‘Ons moet ons huis in orde kry,’ sê nuwe polisiehoof

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

“Om enige probleem doeltreffend aan te pak, in ons geval die hoë vlakke van misdaad oor verskeie kategorieë, moet ons eers ons huis in orde kry. Ons moet ons sake mooi agtermekaar kry.”

Só het genl. Fannie Masemola, nuwe nasionale polisiekommissaris, Vrydagmiddag by die Polisiekollege in Pretoria-Wes aan die media gesê. Pres. Cyril Ramaphosa het die aankondiging oor Masemola se aanstelling Donderdagaand gedoen.

“Ek aanvaar inderdaad dié topposisie en leiersrol tydens ʼn uitdagende oorgangstyd waar lede van die publiek se vertroue in die polisie baie laag is. Daarom is die onmiddellike prioriteit om verhoudings tussen gemeenskappe en die polisie te bou en te versterk en vervolgens die heersende negatiewe openbare indruk te verander, asook die behoefte om te werk aan die moreel én die integriteit van ons lede wat uiteindelik ʼn grondwetlike plig het om ons gemeenskappe te dien en te beskerm.”

Daar is volgens Masemola ook verskeie veiligheidskwessies van nasionale belang wat boaan sy lys van topprioriteite is. Dit sluit onder meer in die kwessie van polisiebeamptes se veiligheid te midde van die voortdurende aanvalle en moorde op beamptes.

Die DNS-agterstand asook die agterstand by die sentrale vuurwapenregister sal volgens Masemola ook voorkeur geniet. Die vul van sleutelposisies in onder meer die misdaadintelligensie-eenheid is ook baie belangrik.

Die kwessie van skade aan belangrike infrastruktuur en afpersing by konstruksieterreine is vir Masemola ʼn bron van kommer. “Toegewyde kapasiteit is reeds in hierdie verband geskep en ons sal beslissend optree rakende misdade wat verband hou met kritieke infrastruktuur en onwettige mynbou. Ons sal ook ons ​​pogings verskerp om die voorkoms van transitorooftogte en ander ernstige misdade te verminder.”

Gewelddadige diensleweringsbetogings is ook vir Masemola ʼn kopseer. “Die land is op ʼn punt waar die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe eerder gewelddadige diensleweringsbetogings moet polisieer as om misdaad te bekamp. Meermale, indien nie altyd nie, het die redes vir hierdie betogings niks met die polisie te doen nie, byvoorbeeld arbeidsverwante betogings en eise vir munisipale dienste. Dit is wanneer dié betogings gewelddadig word dat die polisie intree om die wet toe te pas. Natuurlik beskou betogers dan die polisie as die vyand en dat wetstoepassingsagentskappe hul reg om te betoog onderdruk.”

Masemola wil ook die aandag vestig op gemeenskapspolisiëringsforums en seker maak dié forums dien die belange van die gemeenskappe wat hulle verteenwoordig.

“Ek wil weereens my verbintenis bevestig om die veiligheid van die inwoners, besoekers en beleggers van Suid-Afrika te verseker. Ek sien uit daarna om betrekkinge met alle sektore van die samelewing te versterk, onder wie internasionale belanghebbendes, in die bekamping van misdaad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

SAPS, julle huis is beroof en kaal gestroop deur die ANC.

SjN

Bla bla bla, nuwe besem, tyd sal leer.

Nie Verbaas

Praat is maklik. Doen dit.

Kobus

Raak onslae van hoed dan is die huis halfpad skoon