Onskuldige Pta-man vry ná 11 jaar agter tralies

Thembekile Molaudzi buite die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria, minute nadat hy vrygelaat is. Foto: Carolyn Raphaely/Wits Justice Project

Thembekile Molaudzi buite die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria, minute nadat hy vrygelaat is. Foto: Carolyn Raphaely/Wits Justice Project

ʼn Man wat 11 jaar lank agter tralies was vir ʼn misdaad wat hy nie gepleeg het nie, het Vrydag uiteindelik uit die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria na sy vryheid gestap.

Thembekile Molaudzi (37) het net ʼn pak dokumente en ʼn paar kledingstukke in sy hand gehad toe hy uiteindelik, na meer as ʼn dekade se ondenkbare beproewings en stryd om sy onskuld te bewys, vrygelaat is.

Carolyn Raphaely, senior joernalis by die Wits Justice Project (WJP), het hom nou bygestaan in sy stryd. Raphaely het Dinsdag aan Maroela Media vertel hoe Molaudzi se nagmerrie in 2002 begin het toe Dingaan Makuna, ʼn polisiebeampte van Mothutlung, gedurende ʼn mislukte kaping vermoor is.

Agt mans, insluitend Molaudzi, wat in daardie stadium ʼn taxibestuurder was, is in hegtenis geneem en moes in uitkenningsparades verskyn. Makuna se dogter, wat gesien het hoe haar pa vermoor word, het vier verdagtes uitgewys, maar nie vir Molaudzi nie. Hy is egter nooit vrygespreek nie, omdat ʼn medebeskuldigde beweer het dat hy ook by die misdaad betrokke was.

Geen buskruit is op Molaudzi gevind nie, daar was geen ooggetuies om teen hom te getuig nie, sy vingerafdrukke is nie op die toneel gevind nie en daar was ook geen onafhanklike bevestiging van sy betrokkenheid nie, maar ʼn verbroude ondersoek en swak speurwerk het egter daartoe gelei dat hy lewenslange tronkstraf opgelê is, het Raphaely gesê.

“Onmiddellik ná hul skuldigbevinding is die mans na Pretoria C-maksimumgevangenis gestuur waar hulle moes kaal uittrek en vir geen rede nie deur bewaarders gemartel is,” het sy gesê. Volgens Molaudzi is hulle glo geklap en “vir die pret” met skokskilde geskok. Hy is ook vir vier jaar lank in afsondering geplaas.

‘Ek is onskuldig’

Volgens Raphaely het Molaudzi dadelik probeer om sy verhoor-transkripsies te bekom sodat hy sy skuldigbevinding kon appelleer, maar dit was byna onmoontlik. Die Mafikeng regshulp-advokaat wat Molaudzi verteenwoordig het, het aanvanklik beweer die transkripsies is in ʼn brand by sy kantoor verwoes.

Ná ʼn twee jaar lange stryd om die transkripsies te bekom, het die rekords uiteindelik onvolledig by Molaudzi aangekom. Pogings om die volledige transkripsies te bekom was tevergeefs. Briewe aan die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, die Openbare Beskermer, die Regsdienskommissie en die Mensregtekommissie het onbeantwoord gebly.

Dit was eers in 2012 nadat Levi Maphakane, ʼn bewaarder wat in Molaudzi se onskuld geglo het, die WJP gekontak het, dat hy stadig begin het om vordering te maak.

“Ek het met Molaudzi by die tronk vergader en het dadelik van hom gehou,” het Raphaely gesê. “Natuurlik is die tronk vol gevangenes wat beweer hulle is onskuldig, maar daar was iets anders aan hierdie man. Hy is fisies ʼn baie groot man, omtrent twee meter lank, maar hy is ook moreel en spiritueel groot.”

Molaudzi se saak is daardie jaar uiteindelik in die hooggeregshof in Noordwes aangehoor, maar dit is van die hand gewys. Daarna het hy hom tot appèlhof gewend, maar daar is sy aansoek ook sonder enige rede uitgegooi.

Selfs tóé het Molaudzi hom steeds nie laat onderkry nie en met behulp van ʼn mede-gevangene, ʼn voormalige aanklaer, het hy sy appèl by die grondwethof ingedien. Sy aansoek sou moontlik nie suksesvol gewees het nie, as dit nie was vir ʼn soortgelyke aansoek wat deur sy medebeskuldigdes ingedien is nie.

Die hof het besluit om die saak aan te hoor en Molaudzi se skuldigbevinding is uiteindelik teruggetrek en daar is beveel dat hy onmiddellik vrygelaat word. Drie maande later het hy uit die gevangenis gestap.

ʼn Onseker toekoms

Raphaely vertel Molaudzi probeer nou die stukke van sy lewe optel na 11 jaar agter tralies en hy staar ʼn onsekere toekoms in die gesig. “Sy vrou was swanger toe hy in hegtenis geneem is en sy baba was drie maande oud toe hy tronk toe is. Vandag is sy seun 12 jaar oud; hy het sy hele kinderlewe misgeloop,” het sy gesê.

Hoekom het hy nooit opgegee nie en aanhou baklei vir sy vryheid? “Want hy is ʼn buitengewone man wat moreel ongelooflik sterk is en om gestraf te word vir ʼn misdaad wat hy nie gepleeg het nie, het hom vernietig. Sy vasbeslotenheid spreek net tot die kaliber van sy persoonlikheid en sy karakter,” het sy gesê.

“Hy het onlangs vir my gesê hy sukkel om aan te pas. Hy weet nie eers wat Facebook is of hoe Twitter werk nie. Hy het so baie gemis. Hy sê self hy kort sielkundige hulp. Maar hy is nie bitter nie. Ek hoop dat sy storie tot gevolg sal hê dat iemand hom iets buitengewoon aanbied sodat hy weer sy lewe van voor af kan bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Nic ·

WJP behoort werklik die moontlikheid van ‘n siviele eis te ondersoek.

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

It is, however heartbreaking stories like this, that are supposed to gripping your compassion and empathy as a human being. But those who just want to critise others and, the government intentionally overlooking heartbreaking issues like these. I am saluting this, brave and loyal South African, regardless of his social standing who had gone out of his way to prove the somewhat perfect SA Criminal Justice System completely wrong coz he has always believed in his innocence. All the stakeholders ranging from the prison warder, the former prosecutor need to be applauded for the share of securing the eventual outcome of this appeal by the appellant and moreover the WJP for bringing about justice in the end. No money in the world will be able to compensate for the physical, mental, emotional and psychological trauma that both this, person, his family had endured for 11 long years. The criminal justice system as a whole has grossly failed him | them and therefore should be compensated with a considerable amount of money without unnecessarily dragging out the susequent civil claim that has in all fairness has substance. And, his legal costs as well. On a ligthter note a millionare in waiting.

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

Matters like these need the support and empathy of all South Africans but where
are those now that, just want to grossly
critise the government and others. Sad they are however not addressing real pressing issues that, are impacting a little negative on our human rights. I would like to salute him for continueosly believing in his, innocence and, the support he got from a great warder, and former prosecutor. All stakeholders got to be applauded for a job well done. The criminal justice system on the whole had failed him and no has to put their money where their mouths were although such compensation would not be making up for all the psychological, emotional, trauma and physical scars he had to endured for so long. On a much lighter note to a great African brother to become an advocate and special in cases like these and enjoy your millioniare status.

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

Matters like these need the support and empathy of all South Africans but where
are those now that, just want to grossly
critise the government and others. Sad they are however not addressing real pressing issues that, are impacting a little negative on our human rights. I would like to salute him for continueosly believing in his, innocence and, the support he got from a great warder, and former prosecutor. All stakeholders got to be applauded for a job well done. The criminal justice system on the whole had failed him and no has to put their money where their mouths were although such compensation would not be making up for all the psychological, emotional, trauma and physical scars he had to endured for so long. On a much lighter note to a great African brother to become an advocate and special in cases like these and enjoy your millioniare status.

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

Thanks, Nick. No, doubt as a professional in SA jurisprudence that, he will be highly
successful in litigating against the CJS of
our country. The system had grossly failed him. Let them (the SA Criminal Justice System) put there money where there money is.

Capt. (Retired) Paulus Antonio ·

No, need for harboring bitterness Juan, although it is or will be pretty human. He has a great spirit and spiritually larger than life. The words says be angry but sin not. And, this exactly what he is, doing.

tina ·

Ek haat onreg met ‘n passie en stem 100% saam Nic. ‘n Verskriklike onreg deur ‘n absolute swak regsgelsel van die begin van sy saak af, met onbevoegde polisie wat onbekwaam is om ordentlike ondersoeke te doen. Geen geld kan vergoed wat hierdie man en moontlik ander onskuldiges moes en moet deurmaak, nie eers te praat van die verlore tyd met sy gesin. Dankie vir mense by WJP wat hom bystaan en Levi, die tronkbewaarder.

Niel ·

Verbroude ondersoek en swak speurwerk? Mens word in die hof verhoor waar jy jou mond moet oopmaak as jy onskuldig was. Moenie die polisie die skuld gee as dit duidelik die howe was wat verbrou het nie!

Stan Basson ·

Stem saam met jou Neil
Die rusbank kritici is altyd voor in die koor om pak uit te deel as dit kom by die polisie . “Swak ondersoek wat lei tot skuldig bevinding” hoe belaglik . Dit is die hof se plig om dan ‘n saak uit te gooi / terug te trek as daar te min bewyse / getuienis is . Ondersoek die polisie ‘n saak ook hoe goed en die beskuldigde word onskuldig bevind weens gebrek aan voldoende getuienis kry die polisie ook pak . Alle sake kan nie altyd bewys word nie maar die redenasie dat swak ondersoek werk wat lei tot skuldigbevinding van onskuldige mense die polisie se skuld is , aikona ! Daai kite gannie vlieg nie !!

Rln uit New Zealand ·

Ek hoop hy kry sommer baie geld vir al die jare wat hy opgeoffer het…

Peet Schabort ·

Mampara-werk wat gemaak het dat hy in Kgosi Mampuru geland het. Wat nou van dié wat hom in die gevangenis gemartel het ?
Dit wys net weer hoe maklik jy aan die pen kan ry oor dinge waarin jy geen aandeel (gehad) het.

debs ·

Ek hoop van harte dat die man so sterk gaan bly om sy lewe weer op te tel en aan te pas met hulp. Hy het groot genoeg rede om die SAP te dagvaar vir die skade en swak werk. Ek haat onregverdigheid, … want hoe bewys ‘n mens so die sy onskuld?? Sterkte vir wat voorle.

Eliza-beth ·

Mense, DIS hoekom ek teen die doodstraf is. BAIE onskuldige mense is al gehang, glo my. In VSA het Oprah eenkeer ‘n klomp mans gehad wat op hul “deathrow” was – onskuldig. Hulle het JARE van hul lewens verloor en alyd die hel van dat hulle dalk die doodstraf kry voor hul kan bewys hulle is onskuldig! Nee dis te skrikwekkend om aan te dink as ons dit nog in ons land moes hê. So kom vertel nou maar vir my daar is hope mense wat wel skuldig is en dit beslis bewys is en hulle verdien dit. Ek sê steeds nee, hierdie berig hierbo is ‘n bewys dat mens nie ligtelik daaroor moet dink nie.

Se maar net ·

Die tyd kan nooit vervang word wat hy agter tralies was nie, maar ek is oortuig dat hy vergoeding van die staat kan kry. Maar dit sal seker nog 20 jaar neem voor hy ‘n sent ontvang.
Sterkte aan hom en sy gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.