‘Ons sal eiendomsreg tot in hoogste hof beskerm’

plant-plantjies-grond

Foto: Binyamin Mellish/Pexels.com.

“Dit sou uiters onbillik en onaanvaarbaar wees om landbouers wat grond produktief bewerk om die mense van Suid-Afrika te voed, te teiken en te ontneem van hulle eiendom sonder om hulle daarvoor te vergoed.”

Agri SA het gesê hy is gereed om die beginsels van billikheid en die beskerming van die regte van die individu tot in die konstitusionele hof te verdedig.

Dit kom ná die verklaring van die ANC dat 139 plase vir onteiening sonder vergoeding geteiken gaan word. Die ANC het vantevore te kenne gegee dat hulle die grense van artikel 25 met betrekking tot die betaling van vergoeding in die howe wil toets.

“Agri SA sal hierdie situasie fyn dophou en by toetssake waar beginsels oor vergoeding uitgeklaar sal word, betrokke raak,” het Dan Kriek, president van Agri SA, gesê. “Agri SA het vantevore reeds by sodanige sake betrokke geraak en sal nie huiwer om dit weer te doen nie. Dit is die howe se taak om wetgewing en die Grondwet te interpreteer.”

Volgens Agri SA is dit vir die organisasie ʼn prioriteit om meer duidelikheid te kry oor welke plase geteiken sal word. “Die beginsel van vergoeding by onteiening word internasionaal erken, hoewel daar verskillende standaarde vir vergoeding bestaan. Internasionaal word onteiening sonder vergoeding slegs in baie beperkte omstandighede toegelaat.”

City Press het die naweek berig die ANC het glo 139 plase uitgekies wat hulle oor die volgende paar weke sonder vergoeding wil onteien.

Aldus die koerant het die regerende party dié besluit geneem ná sy twee dag lange lekgotla van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC. Dit is egter nog nie duidelik watter plase ter sprake is nie.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa op 31 Julie aangekondig het die regerende party sal voortgaan om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het vroeër aan Maroela Media gesê die burgerregte-organisasie kan nog nie kommentaar lewer voordat dit bekend gemaak is watter plase ter sprake is nie.

“My vermoede is dat dit waarskynlik plase is wat reeds gewaarmerk is vir grondhervorming of waarop daar reeds grondeise ingestel is en waar daar waarskynlik ʼn dooiepunt bestaan tussen die staat en die betrokke grondeienaar oor die vasstelling van die vergoeding,” het Spies verduidelik. “Ons sal eers ʼn mening kan vorm sodra ons weet watter plase dit is en hoe dit gaan werk.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Celtis Africana

Bietjie laat om wakker te skrik.
Die tafel is lank reeds gedek en die paddabredie bykans gaar. Jul moes die gasheer laat weet het jul is allergies vir skulpvis toe jul die uitnodiging ontvang het!
Die regstelsel (Sien baie werknemers van Agri Sa beskik oor regskwalifikasies) is lankal pro die meerderheidsregering ongeag wat die wetgewing bepaal. Die betrokkenheid by n paar toetsake is heeltemal te min te laat. Gaan kuier by Afriforum vir n les in aktivisme.

christa

die agterdeur is oop gemaak en die ANC in genooi. Die Bybel se die satan is ‘n skelm en moordenaar en loop rond om te verwoes en te plunder.

Estelle

Ons grond van ñ skamele 22ha voed nie die nasie nie. Ons het 2 kallers wat ons grootmaak vir huisgebruik en ñ groentetuin. Die res vir weiding vir ons perde. Maar dit is met ONS swaarverdiende geld betaal en opgebou. Dit is ONS veilige hawe. ONS woning. Is my grond ook werd vir die groot koppe in AgriSA om voor te baklei?

John

Nee, dit gaan nie powere lappies grond wees wat die ANC gaan teiken nie. Moenie geskok wees nie. En die kwessie van voed-die-volk is nie te hoog op die lys van redes nie. Boere val te veel terug op hul hoogdrawende rol as sou almal sterf as hulle nie gelos word as verhewe landhere nie. Die Hemelvader is nie meer beindruk met vernames as die armes nie. Om nog ‘n skuur te bou was nie gronde vir die Vader om die hooghartige boer oor te sien nie. Die saak is veelkantig en ‘n bloedlose (so word gedroom) oorlog word beplan… Lees meer »

pieter

Weet jy, my stuk grond is gekoop, deur harde werk en sweet. Wat ek daarop doen is niemand se besigheid nie. Dit is nie te koop nie, en as hulle me dreig dat dit met geweld afgevat gaan word, dan maak ek myself reg om dit te beskerm met my lewe. Ons boere is nie bang vir beklai nie, en ons volk was nog nooit nie. Ons het n almagtigge God wat sak ingryp en ons weer sal beskerm, en die oorwinning sal gee.