‘Ons sal nooit weer dieselfde wees nie’

Minke en Cayden Daly by hul babaseun, Luka, kort ná sy geboorte. (Foto: Verskaf)

“Ons sal nooit weer dieselfde wees nie. Cayden was ons alles. Hy was die lig in ons lewens. My hart is baie leeg sonder hom, dit was nog nooit so donker nie.”

Só het Minke Daly (24) Dinsdag aan Maroela Media gesê oor die tragiese dood van haar man, Cayden (22).

Cayden, ’n epilepsielyer, is verlede Dinsdag in ’n motorongeluk dood nadat hy ’n toeval gehad en hy sy bakkie gerol het. Hy het met varke op die Daly-familie se plaas tussen Virginia en Kitty in die Vrystaat geboer. Cayden was van Virginia na dié plaas op pad toe die ongeluk omstreeks 13:00 sowat drie kilometer van die plaas gebeur het.

Minke en Cayden Daly in gelukkiger dae. (Foto: Verskaf)

Cayden en Minke was vier jaar in ʼn verhouding en is maar twee maande gelede getroud. Hulle is ook die ouers van ’n 23 maande oue seuntjie, Luka, en Minke is nou 22 weke swanger met hul tweede baba.

Minke sê haar man se dood laat ʼn groot leemte in hul gesin en die Daly-familie se lewe.

Ook Luka, sê Minke, verlang na sy pa.

“Hy mis sy pappa, veral saans en met badtyd. Dit was wanneer ons kwaliteit tyd saam deurgebring het as gesin.

“Die familie het net so seer. Cayden was ’n baie belangrike deel van ons almal. Ek mis hom verskriklik, maar is bly dat hy nou sonder enige pyn is en sonder siekte. Ons almal probeer ons bes om sterk te wees, maar sy afwesigheid is onmiskenbaar en seer.”

Minke sê dat sy en Cayden se geliefdes alles van hom gaan mis. Sy beskryf hom as ʼn sagmoedige, liefdevolle mens met ʼn goeie hart – iemand wat ander mense nooit geoordeel het nie.

“Hy was regtig my beter deel.

Minke en Cayden Daly op hul troudag twee maande gelede. (Foto: Verskaf)

“Cayden het soveel mense se lewens gered sonder dat iemand dit sou agterkom, en dít spreek woorde. Hy was ʼn inspirasie sonder dat hy probeer het.”

Sy sê Cayden was ook “die trotste pa”.

“Hy het gelewe vir sy kind en alles gedoen sodat hy ’n goeie lewe kan hê. Luka het hom ongelooflik liefgehad en hy was reeds ’n goeie pappa vir ons tweede baba.”

Minke vertel Cayden was sy ma, Jennifer, se “liefling” en sy pa, Michael, se “yster”. Hy was ook sy ousus, Kristen, se beste vriend.

“Hulle was baie na aan mekaar.”

Minke sê Cayden se ouers was baie by die boerdery betrokke en dat hulle ook saam met Cayden slagpale besit en bestuur het.

Sy sê haar man was baie trots op sy boerdery en dat hy groot drome en planne daarmee gehad het.

Cayden is Saterdag begrawe en sy geliefdes het vir hom ʼn gedenkdiens by die Brand Mashie-gholfbaan in Welkom gehou.

“My hart mis hom elke dag. Nie een van ons se lewens gaan weer dieselfde wees nie.”

Die Daly-familie. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Di ·

Sjoe dit moet erg wees om iemand so jonk aan die dood af te staan! My innige meegevoel aan sy vrou, familie en vriende. Mag ons Hemelse Vader julle die krag gee om deur hierdie moeilike tyd te kom.

anniekiewiet ·

Wat kan ons sê, net vrede en troos van ons hemelse Vader vir julle toebid. Die seer gaan nog lank wees, maar ons hoop en glo julle gaan met tyd weer kan glimlag.

Shakespeare ·

HOEKOM ??? So pragtige jong man. Hartsverskeurend. Sal so-iets nooit verstaan nie.

Mieke ·

Gompie, Nog steeds my innigste simpatie met die familie en hulle baie hartseer verlies. ‘n Ongeluk gebeur maar in ‘n oogwink. Maar ek stem saam… weet nie van al die afduimpies nie, maar met alle respek is dit die waarheid.

katerinadiekat ·

Ja dit sou die beste gewees het vir hom. Ai. Dis n moeilike saak. My skoonseun is op epilepsie medikasie, hy het n bestuurslisensie en sy aanvalle is feitlik heeltemal onder beheer. The only thing he really still gets, are little episodes where he “spaces out” for about 2 minutes. So ja, mens is maar bekommerd. Ai dis n moeilike situasie want sonder n bestuurslisensie is die lewe moeilik vir mense wat kan en wil werk. My innige simpatie met sy geliefdes. Bitter hartseer????????????

JohanR ·

Mag ‘n epilepsielyer bestuur? My niggie het al van seker die ouderdom van 16 begin epilepsielyer aanvalle kry. Sy is nou naby die 70 en hulle het no nooit opgehou, of kon stopgesit word. Sy het seker soe elke tien dae geval, en partykeer somme neer geploeg, en tande beseer. Sy kon, en mag sy nooit in haar lewe bestuur nie. Alle simpatie aan Minke en Luka….julle was ‘n mooi gesin.

Alida ·

Ek het ook ‘n niggie wat ‘n epilepsielyer is. Haar epilepsie is goed onder beheer met medikasie, maar ten spyte daarvan was sy nooit toegelaat om ‘n bestuurderslisensie te kry nie. Sy is nou al in haar 50’s.

Anonymouse ·

Ek wonder ook. Wat as sy ongeluk anders se dood veroorsaak het?

Kiewiet ·

So baie baie jammer v julle verlies mag God julle styf vashou en troos…sterk staan v jou seun en ongebore babatjie meisiekind.

Tipper ·

Een van my swaer se plaaswerkers het ook hierdie siekte gehad,ek het baie keer gesien hoe hy net skielik omval en begin stuiptrekkings kry,hy ruk en skop terwyl hy lê totdat hy weer opstaan,so my swaer het hom liewer maar nie die trekkers laat bestuur nie, vir sy en ander se veiligheid,soms was die waens agter die trekkers hoog gelaai met kafbale en het hulle steil afdraande afgekom met n baie stadige spoed ,die werkers het sommer bo-op die strooi bale gelê,bottom line,veiligheid eerste. Nou onlangs iewers in De-Aar het n motoris deur n muur gery, hulle het vasgestel hy ly ook aan die siekte, hy werk in die weermag.

Delia ·

Goeie Hemel…is dit al wat mense Kan dink…Dat hy nooit n bestuurslisensie moes gehad het nie.
As jy vir n sekere periode geen toevalle gehad het nie, mag n dokter jou bevoeg verklaar om te bestuur.
Wat het geword van ons menslikheid? Waar het ons dit verloor? 2 Klein kinders word nou groot sonder n Pappa en n pragtige vrou leef sonder haar sielsmaat…..en al waaroor ons Kan kommentaar lewer is n bestuurslisensie….

katerinadiekat ·

Dis nie Al waaraan mense dink nie. Ek het baie simpatie en hartseer vir die jong man en sy geliefdes opgemerk hier. My eie skoonseun het n bestuurslisensie want sy aanvalle is onder beheer. Hierdie is een van daai Salomo tipe vraagstukke. Maar die feit is, iemand wat n aanval kry kan nie net sy/haar eie lewe in gevaar stel nie, maar ook die van andere, veral op die pad. En tog, n bestuurslisensie is gewoonlik broodnodig as jy wil werk. Ek is nie Salomo nie, so ek het nie die antwoord nie. Maar dit Is n pertinente vraagstuk wat hier in die kommentaar seksie uitgelig is. So asb moenie kwaad wees vir mense wat dit genoem het nie. Dis maar net uit jammerte vir die jong man wat oorlede is, en andere wat hom seer sekerlik ook nog sal volg op hierdie manier.

Danie ·

Ek was ook onder die indruk n epilepsielyer mag nie bestuur nie.
Dit het so gewerk in ons familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.