‘Ons is skuldig,’ erken SAPD ná 10-jarige doodgeskiet is

Die Speelman-gesin (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse polisiediens het Donderdag in die Port Elizabeth-hooggeregshof skuld aanvaar vir die dood van die tienjarige Maricha Speelman wat in November 2013 in Uitenhage tydens onluste doodgeskiet is.

Speelman was in 2013 saam met haar sussie op pad huis toe nadat hulle by ʼn winkel was toe sy deur ʼn polisieman in die kop geskiet is.

Die polisie het kort ná haar dood aangevoer dat hulle net rubberkoeëls gebruik het, ten spyte daarvan dat ʼn nadoodse ondersoek getoon het dat sy met die skerp ammunisie van ʼn pistool doodgeskiet is.

Die SAPD se regspan het Donderdag erken dit is nié waar dat die polisie se pistole nie gelaai was soos hulle vroeër in die hof aangevoer het nie, en dat daar onwettig opgetree is wat uiteindelik Speelman se dood veroorsaak het.

Wilma Espag van der Bank, Bonakele en Maria Speelman se prokureur, het gesê die ouers se siviele eis teen die Suid-Afrikaanse polisiediens kan dus nou ongehinderd voortgaan.

Leone Hart, die SAPD se prokureur, het gesê die polisie moet nou verantwoordbaar gehou word vir hul dade.

“Ons het die meriete van ons saak verloor deur te erken dat die pistole gelaai was, daarom kan ons nie meer daardie aspek van die saak verdedig nie. Op dié punt wil ons net uitstel vir ons kliënt vra,” het Hart gesê.

Van der Bank en haar regspan het ʼn eis van R5 miljoen teen die polisie ingedien vir onder meer trauma, depressie en ʼn verlies weens uitgawes.

“Tot vandag toe weet ek nie hoe my kind na die hospitaal geneem is en wie die dokter was nie. Sy was nie met waardigheid behandel nie. Hulle het haar soos ʼn dier hanteer,” het Bonakele buite die hof aan die media vertel.

Die Speelmans voer aan die polisie het die saak probeer verdoesel toe hulle besef het dat die ouers ʼn regspan aangestel het.

“Dit is die eerste keer dat hulle vandag erken hulle het iets verkeerds gedoen. Vir jare het die polisie gemaak asof hulle iets aan die saak doen, maar geen stappe is gedoen nie, en niks het gebeur nie. Dit maak my ongelooflik hartseer wanneer ek daaraan dink of daaroor praat,” het Maria gesê. “Ek is bang die polisie gaan my intimideer weens die saak. Geen geld sal my kind terugbring nie, en ek sal enigiets doen om haar terug te kry, maar ongelukkig kan ek nie.”

Die Speelmans het gesê hulle is positief daaroor dat reg en geregtigheid sal geskied, en dat hul saak in goeie hande is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael ·

Die meerderheid polisie lede is nie bevoeg om wapens te hanteer nie dan word hulle nog sonder toesig losgelaat in die publiek om die publiek te beskerm ….weereens lagwekkend ???

Piet ·

Jammer dat n kind moes betaal vir wetteloosheid deur n groep mense. Dink jouself ook in die SAP se situasie in en hul moet hulself verdedig en eiendom probeer beskerm, al is hulle “outnumbered” en bewapen met rubber koels. Hou kinders veilig in die huis en weg van onlus situasies, te veel al gesien hoe kinders en omstanders soms die situasie vererger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.