‘Ons word aangeval …’ maar skote klap toe boervrou terugveg

(Argieffoto: Kent Williamson)

“Dit is genade. Dit is genade dat ons almal orraait is. Die Liewe Vader het ons bewaar. Hy het ons op ons hoede gemaak.”

Só het Fanie Ferreira (51), ʼn Oos-Kaapse beesboer, gesê nadat sy vrou, Marlene (48), Vrydagaand in ʼn kantoor op hul plaas naby Jeffreysbaai aangeval is. Hulle 14-jarige dogter was in die hoofhuis net langs die kantoor.

Marlene het omstreeks 20:30 nog in die kantoor gewerk, terwyl Fanie ʼn paar honderd meter verder met ʼn taak elders op die plaas besig was.

“My vrou het die wapen langs haar rekenaar gehad. Sy het iemand gesien verby loop, maar hulle het haar nie gesien nie. My dogter het gesien hoe iemand die deur van die huis stadig probeer oopmaak en geweet dis glad nie hoe een van ons dit sou doen nie. Sy het nie reageer nie.

“Hulle het omgedraai en my vrou binne-in die kantoor gesien,” het Fanie gesê.

Marlene het die twee ook opgemerk, platgeval en dadelik vir Fanie gebel. “Toe ek die foon antwoord, kon ek hoor daar is ʼn groot gemors aan die gang,” het hy gesê, al het sy vrou in dié stadium nie ʼn woord gesê nie.

Hy het met sy motorfiets na die huis begin terugjaag en Marlene teruggebel. “Sy het net geskree ‘ons word aangeval’. Dit was verskriklik. Allerhande goed gaan deur jou kop. Op pad huis toe het ek geestelike oorlogvoering gemaak en gejaag so vinnig ek kon.”

By die huis het een van die aanvallers met sy vuurwapen aan die venster by Marlene se kantoor geklop. Sy makker was met ʼn skroewedraaier gewapen. Een van die mans het ʼn skoot deur die venster geskiet en klippe deur die ruite gegooi, waarna die aanvaller met die skroewedraaier deur die venster na binne gespring het.

Hy het Marlene met die skroewedraaier toegetakel en onder meer in die kop gesteek. Sy het haar vuurwapen in die hande gekry, vier skote gevuur en hom in die bolyf getref. Daarna het sy die kantoorlig afgeskakel en nadat die man se makker verder op haar losgebrand het, van binne die kantoor op hom teruggeskiet.

Fanie het gesê die man het vermoedelik kort daarna gevlug. Die polisie se voorlopige ondersoek dui daarop dat minstens drie mense by die aanval betrokke was. Sy gewonde makker is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

Marlene is ook vir haar beserings behandel. “Sy is fine. Sy het lyfseer en kopseer, maar sit alreeds weer voor die rekenaar.”

Die egpaar se dogter was ongedeerd nadat sy in die huis geskuil het. “My dogter het die skote gehoor. Sy het gedink haar ma is dood …”

Volgens Fanie het inwoners van die gebied – selfs diegene wat kilometers ver woon – asook die polisie en veiligheidsmaatskappye blitsvinnig op hul noodoproep gereageer en saamgewerk ná die aanval.

“Mense is móég vir misdaad, maar daar kán iets aan gedoen word,” het hy gesê.

“Jy moet ʼn plan hê. Jy weet nie hóé hulle [die aanvallers] na jou toe kom nie, so jy moet verskeie planne hê. In dié geval het hulle eenvoudig deur ʼn venster gebars en van buite geskiet. Jy moet veilig wees as jy slaap. Doen wat jy kan, maar doen net iets,” het hy gesê.

“Dit gebeur binne sekondes, so jy moet voorbereid wees. Mense dink altyd dit kan nie met hulle gebeur nie en dan gebeur dit in ʼn oogwenk.”

Fanie sê sy raad is om so voorbereid as moontlik te wees. In hulle huishouding moet almal byvoorbeeld ʼn vuurwapen behoorlik kan hanteer.

“Ons was van die gelukkiges wat deur die genade nog almal hier is. Ons wil in Suid-Afrika bly. Ons plek is hier. Niemand van ons wil emigreer nie. [Sulke aanvalle] kan met die hulp van die gemeenskap en polisie gestop word.”

Hy sê as plaasmense het hulle ʼn groot liefde vir die buitelug en dat dit jammer is dat jy jouself deurlopend moet bewapen in ʼn poging om veilig te bly. “Maar jy doen wat jy kan om jou familie te beskerm.”

Hy glo ook dat behoorlike samewerking tussen die gemeenskap en owerhede soos die polisie, asook deurlopende paraatheid van inwoners, tot ʼn afname in voorvalle kan lei.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het gesê die man wat tydens die aanval gewond is, gaan na verwagting nog minstens twee weke lank gehospitaliseer word. Hy sal daarna in die hof verskyn. Die soektog na die ander betrokkenes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Joes ·

@Johan, nee wat, hulle moet gevang word voor borgtog kan kry.

Werner ·

Hy gaan sommer ontsnap nog voor hy die polissie stasie gesien het wat nog te se n hof

Sê maar net ·

Fantasties, dis hoe dit gedoen word. Ons moet op ons hoede wees. Indien die ouens gevang word, is dit maar ‘n raaisel wat gebeur met hulle. Dis tog poging tot moord, maar hulle kom soos niks los nie

Rm ·

Hopelik is hy in n staatshospitaal, die tipe moet eintlik geen behandeling kry nie, gemors van die aarde

Riaan ·

Wonder of die uwe prez hulle ook gaan besoek. Of gaan by dalk vir Panyaza stuur.
Dankbaar hulle leef

Strandloper ·

Sjoe…klink soos n scary movie! Baie bly hulle is almal ok! Wys jou net as jy voorbereid is kan NIKS ons onder kry nie! “God is not dead”

Andre Stander ·

Reëls vir oorlewing in die nuwe “demokratiese” suid afrika:
1. Besit n vuurwapen.
2. Hê hom byderhand.
3. WEET hoe om hom te kan gebruik!

Of word deel van die statistiek waarna geen haan sal kraai die volgende dag…

Francois ·

Dit moes n nagmerrie gewees het, maar mevrou jy het jou famillie n gewisse martelingsdood gespaar – wees bitter trots op jouself want ons is.

Dink vir n oomblik as Marlene nie n vuurwapen gehaad het of byderhand gehaad het nie – bv dit die kluis toegesluit was…

Wees paraat mense – verwag hulle op die onverwagste tyd en wees gereed met n plan wat jou hele gesin deeglik ken en kan uitvoer.

Baie sterke met jou hestel Marlene.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.