‘Ons is op ons eie’ sê ma ná beweerde molestering

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Ma van Fochville in Gauteng is moedeloos met die regstelsel nadat ʼn landdros vandeesweek gedreig het om ʼn saak van die rol te skrap omdat die ondersoek na haar tienjarige dogtertjie se beweerde molestering steeds nie afgehandel is nie.

Die vrou sê sy het in Oktober verlede jaar video’s op haar man se foon ontdek waarin gesien kan word hoe hy met klein dogtertjies se geslagsdele peuter. Sy het hom daaroor gekonfronteer en hy het erken dat hy al kinders gemolesteer het. Dit het volgens hom nie weer gebeur nie, maar die ma was onrustig.

“Ek het wéér deur sy foon gegaan en ʼn video gesien waarin ek een van my dogtertjies se broekie herken het,” het sy vertel. Die man is haar dogtertjies se stiefpa.

Die vrou sê nie nét het sy die broekie herken nie, sy kon ook haar man se hand, met sy trouring aan, en haar dogtertjie se gesiggie op die foto’s en video’s sien.

Sy het die polisie summier ontbied en ʼn klag aanhangig gemaak. “Ek het hom dadelik laat toesluit en daardie aand het hy ʼn skuldbekentenis in my huis, voor ʼn polisiebeampte, gedoen. Hy het erken hy het haar gemolesteer.

“By die polisiekantoor het hy my om verskoning gevra en ook vir my dogtertjie gesê hy is jammer en hy hoop sy kan hom eendag vergewe.”

Die polisie het beslag gelê op die man én die ma se foon, asook op die broekie wat in die video’s en op die foto’s gesien kan word.

Terug by die huis het die vrou besluit om ook haar man se skootrekenaar te deursoek en daar het sy op nóg video’s van die beweerde molestering afgekom. Sy het die ondersoekbeampte daaroor ingelig en ná vele pleidooie het hy dae later opgedaag om op die rekenaar beslag te lê, sê sy.

(Foto ter illustrasie: Andras Vas)

Die ondersoekbeampte het ook gesê omdat haar dogtertjie niks van die beweerde molestering kan onthou nie, gaan hy nie ʼn verklaring by haar afneem nie.

Die vrou sê haar man het erken dat hy die dogtertjie gemolesteer het terwyl sy slaap en dat sy glo nooit van die gebeure geweet het voordat hy in die polisiestasie daarvoor om verskoning gevra het nie.

Die kind het ook ʼn agtjarige sussie en volgens die vrou ontken hulle stiefpa dat hy ooit aan haar geraak het. Die ma sê sy is van plan om so gou moontlik van haar man te skei.

“Ons is in April verlede jaar getroud. Hy was só goed vir my en my meisiekinders. Hy het ons op die hande gedra en vir ons gesorg. Nie een van ons het dit van hom verwag nie. Ek sukkel nou nog om dit te verwerk.

“Hy is weg uit my huis uit. Sy pa het sy klere kom haal en iemand moet nog sy meubels kom kry.”

Tydens sy borgtogaansoek in die Fochville-landdroshof het die man aangevoer hy wil voortgaan om vir sy vrou en die kinders te sorg en dat hy daarom vrygelaat moet word. Hy is inderdaad ook op borgtog van R1 500 vrygelaat, sê sy.

Maar nou, sê dié ma moedeloos, is hulle oënskynlik aan die genade van die regstelsel oorgelaat. Die saak teen haar man is sedert verlede jaar glo reeds ses keer uitgestel. Tydens Maandag se hofverskyning het die landdros gedreig om die saak van die rol te skrap as daar nie teen die volgende hofdatum, op 31 Maart, enige vordering is nie. Sy sê die saak is oor verskeie redes uitgestel – enigiets van siekte tot verdere ondersoek of omdat sommige betrokkenes met verlof is.

“Ons is op ons eie,” sê die kinders se ouma. “Hoeveel kinders moet hierdeur gaan? ʼn Mens kan dit mos nie net los nie.

“Kindermolestering … dit voel of dit vir niemand ʼn prioriteit is nie. Waar is die geregtigheid? As ʼn mens net aangaan en niks doen nie, is dit asof jy vir die kinders sê dis maar hoe hulle lewe moet wees,” sê sy.

Die ma sê haar dogtertjie is kwaad vir haar stiefpa, maar probeer om glad nie oor die gebeure te dink nie. “Sy was geweldig emosioneel en het baie gehuil, maar het gesê sy wil nie daaroor praat nie. Sy vra soms wat het in die hof gebeur, maar ek het nie antwoorde nie.”

  • Maroela Media het herhaaldelik by die Nasionale Vervolgingsgesag en Gautengse polisie oor die saak navraag gedoen, maar het steeds geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

katerinadiekat ·

Enkel moeders en weduwees met jong kinders moet tog so versigtig wees met wie hulle in verhoudings en huwelike tree. Hoeveel duisende kinders is nie al in die afgelope dekades dood mishandel en/ of gemolesteer of verkrag deur stiefpa’s en kerels nie!

Ek was self getroud met n man wat my dogtertjie gemolesteer het toe sy 3 jaar oud was. Ek het hom onmiddelik geskei en n saak by die polisie gemaak, waarvan niks gekom het nie. Ek het weg getrek met ny kind na n ander provinsie. Hy het van die dag wat ek hom gelos het nooit weer kans gehad om selfs net n oog op haar te le of n woord met haar te praat nie, daarvan het ek seker gemaak. I hope he is dead, and if he is, i hope it hurt like hell. Sy is vandag 28 en self n ma van 2 kinders. Gelukkig onthou sy niks van daardie vark se varklikheid nie.

Ja so mens moet maar altyd versigtig wees. If someone seems too good to be true, then he probably is not that good at all.

marius ·

Onskuldige kinders word verguis en diegene wat hulle moet beskerm kyk weg ? Gemors!

Belinda ·

Ek bid vir n eerbare Polisie beampte. Stuk gemors op 1500 borg uit, nadat hy erken het en al die bewyse daar is.

Liesbet ·

Borgtog !!! Vir ‘n rede wat hy aanvoer hy vir sy vrou en kinders moet sorg !! Is hulle dan nie die geleentheid gegun om dit te staaf nie, Hier is ‘n slang in die gras of die regstelsel het nou totaal alle kredietwaardigheid verloor …..

twaalfboor ·

Regtig mnr die landros? Die saak van die rol skrap omdat die staat sloer met die ondersoek. Waar het jy jou regs kwalifikasies gekry?

Anton J ·

Gaan Afriforum toe en gaan vra hulp by Adv Gerrie Nel se kantoor. Sulke pedofiele sal nie end kry nie. Indien hulle weg kom by die gereg te maklik soos word van die rol geskrap, dink hulle, kyk hoe maklik het hulle van dit weg gekom. Hulle raak net wreder en soek hulle volgende prooi. Vra my, ek as ouer was ook van so n pedofiel n slag offer maar op die einde is hy gebêre na soveel hofsake.

Frieda ·

Dit maak my sooooo moedeloos om te lees!!! Gaan dit nooit regkom in SA?

Marcello ·

Dit is nie eers vir snaaks dat die saak so verloop nie, my dogter sukkel nou 3 jaar om onderhoud uit haar kind se Pa te kry, maar elke keer sê die beampte by die onderhoudshof in George net: hulle kan hom nie opspoor nie. Die Ma het al menigte kere vir hulle sy adres en tel. gegee, maar niks kom daarvan nie. ‘n Dame van die onderhoudshof het nou my dogter geskakel, en haar meegedeel dat hulle die saak maar nou gaan toemaak. Onafgehandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.