‘Ons kán misdaad bekamp, maar ons moet dit sáám doen’

Siphiwe Kunene, SAUAC-leier en Ian Cameron, AfriForum-hoof van gemeenskapsveiligheid, saam met SAUAC-lede (Foto: Verskaf)

Misdaad in Suid-Afrika raak élke burger sonder uitsondering, glo SA United Against Crime (SAUAC), en daarom het dié gemeenskapsveiligheidsorganisasie Vrydag in Soweto met die burgerregte-organisasie AfriForum vergader om idees uit te ruil om misdaad ʼn nekslag toe te dien.

Lede van albei organisasies het in Thokoza Park bymekaargekom om onder meer gesprekke te voer oor plaasmoorde, grondgrype en die hoë vlakke van misdaad in die land.

Siphiwe Kunene, SAUAC-leier, vertel aan Maroela Media dié organisasie het einde verlede jaar na AfriForum uitgereik om meer betrokke te raak by die burgerregte-organisasie se misdaadbekamping met ʼn spesifieke fokus op plaasaanvalle en gemeenskapspatrollie.

“Ons organisasie is maar nog jonk, en ons het gedink as ʼn jong organisasie het ons baie om te leer by ʼn organisasie soos AfriForum wat al vir jare lank veg om misdaad te bekamp,” sê hy. “Die enigste manier waarop ons finaal ʼn einde aan misdaad gaan maak, is deur saam te werk. Ons almal – swart, bruin, wit, Indiër – ly ewe erg onder misdaad. Ons kán misdaad bekamp, maar ons moet dit sáám doen.”

Kunene sê die organisasie het Vrydag opleiding by AfriForum gekry oor onder meer gemeenskapspatrollies. Hoewel SAUAC in dié stadium net in die Soweto-omgewing werk, beoog die organisasie om volgende maand sy gemeenskapspatrollies na groter dele van Gauteng, met ʼn spesifieke fokus op plase en landelike gebiede, uit te brei.

SAUAC voer tans ʼn stryd teen erge dwelmprobleme en gewapende rooftogte in sy onmiddellike omgewing.

“Ons het een doel voor oë: om misdaad te beveg. Ons besef dis die polisie se werk, maar meeste Suid-Afrikaners het nie meer vertroue in die polisiediens nie. Daarom is dit belangrik dat ons self begin verseker dat ons medelandsburgers veilig is.”

Een van SAUAC se plakkate (Foto: Verskaf)

Ian Cameron, AfriForum-hoof van gemeenskapsveiligheid, sê SAUAC het vroeër aangedui dat hy veral wil fokus op projekte wat betrekking het op plaasaanvalle. Lede van SAUAC beplan om direk betrokke te raak by plaasaanvalslagoffers en selfs hulp op die lande aan te bied wanneer ʼn boer nie self daartoe in staat is nie.

“Dit was ʼn lekker ontmoeting en ons het ʼn goeie gesprek gehad,” sê Cameron. “Lede van albei organisasies het idees uitgeruil oor hoe ons misdaad kan bekamp in ons onderskeie gemeenskappe en uiteindelik ook in die land. Ons kan baie by hulle leer, en hulle kon by ons ook leer.”

Cameron sê die burgerregte-organisasie het SAUAC-lede ook opleiding gegee ten opsigte van buurtpatrollies.

“Ons het veral gefokus op hoe ons tans patrollies doen en gepraat oor wat ʼn mens mag en nié mag doen as jy patrolleer nie. SAUAC het reeds sowat 300 patrolleerders in sy area – en elkeen wil die patrollies opskerp om ʼn meer blywende impak te hê,” sê hy.

Cameron sê hy is ook beïndruk deur die sterk uitsprake wat SAUAC-lede teen onder meer plaasaanvalle en grondonteiening sonder vergoeding gemaak het. “Sommige van die lede het selfs plakkate gemaak wat harde uitsprake teen misdade soos plaasaanvalle en grondgrype gemaak het. En dís waarna ons streef – dat ons as Suid-Afrikaners saam werk om misdaad te bekamp.”

Die burgerregte-organisasie sal na verwagting later vanjaar weer saam met SAUAC werk sodra dié organisasie met plaaspatrollies in die Gauteng-omgewing begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Spike ·

Geluk julle, wens julle was landsleiers. Mense wat rasioneel dink en nie vol haat is nie.

Von ·

Spike stem 100% saam met jou. Hierdie bring weer hoop in my hart. Dankie

Spike ·

Julle media mense moet hierdie positiewe inisiatief op die voorblaaie kry, maar ek is bevrees dit sal nie gebeur, want goeie nuus is mos nie nuus nie.

Hoofstroommedia ·

Hoofstroom media en die linkse superrykes wat daardie media beheer se doel is reeds om verdeeldheid te saai en die massas te onderdruk, daarom kan ons verwag om nie n woord daaroor te sien nie.

Adam ·

Wonderlike nuus!!! Beide organisasies kan op die gebied betekenisvolle bydraes maak. Bly weg uit die howe sover moontlik en spandeer eerder geld en tyd waar landsburgers se lewenskwaliteit verbeter kan word en wat hulle sal inspireer om ook deel te word van sulke inisiatiewe.

Yvonne Jamieson ·

Dit is wonderlik en moet gedoen word. Op so n manier sal ons almal saam iets bereik. Ons moet die politiek los want dit is alles korrup en liewers saam staan op so n manier om ons mense en ons pragtige land te red. Welgedaan julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.