‘Ons kind is terug,’ juig ma ná ontvoering

Alicia en Coenie Lamprecht by hul seun, Henco. (Foto: Facebook / Alicia Lamprecht)

Henco Lamprecht, die sewe maande oue babaseuntjie wat Maandag in Observatory in Kaapstad ontvoer is, is glo met karstoeltjie en al by ʼn bewegende motor in Maitland uitgegooi.

Hy is egter ongedeerd en aan sy ouers terugbesorg.

Alicia Lamprecht (25), Henco se ma, sê hulle is uiters dankbaar dat hulle hom terug het.

“Al wat saak maak, is dat hy oukei is.”

Lamprecht, van Brackenfell, was ongeveer 10:30 in die oprit van haar vriendin se huis om ʼn pakkie af te lewer toe haar wit Volkswagen Polo met Henco op die agterste sitplek gekaap is.

Die vriendin het ʼn sekerheidsmaatskappy ontbied en daar was ook ʼn opsporingstoestel in Lamprecht se motor.

Henco Lamprecht is veilig teruggevind. (Foto: Facebook)

Die motor is later teruggevind, maar Henco was weg.

Lamprecht het Maandag aan Maroela Media gesê die kaper het Henco in sy karstoeltjie, asook sy doekesak, langs die pad uitgegooi en aan ʼn vrou geskree “kyk na die baba”.

Sy het die polisie gekontak en verwittig dat sy ʼn baba by haar het.

“Toe ons by die polisiestasie aankom, het sy hom reeds warmer aangetrek en vir hom ʼn mussie opgesit. Sy het hom ook warm toegedraai.”

Lamprecht sê haar seuntjie was heel rustig toe sy en haar man, Coenie, by hom aankom – salig onbewus van die angs wat hulle as ouers in daardie oomblik ervaar het.

“Ons sal die gemeenskap, plaaslike veiligheidstrukture en -ondernemings ewig dankbaar wees vir al hulle hulp. Die Woodstock-polisiestasie was ook fenomenaal. Hulle het almal saam met ons gery en gejaag op soek na ons kind.

“Die mense was Cartrack was ook ongelooflik behulpsaam.”

Lamprecht sê Henco was reeds vir mediese evaluering en is fisiek en emosioneel ongedeerd.

“Die voertuig is geplunder en gestroop, maar ek worry nie regtig oor die kar nie.

Coenie en Alicia Lamprecht is Maandag met hul seun, Henco, herenig. (Foto: Verskaf)

“Die belangrikste is my kind en ons is so dankbaar hy is oukei.”

Lamprecht sê hulle is geheel en al uitgeput en dat hulle nou net tyd saam met hulle baba wil deurbring.

“Die trane kom en gaan maar en ons probeer nog om alles te verwerk.”

Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê dat die polisie reeds ʼn verdagte geïdentifiseer het, maar dat hy nog nie formeel aangekla is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Dit is net Genade van Bo dat Henco veilig en ongedeerd gevind is. So verskriklik dankbaar jul is baie hartseer gespaar. Mag julle krag vind om die trauma te verwerk. Glo jul gaan nog baie berading nodig hê vir julself. Volkswagen Polo’s is baie gewild onder kapers. Bly maar weg van dit in die toekoms.

Marcello ·

Dit is nie net Volwagens nie, maar ook Toyota, dit is opvallend as ‘n mens ‘n program kyk op die TV, word daar altyd ‘n Toyota gebruik as wegkom motor…..

Ian ·

So so bly vir hierdie jong ouers. Dankie tog die skurk het geen leed aan die kind gedoen nie. Hoop hulle sien hom reg in die tronk.

Cherokee ·

En ek dink weer die die feit dat hy die kind ongedeerd aan ‘n bystander besorg het, in sy guns behoort te tel. Met karstoeltjie en al by ‘n bewegende motor uitgegooi? En die baba is nie beseer nie? Moelik om te glo. Waarskynlik nie kompleet stil gehou nie, en die karstoeltjie met die kind en doeksak(!) op die grond neergesit en verder gery.

Rooikopheks ·

Hoe gooi jy ń baba by ń motor uit, al was hy in sy stoeltjie? Uiters gewetenloos! Dis net soos moord, sulke mense hoort nie eers in die tronk nie, die doodstraf is wat hy verdien.

Irene ·

Sjoe dis erge trauma wat julke ervaar het. Ek is jammer dit het gebeur. Maar ek dank die Vader vir sy engele wat Hy gestuur het om julle baba te versorg. Mag hier oortreders gevang en bitterlik swaar gestraf word.

BOKKIEBEK ·

Dankie Here dat U Henco beskerm het met U bloed… Alle eer kom U toe..

SomeOne ·

baie bly vir jul part, wys jou net dat ons ‘n genadidge God het

al word die misdadigers vasgetrek, gaan hul baie min oorkom, dis mos wettig om sulke dinge te doen an
wittes

PersHeks ·

What is the world coming to??? Gooi ‘n baba soos ‘n stuk lap by ‘n voertuig uit!!!

Phillip ·

‘n Mens waag jou lewe aan die hand van misdadigers as jy met ‘n Volkswagen Polo rondry :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.