Onsekerheid oor reën in 2016

droogte

Foto: Skymetweather.com

Hoewel die ergste invloed van die El Niño-weerverskynsel besig is om af te plat, moet Suid-Afrikaners nie noodwendig hulself voorberei op baie reënval later vanjaar nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het in sy onlangste klimaatvoorspelling gesê duidelike kenmerke van El Niño (wat warmer temperature en droëer weerstoestande meebring) is steeds sigbaar, maar sal na verwagting gedurende die wintermaande heeltemal neutraliseer.

Cobus Olivier, ʼn wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Woensdag verduidelik die algemene persepsie, dat El Niño outomaties deur La Niña gevolg word, is nie akkuraat nie. La Niña word as die teenoorgestelde van El Niño beskou en bring koeler weer en reënval mee, wat soms selfs tot vloede kan lei.

“El Niño kan moontlik deur La Niña gevolg word, maar ons kan moontlik ook na die winter weer in El Niño inbeweeg, wat nog ʼn paar droë maande kan beteken,” het hy gesê. “Dit is onmoontlik om nou akkuraat te voorspel wat gaan gebeur. Die modelle wat nou gebruik word om die weer te voorspel, is te wisselvallig om ʼn akkurate voorspelling te maak. Ons kan gewoonlik eers so teen Junie/Julie, selfs dalk eers begin Augustus, met meer sekerheid sê wat vir die somermaande verwag kan word.”

Olivier het gesê vir die komende winter word min reën in die noord-oostelike deel van die land verwag, maar aangesien dit ʼn somerreënvalstreek is, is dit nie buitengewoon nie. Daar is nie sekerheid oor die verwagte reënval vir die suid-westelike deel van die land nie.

Intussen kan Suid-Afrikaners ʼn warmer winter as gewoonlik te wagte wees, maar baie koue temperature sal steeds ervaar word, al is die gemiddelde wintertemperature hoër as gewoonlik, het Olivier gesê.

Die departement van landbou het vroeër vandeesmaand gesê die Suid-Afrikaanse landboubedryf verloor ongeveer R16 miljard weens die droogte wat talle boere in die land geraak het. AgriSA het vroeër gesê die landwye droogte is die ergste wat sedert 1992 aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.