het om seker te maak dat die dossier weer wettig saamgestel word. In die proses is nuwe ondersoekbeamptes ook aangestel. Ons het nie gedink daar gaan iets van die saak kom nie.”

Kors sê hoewel sy en haar seun, Desmond (32), verlig is dat die vervolgingsproses nou gaan begin, het hulle intussen vrede gemaak met wat gebeur het.

“Ons het vrede gemaak in die sin dat Ruan en Jessika nou in die Vader se arms is en niks kan hulle meer seermaak nie. Ek het vroeg al vergewe en die saak in God se hande gelos. Ons mis hulle verskriklik en is nog baie hartseer, maar ons het besluit om aan die goeie herinneringe vas te hou.”

Kors sê ongeag die uitkoms van enige hofsaak, gaan dit vir haar meer oor die boodskap wat hulle met die saak wil uitstuur om soortgelyke ongelukke en smart te voorkom.

“Mense moet besef dat dit nie saak maak hoeveel tyd verloop nie, die gereg sal jou altyd inhaal. Iemand wat onverskillig of roekeloos bestuur, sal aan die pen ry.

“Ek besef geregtigheid gaan nie my kind terugbring nie. Of die man sou boet vir sy dade, sou nie aan ons ʼn verskil gemaak het nie. Wat saak maak is dat hy in die lewe hierna rekenskap moet gee.”

Kors sê hulle was ’n hegte gesin en Ruan en Desmond was van kindsbeen onafskeidbaar. Sy het Jessika as haar eie dogter beskou.

“Ruan en Jessika het die mooiste herinneringe vir ons agtergelaat. Ek het twee kinders daardie dag verloor.”

Sy beskryf die jong verloofdes as mense met harte van goud wat baie vir hul medemens omgegee het. “Ruan sou enigiets in sy vermoë gedoen het om iemand in nood te help. Hy sou nie verby ’n hawelose gestap het sonder om te help nie. Hy het so hartseer geword oor die swaarkry in die wêreld.”

Ruan het vir die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gewerk en Jessika sou in 2018 haar graad in verpleegkunde voltooi het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.