Ons moet nou saamstaan, sê president

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“Ek spreek julle vanaand toe met ʼn swaar hart. Oor die afgelope paar dae en nagte was daar dade van openbare geweld van só aard wat selde in die geskiedenis van ons demokrasie gesien word. Eiendom is gevandaliseer en verwoes; winkels is geplunder; wetsgehoorsame burgers is gedreig en geïntimideer; werkers was bang dat hulle nie sal kan terugkeer werk toe nie; mense het gesterf,” het pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand in ʼn regstreekse toespraak gesê in reaksie op onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng.

“Daar is heelwat families wat op hierdie oomblik treur. Ek dink aan die families van Nkosikhona Chiza, Ndumiso Shezi, Khaya Mkhize, Zethembe Ndwandwe, Lindani Bhengu en Lindokuhle Gumede in Gauteng. Ek dink ook aan die families van Bhekani Ndlovu, Themba Mthembu, Aphiwe Gama Cebo Dlamini in KwaZulu-Natal.”

Ramaphosa sê ons ken almal die hoë koste van dié geweld aan eiendom, mense se lewensbestaan en ondernemings, maar lewensverlies is die duurste prys.

“Talle Suid-Afrikaners is tans besig om die koste te bepaal aan hul lewensbestaan en eiendom, aan hul winkels en ondernemings, aan hul veiligheid en sekuriteit. Veel meer Suid-Afrikaners is angstig en bang.

“Dele van die land steier ná dae en nagte van openbare geweld, verwoesting van eiendom en plundery. Dit het begin toe vragmotors Saterdag in Mooirivier in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek is en is gevolg deur paaie wat in die noordelike dele van die provinsie versper is en winkels wat in Ethekwini en Pietermaritzburg geplunder is.

“Paaie in Gauteng is die afgelope twee dae ook versper, daar was plundery, skade aan eiendom en vragmotors is aan die brand gesteek,” het Ramaphosa bygevoeg.

Danksy wetstoepassers is 166 verdagtes reeds in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem en 323 verdagtes is in Gauteng in hegtenis geneem in verband met dié voorvalle.

“Die geweld duur egter in talle gebiede voort. Sommige beskryf die optrede as ʼn tipe politieke betoging. Dit is moontlik dat hierdie geweld sy wortel het in die uitlatings en aktiwiteite van individue wat ʼn politieke doelwit het, en ʼn uitdrukking is van frustrasie en woede, maar dit wat ons nou sien, is opportunistiese dade van kriminaliteit met groepe wat chaos aanhits bloot as ʼn dekmantel vir plundery en diefstal.

“Daar is geen grief of enige politieke saak wat die geweld en verwoesting kan regverdig wat ons in KwaZulu-Natal of Gauteng gesien het nie. Die slagoffers van die geweld wat nou ontvou – die werkers, die vragmotorbestuurders, die sake-eienaars, die ouers en families van diegene wat gesterf het – het niks verkeerd gedoen nie.

“Alhoewel hierdie opportunistiese dade van plundery dalk aangevuur word deur lyding en armoede, is dit die armes wat die swaarste getref sal word deur die verwoesting. Winkels is geplunder en infrastruktuur is verwoes. Dit beteken dat siek mense nie medikasie by apteke kan kry nie; kos kom nie op winkelrakke uit nie; gesondheidswerkers kan nie werk toe gaan nie.”

Pres. Ramaphosa sê die land se inentingsprogram is erg ontwrig net toe dit momentum begin kry het. “Dit sal ʼn langdurige effek hê op ons vermoë om die vordering te konsolideer wat ons reeds begin sien het in ons ekonomiese herstel. Hierdie ontwrigtings sal lewensverliese tot gevolg hê weens die verskaffingskettings wat verbreek is wat ons kos, gesondheid en vervaardigingstelsels volhou.

“Die pad van geweld, plundery en anargie lei bloot tot meer geweld en verwoesting. Dit lei tot meer armoede, meer werkloosheid, en nog onskuldige mense wat sterf. Dit is nie wie ons as mense is nie. Ons het telkens ʼn ander pad gekies – ʼn pad van vrede en demokrasie. Ons het dialoog en betoging gekies, eerder as geweld en chaos. Elkeen van ons, maak nie saak wie ons is nie, het ʼn belang om die wet in stand te hou. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat ons onmiddellik kalmte en stabiliteit in alle dele van die land verseker.

“Dit is noodsaaklik dat ons verdere lewensverlies en beserings voorkom. Dit is noodsaaklik dat ons eiendom beskerm en maatskaplike en ekonomiese infrastruktuur beskerm. Ons mobiliseer dus alle beskikbare hulpbronne om die orde te herstel.”

Die president het Maandag die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag magtiging gegee om te ontplooi sodat hulle die bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan ondersteun.

“Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur, oftewel NatJoints, het ontplooiing in al die betrokke dele in KwaZulu-Natal en Gauteng opgeskerp. Die SAPD het maatreëls in plek gestel om alle operasionele lede op te roep van hul vakansie of verlofdae om die teenwoordigheid van wetstoepassers te verhoog.”

NatJoints ontvang ondersteuning van die intelligensie- samewerkende komitee (SAPD-misdaadintelligensie, verdedigingsintelligensie en staatsekuriteit).

“Bykomend tot groter sigbaarheid en ʼn intelligensiegedrewe teenwoordigheid in moontlike brandpunte, sal ons ook die vervolging van die betrokke verdagtes prioritiseer.”

Die Nasionale Sekuriteitsraad, waarvan Ramaphosa bevelvoerder is, sal twee keer per dag vergader om alle nodige maatreëls te koördineer om stabiliteit te herstel.

“Laat ek duidelik wees: Ons sal alles in ons vermoë doen om elke persoon in hierdie land te beskerm teen die bedreiging van geweld, intimidasie, diefstal en plundery. Ons sal nie huiwer om enigiemand te vervolg wat hulle hieraan skuldig maak nie en ons sal seker maak dat hulle aan die pen ry. Ons sal kalmte herstel sodat ons kan voortgaan met ons taak om die land te herbou en ʼn beter lewe vir sy mense te skep.”

Ramaphosa sê reëlings word getref vir regeringsleiers en openbare verteenwoordigers om met leiers in die verskeie gemeenskappe te vergader om stabiliteit te bevorder. Die president sal ook met leiers van politieke partye vergader om die situasie te bespreek.

“Ons moet almal kalm bly, selfbeheersing toepas en nie geweld aanhits, en paniek saai of verdeling bevorder nie. Of ons nou leiers van politieke partye, taxiverenigings, sakeorganisasies of vakbonde is – ons moet alles in ons vermoë doen om die situasie te laat bedaar. Ons moenie aanhitsende boodskappe op sosiale media deel nie en ook nie gerugte of vals nuus versprei wat verder paniek kan saai nie. Niemand moet die reg in eie hande neem nie. Kom ons sluit eerder aan by dié individue en gemeenskappe wat met die polisie saamwerk om plundery te voorkom en diegene wat wenke en inligting verskaf oor voorvalle van kriminaliteit.”

Hy bedank alle lede en bevelvoerders van die SAPD en ander agentskappe vir hul reaksie op die geweld en uitlokkende optrede.

Hy wens spoedige beterskap toe aan vier SAPD-lede wat tydens die geweld beseer is: konstabel Sangweni wat in Alexandra geskiet is; sy twee kollegas sers. Maraheni en lt.kol. Nefolovhodwe wat met bakstene aangeval is; en konst. Seloane wat in Daveyton geskiet is.

“Die geweld en verwoesting vind plaas in die middel van ʼn verwoestende pandemie. Daar is ʼn gevaar dat hierdie gebeure tot ʼn groter toename in gevalle kan lei en nog meer lewens op die spel kan plaas met ʼn groter las op ons gesondheidsfasiliteite en personeel. Daar is ʼn moontlikheid dat ons inentingsprogram ontwrig kan word in gebiede in ʼn tyd wat dit noodsaaklik is om dit uit te brei. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie. Ons mag nie toelaat dat dit gebeur nie.”

Volgens die president is die gebeure ʼn bewys van dit wat ons reeds weet: “Die vlakke van werkloosheid, armoede en ongelykheid in ons samelewing is nie volhoubaar nie. Ons kan nie ʼn langdurige en volgehoue vrede verwag as ons nie werk skep en ʼn regverdige en gelyke samelewing bou waaraan alle Suid-Afrikaners vry en gelyk kan deelneem nie. Ons moet onsself dus nie net tot vrede verbind nie, maar ook tot groter ekonomiese geleenthede vir almal.

“Ons sal geweld en chaos verwerp sodat ons vorentoe kan beweeg. Laat ek dit herhaal: ons bou, ons breek nie af nie. Ons sal nie as Suid-Afrikaners afgeskrik word deur die taak op hande nie. Ons word deur ʼn groot uitdaging en groot belofte in die gesig gestaar – net soos baie keer vantevore. Kom ons kies die pad van vrede en hernuwing. Kom ons staan saam en kom sterker anderkant uit. Saam kan ons diegene oorwin wat ons land wil destabiliseer; wat die vordering wat ons gemaak het, ongedaan wil maak. Ons sal as een saamstaan – verenig teen geweld, eensgesind in ons toewyding tot vrede en die wet.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Anton ·

“die vlakke van werkloosheid” blah blah blah….Julle useless klomp kon nie eers dit wat julle gekry het in stand hou nie, nou praat jy van bou??? Tsek

Eerlik ·

As dit nie apartheid is wat die blaam dra nie is dit gelykheid wat die probleem is. Hou op om diefstal, plundery en kriminele gedrag te probeer regverdig, julle plant die saadjie!!

KB ·

Nog ‘n useless toespraak.
Hy is ‘n goeie “geskiedenis onderwyser”, maar ‘n vrot leier.

Cindy ·

eensydige geskiedenis dalk ja! hy sukkel ook klaarblyklik om te tel want die gespuis wat huidiglik toy toy was nog nie eens gebore in 1994 nie

Snowball ·

Margaret Thatcher was 100% reg oor die ANC se onvermoë om te regeer. Sy het hulle presies opgesom as ‘n terroriste organisasie. SA het gister ‘n skandelike laagtepunt bereik en die argitekte van hierdie mislukking en misdaadhool is die ANC. Geen leë woorde of niksseggende toesprake gaan 12 Julie uit die geskiedenisboeke uitvee nie…

DieKriek ·

Ek en jy moet dit en dat en Rama kom hier sonder n lysie van sy verpligtinge. Die meeste van die toespraak gaan oor goed wat ons reeds weet en aanskou het maar konkrete planne om dit stop te sit is afwesig. Eish! Hier kom n ding…

koos10 ·

DieKriek, jy is so reg. Dit wat hy en sy voorgangers gedoen het se gevolge kom nou deur. Vanaf 1960 se “we will make this country ungovernmentable” tot sy onvermoëe om sy party te bestuur en die diefstal van staatsfondse te stop!

koos10 ·

100% in die kol. Praat, praat, praat is al wat hy kan doen. Hy het beheer oor sy party verloor, en is besig om beheer oor SA te verloor.

melaney ·

En cele bly doodstil. Hy dwaal seker êrens rond op ‘n eensame strand, vêr weg van al die moeilikheid.

Danie ·

Mnr die President let me speak out loud as your comrades will read this and hopefully inform you. You Cyril are always late, late with Covid, late with riots late to intervene with your gevorment department’s who do not have the capability to run a country and then always lat with you speeches to the so called people of Soth Africa. You don’t have what it takes to be a president. A good president will act swiftly and won’t let anyone do what these gangsters are doing right now. You Cyril don’t leave us as citizens with any other choices but to start taking up arms and to protect what is ours. You don’t have the guts to take on Cele. Where was Cele in these days. He can walk on beaches with a gang of 70 but when this country go up in flames he is no where to see. What a shame Cyril to call yourself a leader. Leader of what? A pack of wolfs. A pack of uncivilised gangsters. I can’t even look at your picture on my tv and you alone are to be blamed as you are not a leader in my eyes.

LeonS ·

Stem saam ,swak leier, met Zumpie het jy geweet wat hy doen en wereld gelag vir hom, bevrees ons huidige pres. het verskuilde agendas

Thom ·

Wanneer die mense wat ‘n verskil kan maak die geleentheid kry om by die stembus ‘n verandering te maak , stem hulle vir kleur , taal , kerke en ander minder belangrike entiteite . In ‘n gefaalde staat sal niks van die foefies oorbly nie __ die behoud van ons land MOES eerste prioriteit gebly het . In ‘n stabiele welvarende land kan DAN na persoonlike keuses en kultuur gekyk word .

Henri ·

Dis net interssant om tussen die lyne te lees dat ekonomiese ongelykheid, wat deur die ANC se onvermoë om werk volhoubaar te skep, die blaam kry.

En hy wil voortgaan met onteiening sonder vergoeding, wat nou juis besig is om te gebeur in die winkelsentrums. Kyk net hoeveel goedere is onteien sonder vergoeding oor die naweek!

Baardman ·

CR is geen leier nie. Amper gedink hy gaan huil gisteraand. Sy stemtoon wys dat hy geen gesag uitoefen nie. Hyt basies gesmeek dat die geweld moet ophou, instede daarvan om hard en ferm te sê dat daar daadwerklik en hardhandig opgetree gaan word. En CR,die geweld gaan al dae lank aan maar jou polisie en weermag skitter in hulle afwesigheid

Stefaan ·

As armoede die rede is hoekom sien ons nie blankes betrokke nie. Probeer eerlik wees ‘n slag en noem die ding op sy naam.

Jannie van Niekerk ·

Die man het gisteraand absoluut NIKS gesê nie. Neem voor die voet ALMAL in hegtenis wat op die toneel van die plundery is. Net die feit dat hulle daar is laat hulle alreeds die wet oortree. Covid regulasies.

Gert ·

“ONS MOET SAAMSTAAN!!!!!” Ons wil saamstaan, maar ons geleer as ons iets nodig het moet ons dit koop! En as ons sou saamstaan, sal ons uitstaan.

Dup ·

“Ons moet nou saamstaan en SA leeg plunder”…dit is wat hy eintlik sê.Daarom staan/sit die SAPS en toekyk terwyl alles weggedra en verbrand word.”Our people” maak en breek net soos hulle wil want hulle weet niks gaan gebeur nie!

Leana ·

Die SAPS het nie net sit/staan en toekyk nie, daar is van hulle wat hardebesig was. Ja besig was om te help plunder en wegdra. Mens kan geen respek hê vir die sogenaamde SAPS lede nie.

SjN ·

Wil jul klomp Anc kaders maar nie erken dat jul nie die job kan doen nie asb.

Kokerboom ·

Die emosionele retoriek raak ons nie meer. As President moes hy geweet het die dinge gaan gebeur en pro-aktief opgetree het.Die ANC se vernietigende idees en roekelose beleide het ‘n sosio-ekonomiese bestel geskep wat uiters plofbaar is

Andries ·

Die mense wat eintlik moet luister is op ‘n skermgreep links onder op die TV skerm….
Die gepratery op TV help net mooi niks. Die vergrypers se “human rights” kom mos eerste en hulle weet dit. Die pap het op die grond geval en die lepetjie waarmee dit opgetel word is te klein.

Elise Georgina Irene ·

Gelyk of hy staan en slaap op sy voete. TV baie hard gemaak want nog geneurie ôk. Byna doodgeskrik toe hy klaar was en “normale” mense praat – klip steen hard!!!

Mauritz ·

Waar is die ärmy” dan ? Moet hulle nie nou wakker gemaak word daasr waar hulle le en slaap in die barakke nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.