‘Ons is beter en sterker saam’, sê DA-leier

DA-leier Mmusi Maimane. Foto: DA/Twitter

“Versoening beteken nie ons almal moet ons diversiteit prysgee nie. Dit beteken nie ons moet ons identiteit prysgee of om verskoning vra vir ons ras, kultuur of taal nie.”

Só het Mmusi Maimane, DA-leier, Dinsdag tydens Erfenisviering in Soweto gesê. Volgens Maimane sal Suid-Afrikaners met reg vanjaar besin oor waar hulle vandaan kom.

“Ons moet egter ook die tyd benut om te dink aan die erfenis wat ons vir toekomstige generasies wil opbou. Dit beteken ons moet op die toekoms eerder as die verlede fokus.”

Ál toekoms wat die moeite werd is om na te streef, is volgens Maimane as verenigde nasie.

“Dit is ʼn erkenning en ʼn viering van ons verskeidenheid én ʼn erkenning dat dié verskeidenheid ons sterk en veerkragtig maak. Swart en wit, jonk en oud, Xhosa, Zoeloe of Afrikaans, ons is beter en sterker saam.”

Volgens Maimane moet landsburgers nie gehoor gee aan diegene wat sê ons is mekaar se vyand nie. “As hulle vir jou sê dat sekere mense of tale nie in dié land hoort nie, sê vir hulle dat hulle beslis nie namens jou praat nie. Wanneer Panyaza Lesufi openlik sy haat teenoor Afrikaans ten toon stel en probeer om die taal af te sluit, sê vir hom hy is alleen in die geveg.”

Die mense wat daarop aandring om ons te verdeel en vir ons te sê dat ons mekaar moet haat en vrees, is nie die Suid-Afrikaners wat ons land sal opbou na die plek wat ons almal weet dit kan wees nie. “Dit is die mense wat nie meer idees het nie. En hulle het in die verlede gewoon, want dit was hulle tyd. Hulle het geen plan of toekomsvisie nie.”

Maimane meen die rede hoekom die samelewing verdeel is, is weens die ekonomie wat in die moeilikheid is. Ál manier om die skeiding in ons samelewing te genees is deur welvaart vir almal te skep.

Die bou van ʼn inklusiewe ekonomie verg ook regstelling wat onregte uit die verlede betref. “Maar dit moet ʼn regstellingsmodel wees wat almal baat, en nie net ʼn handjievol uitgesoekte kaders wat hulself keer op keer verryk nie. Een manier om dit te doen is om aanvangskapitaal beskikbaar te stel – ʼn werk- en regsfonds – om belowende ondernemers te help om ʼn voet in die deur te kry.”

Maimane meen sodra die ekonomie weer op sy voete is, kan die lang proses begin om ons samelewing te hervorm. “Om gesinne op te bou wat sedert apartheid gebroke gebly het, en om die plaag van geslagsgebaseerde geweld uit te wis.”

Die herstel van die land se onderwysstelsel is volgens Maimane die belangrikste. “As ons die houvas van ons wrede verlede op jong mense wil verbreek, moet ons begin met ʼn gehalte-opleiding wat hulle voorberei op die toekoms.

“Dit is die Suid-Afrika wat ek wil bou. Dit is die erfenis wat ek vir my kinders wil hê. Laat ons hierdie dag vier, laat ons mekaar respekteer en van mekaar leer, en laat ons staan soos ʼn verenigde Suid-Afrika, gebind deur ʼn gedeelde toekoms.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

sweis ·

Ek sien nie sy party baklei vir gelyke regte vir almal nie ,en die grootste grap is n groot groep is wit mense wat teen gediskrimineer word en met wetgewing onderhou word ,dit sê nogal baie van n DA ondersteuner.

Heinrich ·

Ag nee wat Johan, lyk my nie jy het die hele artikel gelees nie.
Smaak my Ramaphose se skrywers het hierdie toespraak vir hom geskryf. Ons weet almal dat wanneer hy praat van ‘n “inklusiewe” ekonomie dat dit beteken dat swart mense in die ekonomie iningedwing word op grond van velkleur en nie effektiwiteit nie, dat blanke mense doelbewus daaruit gehou word. Maimane het elke moontlike staatsdepartement as voorbeeld dat hierdie benadering nie werk nie en dat alles uitmekaar uit val, maar hierdie “inklusiwiteit” moet ten alle koste voorgestaan word. Dis mos ANC denke daardie.
En dan nog die “regstelling van onregte uit die verlede” retoriek wat so perfek uit die ANC, EFF en BLF se handboek kom. Nonsens. In 25 jaar kon julle nie bewys dat julle ‘n beter land vir almal kon skep nie. En in daai proses maak julle baie meer onregte huidiglik maar word maar net deur die linkses geïgnoreer.
Gelyke geleenthede vir vandag se uitdagings – ja. ANC regstellingsretoriek – nee.

Julius ·

En daar kry apartheid weer die skuld vir hulle mislukkings.

Jaco ·

Die enigste verskil tussen die DA en ANC behalwe die naam is dat die DA implimenteer ANC beleide beter as wat die ANC self kan, verder is hulle een en dieselfde.

aj ·

? help my reg!

ween = huil (wenende party = huilende party)

wen = wen (wennende party)

Een ‘n’ maak ‘n wêreldse verskil aan die FV+….

ha … ha …

Adam ·

Ek sou graag wou weet hoekom gesinne gebroke gebly het 25 jaar na apartheid en hoekom geslagsgebaseerde geweld nog ‘n plaag is. Mooi woorde van Maimane, maar ongelukkig is die antwoord op die bogemelde twee vrae nie so mooi nie. Die rede is bloot dat sommige van ons landsburgers se morele weefsel totaal en al verrot is.

aj ·

Die woorde maak sin … maar die spreker het geen geloofwaardigheid!

Bring Tony Leon of Helen Zille terug as DA leier … of “gaan onder”!

KrokodilBotha ·

Laaste paar weke is die ANC lite baie in die nuus. Desperasie vir hulle mislukkings. Bodemlose put met n klein huisie , en enkel deur bo op. Julle een Suid Afrika is n droom.

Maljan ·

So n bek moet jêm kry. Maar….. Maar hoekom onthou ek n lang klip en n muur om agter weg te kruip elke keer as ek ou Musi sien?

Judge Dredd ·

Beter tesame?

Die bouers sal beter af wees as hul van die vernietigers skei.

Tesame is net die vernietigers wat teer op die bouers beter af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.