Ons wíl hier bly vir die kinders – Helpende Hand


dr-Danie-Brink

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand. Foto: Argief.

Ons mág, kán, móét, gáán en wíl hier bly vir die kinders – dit is die boodskap wat dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand vandag aan die nagenoeg 1 500 gaste by die Solidariteit Beweging se Krisisberaad in Pretoria gegee het. Die beraad word vandag by die Voortrekkermonument aangebied om die toenemende tekens van agteruitgang in die land onder die soeklig te plaas en planne daar te stel om die Afrikaner-gemeenskap daarteen te beskerm.

Brink het dit in sy toespraak duidelik gestel dat Helpende Hand se fokus op kinders en opleiding van kardinale belang is vir Afrikaners se toekoms in Suid-Afrika. “Ons fokus veral op die toekoms van ons kinders en beywer ons om te voorkom dat ons kinders eendag in armoede verval,” het Brink verduidelik. “Omdat ons goeie akademiese vordering op skool, opleiding, skaars vaardighede en kwalifikasies sien as dié voertuie om kinders se swaarkry te voorkom, is dit waarin ons belê.”

Helpende Hand se belegging in ’n beter toekoms vir Afrikaners staan miljoene rande sterk. Dié organisasie het vanjaar alleen meer as R26 miljoen in die opleiding van Afrikanerjeug belê deur die toekenning van rentevrye studielenings. In die afgelope sewe jaar het meer as 4 600 studente by dié projek gebaat. Daarbenewens is daar in die afgelope ses jaar meer as 25 000 skooltassies en skryfbehoeftes aan behoeftige graadeens uitgedeel. Meer as 150 000 Afrikaanse leerders baat ook reeds by die goeie wiskunde-onderrig wat hulle ontvang danksy die opleiding wat deur Helpende Hand aan wiskunde-onderwysers gegee word. Meer as R1,5 miljoen is in 2014 bestee aan werkskeppingsprojekte. Verskeie ander projekte, insluitend ’n aanlyn werksoekplatform en projekte ter ondersteuning van behoeftige bejaardes, vorm ook deel van Helpende Hand se fokus.

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dit bewys weer eens: as ons Afrikaners saamstaan, kan ons ENIGIETS vermag. Kyk net na ons voorouers – NIKS kon hulle onderkry nie! Laat hulle vir ons ‘n voorbeeld wees!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.