‘Ons moet saamstaan in kragkrisis’

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het Donderdag, te midde van Eskom se aankondiging dat kragvoorsiening die naweek onder druk sal wees, ʼn openbare beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om saam verligting te help bring vir die heersende krisis rondom elektrisiteitsvoorsiening.

Solidariteit het gesê die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika is groter as wat aanvanklik vermoed is en gaan van langer duur wees. Die vakbond het gesê hoewel die krisis deur Eskom se toedoen is, is dit in almal se belang om die ligte aan te hou.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê niemand in Suid-Afrika kan koud staan teenoor die Eskom-krisis nie. “Die bos brand en mense kan nie sê hulle sal nie brand nie want hulle is nie bome nie. Daarom vra Solidariteit Suid-Afrikaners op alle vlakke om te verenig rondom die elektrisiteitskrisis en om ʼn kultuur van elektrisiteitsbesparing te skep,” het hy gesê.

Solidariteit het onder meer ʼn beroep op besigheidsleiers, kulturele leiers, gemeenskapsleiers en politieke leiers gedoen om op elke moontlike platform ʼn beroep op Suid-Afrikaners te doen om elektrisiteit te bespaar. “Ons doen ʼn beroep op president Jacob Zuma en Julius Malema om rondom die krisis te verenig; op die DA en die ANC; op Renate Barnard en die polisie; op Cosatu en Numsa, Amcu en die platinumbedryf; en Steve Hofmeyr en Conrad Koch. Ek sal persoonlik ook vir Jimmy Manyi kontak om sy samewerking te vra. Ons sal ook die parlement vra om saam te dreunsing: ‘Spaar ons elektrisiteit’,” het Hermann verduidelik.

Hermann sê hoewel Solidariteit krities teenoor Eskom staan, is hy lojaal teenoor Suid-Afrika. Hy meen Solidariteit verbind homself daarom tot ’n strategie om elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika te verbeter. “Solidariteit het ’n lang geskiedenis van kritiek teenoor Eskom. Ons het al by verskeie geleenthede krake in Eskom se mondering uitgewys waarvan die nuutste fisiese krake in Eskom se silo’s is. Ons is veral krities jeens Eskom se instandhouding, sy behoud van vaardighede en die uitvloei van personeel,” het hy gesê. “Ons kritiek op Eskom is geregverdig en noodsaaklik en ons sal daarmee voortgaan, maar dít alleen is nie genoeg om die ligte aan te hou nie.”

Solidariteit het daarom sy openbare oproep verder tot alle Suid-Afrikaners uitgebrei en gevra dat elkeen op sy of haar vlak betrokke sal raak om die elektrisiteitskrisis op te los. Dit sluit in:

1. Op mikrovlak kan elke individuele verbruiker help. Ons doen ’n beroep op die publiek om Eskom se versoek om elektrisiteit tuis te bespaar, ernstig op te neem. Help om elektrisiteitsverbruik in spitstye af te bestuur deur nie-noodsaaklike elektriese toerusting af te skakel wanneer Eskom aandui dat die netwerk onder druk is. Solidariteit gaan hierdie beroep tot sy lede rig en gaan ander vakbonde versoek om dieselfde te doen.

2. Op besigheidsvlak doen Solidariteit ’n beroep op maatskappye waar die vakbond verteenwoordig is om elektrisiteit op ’n verantwoordelike wyse te bespaar wanneer die netwerk onder druk is. Voorkomende besparing is vir ons belangriker as ’n netwerk wat ineenstort, wat tot reuse-werkverlies kan lei as elektrisiteit gerantsoeneer word.

3. Op beleidsvlak vra Solidariteit dat die Eskom-monopolie van kragvoorsiening verbreek word. Suid-Afrika se totale afhanklikheid van Eskom het groot stelselrisiko’s tot gevolg. Suid-Afrika moet meer verskaffers van elektrisiteit toelaat, die risiko van foute afbestuur en meer kreatiwiteit toelaat wat die verskaffing van elektrisiteit betref. Die mark vir elektrisiteitsopwekking en -verspreiding moet oopgemaak word.

4. Op Eskom-vlak moet Eskom hom net op elektrisiteitvoorsiening toespits. Daar moet gefokus word op die skep en behoud van vaardighede, instandhouding en behoorlike projekbestuur. Betrokkenheid by die New Age-koerant se sake-ontbyte en ander randaktiwiteite moet opgeskort word om simbolies ’n verbintenis tot elektrisiteitvoorsiening te wys.

5. Intussen sal Solidariteit sy rol as waghond bly vervul. Solidariteit doen ook ’n beroep op mense wat bewus raak van “krake” by Eskom op watter vlak ook al om dit bekend te maak ter wille van effektiewe elektrisiteitsvoorsiening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Minseun Minnaar ·

Hoekom kan krag voorsienigs punt in Teebus Oranje – Visrivier Tonnel nie herstel word nie en die staat se flou verskoning daars nie geld om dit te doen nie nogal baie afgesaag ek vra maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.