Onsekerheid oor Eskom se Koko

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Vrydag gesê die proses om ʼn nuwe permanente groep- uitvoerende hoof vir Eskom aan te stel is “ʼn prioriteit” en dat die finalisering van die ondersoek na geskorste uitvoerende beamptes van “noodsaaklike belang” is.

Dit kom nadat die nuus Vrydag aan die lig gekom het dat Matshela Koko, die geskorste waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, glo onskuldig bevind is in die uitgerekte dissiplinêre verhoor teen hom, en dat Eskom beveel is om hom weer aan te stel.

Koko het ses aanklagte in die gesig gestaar, onder meer die beweerde versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat die afdeling wat hy bestuur ʼn tender toegeken het aan die maatskappy waarin sy stiefdogter aandele het.

Brown het die media tydens ʼn spesiale algemene vergadering by Eskom se hoofkantoor in Johannesburg toegespreek en gesê sy is nie in kennis gestel van die uitkoms van Koko se dissiplinêre verhoor nie en dat die raad haar nog daaroor moet inlig. “Een van my eerste instruksies aan die raad was om te begin met die proses om ʼn nuwe groep- uitvoerende hoof aan te stel as ʼn saak van prioriteit,” het Brown gesê.

“Die finalisering van die ondersoek na alle geskorste uitvoerende beamptes is van noodsaaklike belang om die raad se reputasie te herbou en beleggersvertrou te wen. Verder versoek ek dat alle kwessies wat tot ʼn gekwalifiseerde ouditmeting gelei het aangespreek word, aangesien die maatskappy nie kan bekostig om ʼn herhaling van die huidige finansiële jaar te hê nie.”

Zethembe Khoza, voorsiter van die Eskom-raad, het gesê hy sal nie kommentaar lewer oor Koko se dissiplinêre verhoor totdat hy Brown ingelig het nie.

Die spesiale algemene vergadering is saamgeroep om die kragvoorsiener se nuwe raad van direkteure voor te stel, nuwe raadslede te verwelkom en om ʼn bondige stel kort- tot medium-termyn opdragte te kommunikeer.

Brown het in ʼn oënskynlike kap na Markus Jooste, die uitvoerende hoof van Steinhoff wat verlede week bedank het, gesê om in die huidige omstrede politieke- en sakeomgewing as raadslede van maatskappye in staatsbesit te dien is “nie vir sissies” nie.

“In teenstelling met diegene wat op die rade van private maatskappye dien, sal jy met agterdog en wantroue beskou word. Hulle maak ‘rekeningkundige foute’ terwyl jy vatbaar is vir korrupsie, kaping, hebsug en kwaadwilligheid,” het Brown gesê.

“Met wie hulle assosieer, is onbelangrik – hulle noem dit steunwerwing; jy moet versigtig wees saam met wie jy gholf speel, want dit sal as bewyse teen jou gebruik word. Baie het al agteroor gebuig en wawiele en bollemakiesies gemaak om korrupsie in die private sektor fundamenteel verskillend as korrupsie in die openbare sektor te verklaar. Die waarheid is dat hulle ewe afstootlik en fundamenteel onafskeidbaar is.”

Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder vir openbare ondernemings, het die proses wat Koko van blaam onthef het as ʼn “klug” bestempel en gesê die opposisieparty sal aanklagte teen Koko aanhangig maak. “Aangesien Eskom en [Brown] nie in staat is om die oënskynlik gekaapte en swaar geïmpliseerde Koko aanspreeklik te hou nie, hang dit nou van die Valke af om die saak te ondersoek,” het Mazzone gesê.

Sy het gesê dit sluit bewerings in dat Koko winsgewende Eskom-kontrakte ter waarde van R1 miljard aan Impulse International, ʼn maatskappy wat met sy stiefdogter verbind word, toegeken het. “Hy was ook na bewering betrokke by die goedkeuring van ʼn R650 miljoen-lening van Eskom aan die Gupta-gekoppelde Tegeta om te verseker dat die Guptas Optimum koop,” het Mazzone gesê.

“Dit is redelik duidelik dat hierdie dissiplinêre verhoor nooit bedoel was om die ernstige bewerings teen Koko te ondersoek nie, maar eerder ʼn skuif om hom weer aan te stel. Die verhoor was van die begin tot einde ʼn algehele en absolute klug.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LV ·

Haar lyftaal op die nuuskonferensie het gewys sy weet reeds wat uitspraak teen Koko is. Praat van volstruis!

Frikkie Geld en huis ·

Ek het regtig geen probleem daarmee as hy ‘n kontrak toeken aan ‘n maatskappy waarin ‘n aangetroude familielid ‘n aandeel het nie. Solank die maatskappy bevoeg is om die werk te doen en die tenderprys nie gelaai word nie.

Hansie slim ·

Frikkie, jy laat een baie belangrike stap uit:
Was die korrekte tenderproses gevolg? Was die beoordeling van tenders nie beïnvloed nie?
Al was die pryse nie gelaai nie, maar wel goedkoper, kon daai prys gekook gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.