‘Ons is nie kwaad nie, kom huis toe’, pleit ma by vermiste tiener

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

“Ek wil net hê hy moet weet ek is nie kwaad nie. Ek wil hom help.”

Só het ʼn bekommerde Charlene Stander Woensdag aan Maroela Media gesê nadat haar tienerseun, Martin (16), Dinsdagoggend spoorloos verdwyn het.

Martin, ook bekend as “Leo”, is ʼn leerder aan Hoërskool Die Anker in Brakpan.

Stander sê sy en haar man, Riaan, het Martin Maandagaand oor sy swak skoolrapport aangespreek. Sy het gevolglik ook sy selfoon van hom weggeneem.

Martin het ʼn paar uur later by sy kamervenster uitgesluip en oor die muur gespring.

Stander sê sy het ongeveer 01:45 wakker geword toe Martin hul kamerdeur oopmaak sodat die huishond kon ingaan.

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

Sy vermoed egter dat hy sy selfoon wou kry, maar dit gelos het toe sy wakker word.

“Veiligheidskameras van die mense wat oorkant ons woon, dui aan dat Martin omstreeks 02:00 by die bure langs ons se erf uitgegaan het.

“Ons het geen idee waar hy kan wees nie. Hy is nie street wise nie en weet niks van straatlewe af nie.”

Stander sê hulle was ook by die vulstasie net agter hul huis, waar hulle meegedeel is dat Martin so 02:10 daar was om ʼn Monster-energiedrankie te koop met die R100 wat hy by sy pa gevat het.

Hy het glo ook vir die petroljoggies gevra of hulle ʼn Uber van hul selfone af na Springs kan bestel, maar hulle het gesê hulle kan hom nie help nie.

“Ons ken nie eintlik iemand in Springs nie en het ook nie familie daar nie.

“Ek dink in elk geval nie hy sou regkom met ʼn Uber nie, want hy nie genoeg geld by hom nie. Ek is sterk oortuig hy is te voet.”

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

Stander sê dis moeilik om met sekerheid te sê of Martin dalk aan depressie ly en of hy net ontsteld was.

“Hy kommunikeer glad nie. Hy het wat ek noem ʼn poker face. Wanneer ek hom vra, sê hy net altyd ‘alles is oukei’.

“Ek wil hê hy moet weet ek is nie kwaad nie. Ek wil hom help. Ons is lief vir hom en is bekommerd oor hom. Hy moet huis toe kom sodat ons hom kan help.”

Martin is intussen by die polisie as vermis aangemeld en verskeie organisasies wat met die opsporing van vermiste persone help, het ʼn kennisgewing met inligting van Martin op sosiale media gedeel.

Hy het ten tyde van sy verdwyning ʼn swart T-hemp met wit grafika op aangehad. Martin is 1,85 m lank, met bruin oë en blonde hare. Hy weeg sowat 75 kg.

Martin “Leo” Stander van Brakpan word sedert Dinsdagoggend vermis. (Foto: Verskaf)

Enigiemand met meer inligting oor waar Martin moontlik kan wees, kan die Brakpan-polisie by 011 744 4940 skakel. Shanley Maree, van die organisasie SA Search and Rescue, kan ook by 074 402 7542 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Di ·

Ai tog, ek hoop regtig dat hy veilig is en dat hulle hom opspoor. Kinders besef nie hoe gevaarlik dit deesdae is om sulke dinge te doen nie, veral in die oggendure.

miavos ·

My hart breek vir hom. Om ‘n tiener te wees in vandag se tye kan nie maklik wees nie. Daar is so ‘n yslike gaping tussen die ouers se lewens en tieners s’n. Ek wil nie ‘n ouer in vandag se tye van sosiale media wees nie.

BOKKIEBEK ·

Jy is SO reg, dit is regtig uiters moeilik, jy moet probeer ouer wees, maar ook weet hoe om hulle nie weg te dryf nie…Dit is ligjare weg van toe ek groot geword het, en ons wil so graag verwys na toe ons kinders was, maar dis ‘n ander wereld vandag.

Chantel ·

Ek beaam dit Bokkiebek, en baie ouermense besef nie dat tye verander en ons as ouers van jong tieners moet ook aanpas, ONGELUKKIG is daar baie meer druk om vandag se kinders en daarom moet jy as ouer ook aanpas.

BOKKIEBEK ·

Ek kan nie meer met jou saam stem nie Chantel… Ek is wel 50+ maar het ‘n 16jarige tiener…is ‘n enkel ouer, en ek moet elke dag op my kniee bly om seker te maak my kind word nie deur die wereld en sy boosheid ingeluk nie..

Misky ·

Bravo vir die ouers en die ware stand van sake en omstandighede deel en mens weet wat aangaan en werklik kan help en weet waarvoor om uit te kyk asook vriende en hul ouers. Hoop en bid hy keer vinnig en veilig terug huis toe.

Perdeby ·

Jy is 100% reg. Ander steek net hulle koppe in die sand as die kind gevind word, en wil nie regtig se wat gebeur het nie. Vandag se kinders het soveel druk by die skool en van die ouers te presteer, dat hulle later handdoek ingooi.

BOKKIEBEK ·

Liewe Vader, ons kinders is onder SO VEEL druk, van alle kante…hulle is NET kinders, maar die wereld is mal en ons kinders lei daaronder. Ek bid dat die Here jou hand sal vat en huistoe lei, jou ouers is mal van bekommernis. Ek is amper deur so iets, en ek was van my kop af. Ek het in ‘n ander Era groot geword, dit is nie meer soos toe ons kinders was nie. Daar is so baie gevare daar buite, even as jou kind net winkel toe gaan…Daar is geweldige meer invloed (sosiale media) wat ons kinders aanspoor om die pad byster te raak.

Roebs ·

Ek hoop jy is veilig en weet jou ouers gee vir jou om. Weet hoe dit voel alles en almal op jou is, haal asem en bel jou ouers dat hulle jou kom haal of gaan soek hulp by iemand wat jou kan help. Sterkte aan almal hoop julle vind hom en kry ‘n weg om mekaar te help.

Samuel ·

Hy het dan nie ‘n foon nie? Hoe kan hy bel en hy lees nie hierdie berig nie. Dit ís tragies dat hy net so vermis geraak het.

Anel ·

Ek dink om ‘n kind te wees en soveel te meer ‘n tiener, die afgelope 2 jaar, moet jy hare op jou tande hê. En veral hierdie tyd van die jaar wat eksamen tyd is. Ons kan net bid, vir almal wat onder soveel druk is. Niemand weet regtig wat in ‘n ander se lewe aan gaan nie. So, niemand kan oordeel nie. Hierdie seun het dalk net iemand nodig om vir hom te sê dat hy nie alleen is en dat hy nie die enigste is wat voel soos hy voel nie. My hart gaan ook uit na elke ouer wat jong kinders het. Koester hulle. Hulle is ongelooflik kosbaar. Baie sterkte aan hierdie gesin. Hoop julle seun is spoedig veilig terug in julle arms.

Jason ·

Laai eerder n Tracking app op jou kinders se foon sodat jy hulle kan opspoor. Daai foon is jou kind se lewe en kan ook hulle lewe red. Moet nooit net jou kind se foon weg vat nie.

Vlooitjie ·

My hart breek vir die ouers en die seun! Ek kan my nie indink hoe beide kante die vrees, bekommernis en seer hanteer nie. Ek wens dit vir niemand toe nie. My gebede is dat Leo veilig terug gevind sal word en dat die gesin mekaar weer sal vind en versoen.

Casper ·

Op skool was ek nie die skerpste potlood in die pakkie nie maar my pa het vir my gesê al gaan my kinders saam met my skool klaar gaan ek klaar maak.Hoe ek dit gaan doen was my probleem.Benewens my skoolwerk moes ek;
1 Melk want ons het ons eie paar koeie gehad
2 Ek moes kos kook want my ma het gewerk.
3 Ek was in ‘n landbouskool so ek moes op die plaas ook gaan werk.
4 Eiers uithaal en hoenders versorg.
5 Varke kos gee.
6 Melk in kanne gooi vir NCD maar vandag kyk ek terug,matriek geslaag.In 41 jaar het ek twee keer van beroep verander.Ek is vandag met pension maar het nooit eers daaraan gedink om weg te loop nie.
Wat is vandag anders.

BOKKIEBEK ·

Ek is bly dit het vir jou goed uitgewerk – ek neem aan jy is in die 60-70″s gebore. Wees bly jy is nie vandag ‘n tiener nie.

Porseleintjie ·

Ek stem saam Casper. Deursettingvermoe is iets waaroor weinig kinders vandag beskik. Die watterol word te vinnig uitgeruk. Grootste probleem vandag is dat die meerderheid kinders sonder die Here groot word. Lees dis Woord ouers en doen wat GOD se. Hy maak nie fout nie.

Keelvol ·

Deesdae lees ons so baie van kinders wat wegloop om net later weer by iemand se huis gevind word. Bietjie tyd dat die kinders verantwoordelik gehou word vir die hulpbronne wat ingespan moet word op soek na hulle.

Shakespeare ·

Naas ‘n kind se dood is dit die ergste ding wat ‘n ouer kan oorkom. Ek sal van my kop af raak. Sterkte julle !!!

Zelda ·

Dis vir almal betrokke baie hartseer (en spanningsvol). Ek hoop hy is veilig en dat hy spoedig sal terugkeer huistoe.

Waarnemer ·

Ek vertrou die ouers sal ons hier op hoogte hou of die kind veilig terug is al dan nie.

Toy ·

Ai seun doen die regte ding en gaan huistoe, weet net jou ouers is baie lief vir jou en gee om vir jou. Moenie alleen voel nie daar is baie ander kinders wat ook sukkel met huiswerk, dit is nie die moeite werd om weg te loop nie, dink aan jou ouers asb en jou veiligheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.