‘Ons kinders word geslag, een vrou elke 12 minute in SA verkrag’

(Argieffoto: Unsplash)

Die aankondiging van die derde kwartaal se misdaadsyfers deur die minister van polisie, Bheki Cele, Vrydag, het dit baie duidelik gemaak dat Suid-Afrikaners deur die regering in die steek gelaat word in hul oorlog teen misdaad.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê SA’ners is aan hul eie genade oorgelaat wat veiligheid en sekuriteit betref.

“Terwyl die minister van polisie, Bheki Cele, die ‘hoë gehalte diens wat die polisie aan alle mense van Suid-Afrika lewer’ as ‘van die beste ter wêreld’ beskryf, het die misdaadstatistieke van die derde kwartaal aan die lig gebring dat daar ʼn vrou elke 12 minute in Suid-Afrika verkrag word.

“Daar word elke dag 86 mense vermoor en 88 gevalle van poging tot moord word aangemeld. Elke dag word 595 mense aangerand met die doel om ernstig te beseer. Tog is slegs 622 moordenaars en 609 veroordeeldes vir seksuele misdade vir die hele kwartaal gevonnis,” sê Cameron.

Hy sê Cele het gespog dat die historiese DNS-agterstand van 251 000 in 2021‑’22, nou op datum is.

“Ons weet egter dat dit onwaar is.

“Die vierjarige Mia Botha het op 25 September 2022 – meer as 500 dae gelede – van ʼn speelgrond naby haar huis vermis geraak. Sy is ʼn dag later dood by Nederburg in die Paarl gevind. Geen inhegtenisnemings is al gedoen nie en die forensiese ondersoek is nog onvolledig.

“Ons kinders word ook geslag. In die afgelope jaar is 1 116 kinders vermoor en 1 501 kinders was slagoffers van poging tot moord. 25 196 kinders is ernstig aangerand,” sê Cameron.

Hy sê as die huidige moordkoersneiging voortduur, sal minstens 31 000 mense in die volgende 12 maande vermoor word.

“Die staat het beheer verloor. Gemeenskappe moet hulself wettiglik organiseer, mobiliseer, oplei en bewapen.”

Makashule Gana, hooforganiseerder van Rise Mzansi, sê die belangrikste verantwoordelikheid van enige regering is om mense veilig te hou, “en ons regering faal ons”.

“Die misdaadstatistieke dui daarop dat byna 8 000 mense in die afgelope drie maande vermoor is, met slegs 1 500 skuldigbevindings.”

Dit is ʼn skrikwekkende skuldigbevindingskoers van 19%. Die moordsyfer, teen huidige neigings, sal byna 10 000 meer gevalle van moord meebring in vergelyking met toe pres. Cyril Ramaphosa die eerste keer in 2018 verkies is, toe 21 022 gevalle van moord aangeteken is.

“Wat ook alle Suid-Afrikaners koue rillings behoort te gee, is dat die polisie meer as 15 000 gevalle van seksuele misdrywe aangeteken het, die oorgrote meerderheid van hierdie slagoffers is vroue.

“Pres. Ramaphosa en Bheki Cele, minister van polisie, moet op hierdie grondslag alleen verwyder word,” sê Gana.

Brett Herron, sekretaris-generaal en parlementslid van GOOD, sê egter ons moet eerder misdaadvoorkoming bespreek as die misdaadstatistieke.

“’n Aantal abnormale toestande in die Suid-Afrikaanse samelewing dra by tot die buitensporige misdaadsyfer, waaronder armoede en die relatief lae persentasie misdadigers wat skuldig bevind word vir hul misdade.

“Maar die twyfelagtige standaard van polisiëring en vervolging is nie ons grootste probleem nie; dit is die onderontwikkeling van ons gemeenskappe en mense. Die polisie het ʼn relatief klein rol om in misdaadvoorkoming te speel,” sê hy.

“Dit is die verantwoordelikheid van ander staatsdepartemente, van menslike nedersettings tot onderwys, tot maatskaplike ontwikkeling, om gemeenskappe te bevorder en veral die ontwikkeling van die jeug te verseker.

“Alhoewel dit goed is dat die minister van polisie gereeld misdaadstatistieke met die publiek deel, het die oefening nie ʼn direkte impak op misdaad wat aanspreeklikheid betref nie. Die bestuur van misdaad in Suid-Afrika vereis ʼn dringende nasionale gesprek,” sê Herron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis ·

Hierdie is baie slegte statistieke. n Mens sou dink daar is n oorlog aan die gang. Terwyl daar ander lande wel in oorloe gewikkel is, sterf ons hier in Siud Afrika met ons eie weergawe van genocide.

Bolandse Nooi ·

Wat verwag julle? Ek wil sover gaan as om te sê dat ons bevolking deesdae uit meer mense van Noord van die Limpopo- en Krokodilriviere bestaan as mense wat Suid daarvan gebore en getoë is. Suid-Afrika se grense lê oop … “grensbeamptes” kan vir so min as R500.00 omgekoop word om ‘maar die blinde oog te draai’ of mense lóóp eenvoudig net deur die riviere op areas waar die water min is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.