“Ons sal ons nie laat uitvee nie, mnr Zuma,” sê Danie Langner

Danie-Langner

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK. Foto: Argief.

“Ons storie, geskryf oor drie eeue, wys duidelik ons is bouers, nie brekers nie. Ons skep momente en bou monumente. Elke monument is ʼn uitroepteken van ons intellektuele prestasies, ons identiteitstradisie, ons aristokratiese ideale en ons geloofsvertroue in God wat voorsien.”

Dit is die standpunt van Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, wat as een van die sprekers by die Solidariteit Krisisberaad in Pretoria opgetree het.

Langner het in sy toespraak ʼn pleidooi aan pres. Jacob Zuma gerig om op te hou om die Afrikaner se geskiedenis te kriminaliseer. “Die doel van die ANC se kulturele imperialisme is duidelik: Afrikaners se historiese selfbeeld, kulturele selfvertroue en trots moet vernietig word. Deur Afrikanergeskiedenis te kriminaliseer, word diskriminerende regeringsbeleid en plundering van staatsbates deur korrupsie vergoeilik,” het hy gesê.

“Die strategie is duidelik: Neem oor, en wis dan minderhede se verlede uit.”

Afrikaners het in dié land ʼn voetspoor van hoëfunksieprestasies en hoëfunksiebesluite wat strek oor 300 jaar. Dit is meer as voldoende bewys dat die Afrikaner nie ʼn mislukking is nie, het Langner gesê.

“Meneer die President, daar is baie wat hul mond uitspoel oor wat Afrikaners kwansuis gesteel het, maar kyk eerder wat het Jan en sy nasate na hierdie kontinent gebring: die Romeins-Hollandse reg, demokratiese tradisie, voedselsekerheid deur moderne landboumetodes, wêreldklas-universiteite, infrastruktuur met meer fabrieke, teerpaaie en spoorlyne as die hele Afrika saam, die mees gevorderde bankwese in Afrika, uitnemende skole, hospitale en navorsingsinstansies. Elkeen van hierdie hoëfunksie-monumente maak my trots.” Maar die Afrikaner sal nie toelaat dat hy uitgevee word nie, het hy gesê. “As jy iets wil uitvee, moet dit stilstaan, dit moet staties wees. Ons denke en dade is elke dag aan die roer en aan die beweeg. Jy kan nie ʼn perd op galop uitvee nie.”

Die krisis het Afrikaners reeds gehelp om ou Afrikaner-instellings af te stof en nuwes te stig wat uitnemend presteer, om nuwe eenheid as ʼn kultuurgemeenskap te beleef en om ʼn nuwe Afrikaner-middelgrond te skep, het hy gesê. “Ons is vandag steeds onbeskaamd trots Afrikaner.”

Afrikaners het die krisis van Britse imperialisme met onderskeiding geslaag en sal ook die kulturele imperialisme van u regering met onderskeiding slaag, het Langner gesê.

“Momente skep en monumente deur selfdoenaksies bou, is deel van ons historiese DNA. Vandag is ʼn moment. Deur ons selfdoenaksies word hier reeds nuwe monumente vir ons nageslag gebou.”

Hy het afgesluit met die woorde: “Nie Willem Adriaan van der Stel, Lord Roberts óf Kitchener het ʼn groot genoeg uitveër gehad om ons uit te vee nie. Meneer die President, ons sal nie uitgevee word nie!”

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

Dit is net jammer dat al die skole, hospitale, paaie selfs plase wat deur Afrikaners hier gebou/ontwikkel is, nou onder die ANC se bewind heeltemal vervalle raak. Hulle plaas nie eers hulle EIE kinders in staatskole nie. Hulle vorige leier, Nelson Mandela, het nie eers sy gesondheid aan staatshospitale toevertrou nie. Al die vorige staatshoofde het altyd behandeling ontvang in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria, maar nie eers DAAR wou hy behandeling ontvang nie. Paaie raak so vol slaggate, dat dit in tolpaaie omskep moet word nadat dit herstel is. Die plase wat vir meer as 300 jaar voldoende voedsel aan AL ons bevolkingsgroepe voorsien het, kan nie eers suksesvol deur die nuwe eienaars bestuur word nie en moet noodgedwonge teruggeneem word! Hulls is besig om HULLESELF uit te vee!!!

Gerhard Bezuidenhout ·

Ek is bevrees die wind waai wes as enigiemand reken dat Zuma en sy kaders enigsins die verstand sou he om hierdie waar beskrywing van die blanke se reuse bydrae tot die ontstaan en ontwikkeling van die beskawing in Suid Afrika sal besef ,want al hulle ratte kan nie inskakel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.