‘Ons is nie kwaad nie, kom huis toe’, pleit ma by vermiste tiener

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

“Ek wil net hê hy moet weet ek is nie kwaad nie. Ek wil hom help.”

Só het ʼn bekommerde Charlene Stander Woensdag aan Maroela Media gesê nadat haar tienerseun, Martin (16), Dinsdagoggend spoorloos verdwyn het.

Martin, ook bekend as “Leo”, is ʼn leerder aan Hoërskool Die Anker in Brakpan.

Stander sê sy en haar man, Riaan, het Martin Maandagaand oor sy swak skoolrapport aangespreek. Sy het gevolglik ook sy selfoon van hom weggeneem.

Martin het ʼn paar uur later by sy kamervenster uitgesluip en oor die muur gespring.

Stander sê sy het ongeveer 01:45 wakker geword toe Martin hul kamerdeur oopmaak sodat die huishond kon ingaan.

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

Sy vermoed egter dat hy sy selfoon wou kry, maar dit gelos het toe sy wakker word.

“Veiligheidskameras van die mense wat oorkant ons woon, dui aan dat Martin omstreeks 02:00 by die bure langs ons se erf uitgegaan het.

“Ons het geen idee waar hy kan wees nie. Hy is nie street wise nie en weet niks van straatlewe af nie.”

Stander sê hulle was ook by die vulstasie net agter hul huis, waar hulle meegedeel is dat Martin so 02:10 daar was om ʼn Monster-energiedrankie te koop met die R100 wat hy by sy pa gevat het.

Hy het glo ook vir die petroljoggies gevra of hulle ʼn Uber van hul selfone af na Springs kan bestel, maar hulle het gesê hulle kan hom nie help nie.

“Ons ken nie eintlik iemand in Springs nie en het ook nie familie daar nie.

“Ek dink in elk geval nie hy sou regkom met ʼn Uber nie, want hy nie genoeg geld by hom nie. Ek is sterk oortuig hy is te voet.”

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

Stander sê dis moeilik om met sekerheid te sê of Martin dalk aan depressie ly en of hy net ontsteld was.

“Hy kommunikeer glad nie. Hy het wat ek noem ʼn poker face. Wanneer ek hom vra, sê hy net altyd ‘alles is oukei’.

“Ek wil hê hy moet weet ek is nie kwaad nie. Ek wil hom help. Ons is lief vir hom en is bekommerd oor hom. Hy moet huis toe kom sodat ons hom kan help.”

Martin is intussen by die polisie as vermis aangemeld en verskeie organisasies wat met die opsporing van vermiste persone help, het ʼn kennisgewing met inligting van Martin op sosiale media gedeel.

Hy het ten tyde van sy verdwyning ʼn swart T-hemp met wit grafika op aangehad. Martin is 1,85 m lank, met bruin oë en blonde hare. Hy weeg sowat 75 kg.

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

Enigiemand met meer inligting oor waar Martin moontlik kan wees, kan die Brakpan-polisie by 011 744 4940 skakel. Shanley Maree, van die organisasie SA Search and Rescue, kan ook by 074 402 7542 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Ai tog, ek hoop regtig dat hy veilig is en dat hulle hom opspoor. Kinders besef nie hoe gevaarlik dit deesdae is om sulke dinge te doen nie, veral in die oggendure.

miavos

My hart breek vir hom. Om ‘n tiener te wees in vandag se tye kan nie maklik wees nie. Daar is so ‘n yslike gaping tussen die ouers se lewens en tieners s’n. Ek wil nie ‘n ouer in vandag se tye van sosiale media wees nie.

Misky

Bravo vir die ouers en die ware stand van sake en omstandighede deel en mens weet wat aangaan en werklik kan help en weet waarvoor om uit te kyk asook vriende en hul ouers. Hoop en bid hy keer vinnig en veilig terug huis toe.

Bokkiebek

Liewe Vader, ons kinders is onder SO VEEL druk, van alle kante…hulle is NET kinders, maar die wereld is mal en ons kinders lei daaronder. Ek bid dat die Here jou hand sal vat en huistoe lei, jou ouers is mal van bekommernis. Ek is amper deur so iets, en ek was van my kop af. Ek het in ‘n ander Era groot geword, dit is nie meer soos toe ons kinders was nie. Daar is so baie gevare daar buite, even as jou kind net winkel toe gaan…Daar is geweldige meer invloed (sosiale media) wat ons kinders aanspoor om… Lees meer »

Roebs

Ek hoop jy is veilig en weet jou ouers gee vir jou om. Weet hoe dit voel alles en almal op jou is, haal asem en bel jou ouers dat hulle jou kom haal of gaan soek hulp by iemand wat jou kan help. Sterkte aan almal hoop julle vind hom en kry ‘n weg om mekaar te help.