‘Ons sal nie stilbly nie,’ sê ma’s oor vroedvrou

Carien Möller en haar dogtertjie, Sophia (Foto: AfriForum)

Die ma’s wat klagte van strafbare manslag en poging tot moord teen Yolande Maritz, ʼn voormalige vroedvrou, ingedien het, sê hulle sal veg tot die einde toe om te sien dat Maritz vir haar beweerde nalatigheid aan die pen ry.

Maritz word daarvan beskuldig dat haar nalatige of onetiese optrede hierdie babas dood of gestremd gelaat het.

Carien Möller van Pretoria en Alysia von Kloëg van Middelburg het onderskeidelik klagte van strafbare manslag en poging tot moord teen Maritz ingedien. Beweerde nalatigheid tydens geboorte het glo tot die dood van die Von Kloëgs se babaseuntjie, Noah Joachim, nege dae ná sy geboorte gelei en Möller se dogtertjie, Sophia, is serebraal gestremd gelaat.

Albei vroue het in November 2020 klagte teen Maritz by die polisie, asook die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging (SARV) ingedien.

Alysia en Brendon von Kloëg (Foto: AfriForum)

“Ons moet nie stilbly oor wat aan ons gedoen is nie. Ons lewe het weens nalatigheid onherroeplik verander en dit is ons verantwoordelikheid om te keer dat dit met enigiemand anders gebeur,” het Möller en Von Kloëg aan Maroela Media gesê.

Maritz is verlede jaar van die SARV se rol van professionele verpleegsters verwyder, nadat sy skuldig bevind is aan onprofessionele en nalatige gedrag. Sy het teen dié besluit geappelleer, maar was onsuksesvol.

Nou gaan die strafregtelike sake teen haar voort en AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ʼn waaksaamheidsopdrag in hierdie sake op. Die eenheid het by die saak betrokke geraak omdat dit so lank reeds sloer.

Möller en Von Kloëg het albei van Maritz op Facebook te hore gekom en besluit om haar as vroedvrou te gebruik. Die besluit is gegrond op suksesverhale met geboortes wat op haar sosialemediaplatform gedeel is.

Möller en Von Kloëg het aanvanklik gemaklik met Maritz as vroedvrou gevoel, maar in ʼn gevorderde stadium in die swangerskap het die “rooi ligte” begin flikker.

Baba Sophia

Carien saam met baba Sophia (Foto: The Miracle of Sophia/Facebook)

Möller beweer die gevaartekens het vir haar begin wys toe Maritz vir haar op 36 weke antibiotika voorgeskryf het vir ʼn blaasinfeksie.

“Sy mag in die eerste plek nie medikasie voorskryf nie en dit het nie vir my veilig gevoel om antibiotika te neem terwyl ek swanger is nie.”

Volgens Möller het Maritz op die dag van Sophia se geboorte (op 11 Julie 2019) vir haar ʼn bottel water – wat verseël voorgekom het – gegee om te drink.

“Nadat ek die water gedrink het, het my kontraksies baie erg geraak, maar ek het gedink dit is normaal.”

Maritz het na bewering die aanbevole dosis Cytotec (geboorte-induksiemedikasie of ook bekend as die aborsiepil) oorskry deur aan Möller twee tablette op een slag te gee waarna sy erge kontraksies begin ervaar het en haar baba in skok gegaan het tydens geboorte.

“Die aanbevole dosis is ʼn kwart tablet elke twee uur.

“Nadat ek die water gedrink het, was Sophia se hartklop tien minute voor geboorte 90 slae per minuut. ʼn Baba in die kraamproses se hartklop behoort tussen 120 en 140 slae per minuut te wees.”

Sophia het nie asemgehaal met geboorte nie en volgens Möller het haar kop gehang.

“Sy is basies doodgebore.”

Volgens Möller het Maritz nie die ambulans ontbied nie en Maritz se dogter, wat tydens die bevalling teenwoordig was, het kunsmatige asemhaling op Sophia begin toepas.

“Die ambulans is heelwat later op aandrang van my ouers ontbied. Dit was toe reeds te laat en Sophia het weens ʼn tekort aan suurstof reeds breinskade opgedoen.”

Baba Noah

Von Kloëg se seuntjie is nege dae ná geboorte dood weens bloedklonte in die brein.

Dokters het eers ná sy geboorte agtergekom dat Von Kloëg bloedklonte in haar plasenta en geboortekoord gehad het, wat veroorsaak het dat bloedklonte in die baba se brein vorm. Noah Joachim se brein het weens die klonte glad nie ontwikkel nie.

Van Kloëg en haar man meen Maritz moes dit tydens een van die sonars raakgesien het.

“Indien dit op die 24-weke-sonar vasgestel is, was daar ʼn groot kans dat ons seuntjie normaal gebore sou word.”

Op Noah Joachim se geboortedag (3 April 2019) het Maritz vir Von Kloëg tablette gegee wat skynbaar kalmeerpille was, waarna sy etlike minute later kontraksies begin kry het. Hul seuntjie is sowat ʼn uur later gebore.

Von Kloëg sê sy het geweet iets is fout omdat haar seuntjie ná geboorte abnormaal asemgehaal het en nie ʼn geluid gemaak het nie.

Maritz het na bewering ook aanvanklik geweier om die ambulans te ontbied.

Trauma

Möller en Von Kloëg is albei erg deur die geboortes getraumatiseer.

“Ek was lank in ʼn diep gat van depressie ná Sophia se geboorte. Dit het ook ʼn groot invloed op my en my man se huwelik gehad. Die kerk en my geliefdes se ondersteuning, tyd wat ek met die Here deurgebring het, berading en om oor die bevalling te praat, het my deur die moeilike tyd gedra,” vertel Möller.

Von Kloëg het lank skuldig gevoel oor haar kind se dood. “Die dag toe Yolande van die rol geskrap is, het ek besef dit is nie die waarheid nie. Die skuldgevoel is vervang deur ʼn veggees om te baklei vir geregtigheid: om Yolande in die tronk te sien.

“Al kan ek nie meer vir my eie kind baklei nie, kan ek help om vir die ander kinders en ma’s daarbuite te baklei.”

Möller sê sy het ʼn jaar ná Sophia se geboorte eers begin vrae vra en met mense kontak gemaak wat Maritz as vroedvrou gebruik het. So het sy by talle ma’s uitgekom wat in dieselfde bootjie as sy is.

“Ek het toe besef ons kan nie stilbly nie en moet iets doen.”

Möller en Von Kloëg se paaie het toe ook gekruis.

“Dit was bevrydend om te weet ek is nie alleen in hierdie ding nie,” sê Von Kloëg.

Maritz ontken al die klagte teen haar.

Maritz wou nie onmiddellik op Maroela Media se versoek om kommentaar reageer nie. Sy sê alles wat sy vir die media sê, word verdraai. Sy het wel in ʼn brief van vier bladsye in 2021 aan Beeld die volgende gesê:

“In die afgelope tien jaar het ek meer as 2 000 geboortes hanteer en wonderlike ervarings gehad. Soos in die lewe gebeur, gebeur die verskriklike ook in bevallings (…) Verloskunde word gesien as ʼn hoërisikoberoep omdat die uitkomste nie 100% bepaal kan word nie. Dit verduidelik die astronomiese versekering van die ginekoloë en nou ook van vroedvroue.

“Ek kan ongelukkig nie in die fynste detail van elke saak gaan nie, maar ek nooi graag ʼn advokaat uit om my te kontak wat bereid is om my te ondersteun in my terug vegting (sic) teen die onregverdige uitspraak van die Raad vir Verpleegkundiges en Vroedvroue. Miskien het die tyd aangebreek dat vroedvroue hul eie raad kry wat die praktyk verstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Dit is hartseer. Die risiko verbonde aan die bevalling noop die meeste mense om eerder in ‘n hospitaal te kraam. In die hospitaal is daar baie meer opsies indien dinge begin verkeerd loop. Wraak gaan egter nie die horlosie terug draai nie. Verstaan nie werklik die vervolgings-waansin nie, maar dit is moeilik om jouself in die situasie te plaas – elkeen hanteer beproewings ook anders.

Christine ·

Vroedvroue is nie dokters nie. Ek verstaan dit is ‘n goedkoper opsie, maar weet jy plaas jou en jou kind se lewe in risiko indien daar iets foutgaan. Hulle is daar vir die bevalling, maar probleme word deur dokters hanteer.

Ronél ·

Die lewe gebeur met almal, maar géén ouerpaar verdien die seerste seer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.