Ons sal nie gedreig word nie, sê Scopa-LP’s

Foto: Scopa-voorsitter Themba Godi (Foto: Chantall Presence/ANA)

Die parlementêre waghond oor openbare rekeninge het Dinsdag gesê hy sal nie “gedreig of verhinder word om sy werk toe doen nie”, in reaksie op ʼn skynbare dreigement van regstappe teen LP’s deur die adjunkminister van openbare werke, Jeremy Cronin.

Die staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa) het in ʼn verklaring gesê Cronin het “ongekende en leë dreigemente” teen die komitee gerig en die komitee gedreig dat hulle die beeld van die minister van openbare werke, Thulas Nxesi, skade berokken.

“Dit is ongekend dat ʼn lid van die uitvoerende komitee kan dreig om die parlement hof toe te sleep omdat die komitee sy werk doen. Dit kan slegs ʼn poging wees om misdrywe weg te steek,” het Themba Godi, voorsitter van Scopa, gesê.

“Die departement van openbare werke bly in die greep van korrupte werknemers wat eksterne belange het. Scopa sal dié misdadigers genadeloos bly vervolg.”

Scopa het Nxesi veroordeel vir sy skynbaar onreëlmatige ondersteuning van Boitumelo “Cox” Mokgoro as hoof- finansiële beampte van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust deur Honey Cloud Enterprises, waarvan Mokgoro die enigste direkteur en werknemer is.

ʼn Voorlopige verslag deur die Staatsdienskommissie (PSC) het bevind dat die aanstelling onreëlmatig was en nie binne die wet geskied het nie. Scopa is later daarop gewys dat hy nie die mag het om Mokgoro se aanstelling te ondersoek nie, maar dat dit deur ʼn beslissing in die Nasionale Vergadering gedoen moet word.

Godi het gesê Scopa sal die kantoor van die speaker nader oor hoe die PSC-verslag oor Mokgoro se aanstelling gereguleer kan word en “Nxesi en Mokgoro moet albei aanspreeklik gehou word vir die skynbaar onreëlmatige aanstelling van mnr. Mokgoro en sy maatskappy, Honey Cloud, by die departement van openbare werke”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stripes ·

Themba, ek staan bankvas agter jou en jou komitee. Al wanneer daar so geskerm word dat die of daai een se beeld aangetas gaan word, is wanneer hulle skuldig is.

Kry hulle voor stok en kry die geld terug. Onafhanklike ontwikkelingstrust waar die direkteur ook die enigste werknemer is! Ek ruik bedrog.

Hoe op aarde ·

Hoe op dees aarde het die ANC nog nie ontslae geraak v Jeremy Cronin nie? Die kommunisteparty het rerig nie n groot aanhang nie en hulle kan gerus vir cronin onder sy jis skop. Hy is lankal net ‘n rammelkas wat vir sy pensioen wag waarvoor ek en jy betaal so by the way

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.