Onstuimige ampstermyn voor Mkhwebane se doppie geklink word

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Binne 100 dae nadat oudpres. Jacob Zuma destyds adv. Thulisile Madonsela se opvolger as Openbare Beskermer (OB) in Oktober 2016 uit ’n lys van meer as 60 kandidate aangewys het, het die wiele begin afkom.

Adv. Busisiwe Mkhwebane is kort ná haar aanstelling reeds fel gekritiseer vir onder meer die veranderinge wat sy by die kantore van die OB aangebring het. Die veranderinge het destyds ingesluit die verandering van die TV-kanaal in haar kantoor na uitsluitlik dié van ANN7 om na bewering die ideologiese ingesteldheid van die personeel te verander.

Fluisteringe van beweerde spioenasie, noue bande met die omstrede Gupta-familie en beskuldigings van onbevoegdheid het daarna al hoe meer kop uitgesteek.

Teen Augustus 2017 is haar eerste aanbeveling as OB ter syde gestel.

Menige verslag van Mkhwebane sou daarna ook ter syde gestel word voordat sy, ná byna sewe jaar en R160 miljoen in regskoste, uit die kussings gelig is. Mkhwebane is nou die eerste OB om uit die amp verwyder te word.

Die DA het Mkhwebane se aanstelling uit die staanspoor teengestaan. Volgens die opposisieparty was Mkhwebane se bande met spioenasiedienste net té knus. Verskeie ander partye het daarna hul stemme gevoeg by die koor wat toenemend Mkhwebane se kop geëis het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in Januarie 2017 ʼn verslag oor Mkhwebane se eerste 100 dae in die amp bekend gestel. Van die omstrede besluite wat daarin opgeneem is, het ingesluit Mkhwebane se kritiek op haar voorganger (Madonsela) in die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste; die beweerde verandering van die TV-kanaal in die OB-kantore van eNCA na dié van ANN7; die besluit om nie Zuma of oudminister Des van Rooyen se interdik teen die staatskapingsverslag teen te staan nie; die saak wat sy by die polisie aanhangig gemaak het in verband met die lek van klankopnames wat die staatskapingsonderhoud tussen Madonsela en Zuma bevat het; en die geval met Madonsela se personeelhoof, wat na bewering deur sekuriteitspersoneel uit Mkhwebane se kantoor vergesel is.

Hierna volg Mkhwebane se voorstel om die mandaat van die Reserwebank te verander. ’n Hof het egter in Augustus 2017 in die Reserwebank se guns beslis en Mkhwebane se aanbeveling om sy grondwetlike mandaat te verander is ter syde gestel.

(Argieffoto: Twitter)

Daar het in daardie stadium ook ’n herrie gewoed oor die OB se omstrede Bankorp-verslag waarin sy aanbeveel het dat die spesiale ondersoekeenheid die R1,125 miljard moet verhaal wat Absa, voorheen Bankorp, in die 1980’s van die Reserwebank as reddingsboei ontvang het.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het egter in Junie 2017 ʼn dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien om dié omstrede verslag ter syde te laat stel. Die hof het die aansoek in Februarie 2018 toegestaan.

Daar is ook destyds beslis dat Mkhwebane persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir ʼn gedeelte van die regskoste in die hofstryd tussen haar en die Reserwebank.

In 2019 is Mkhwebane se verslag oor die omstrede Estina-suiwelprojek op Vrede in die Vrystaat – waarin die OB versuim het om die destydse Vrystaatse premier Ace Magashule en Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, te ondersoek – ook ter syde gestel.

Die hooggeregshof in Pretoria het daardie jaar ook die OB se aanbevelings teen Pravin Gordhan ter syde gestel hangende ʼn hersieningsproses.

Gordhan het destyds dié hofaansoek ingedien om die remediërende optrede wat die OB in haar verslag oor die sogenaamde “rogue”-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aanbeveel het, te verhoed tot die hersiening van die verslag afgehandel is.

In daardie stadium het die DA reeds aan die speaker van die parlement geskryf en gevra dat die parlement oorweeg of Mkhwebane geskik is vir die pos van OB.

John Steenhuisen, toe nog die DA se hoofsweep, het destyds gesê Mkhwebane het in drie jaar nog niks gedoen om hom te oortuig dat sy vir die pos geskik is nie.

Die res van Mkhwebane se ampstermyn het ook nie glad verloop nie en sy het verskeie kere en in verskeie howe bloedneus gekry voordat die art. 194-komitee op 16 Maart 2021 op die been gebring is om ʼn grondwetlike ondersoek te doen na Mkhwebane se geskiktheid om die amp te beklee.

Die getuienis van tientalle getuies is tydens die ondersoek aangehoor oor die ondersoeke wat Mkhwebane in haar tyd as OB gedoen het, verslae wat op hersiening geneem is en die kultuur in die kantoor van die OB.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Junie verlede jaar besluit om Mkhwebane te skors, dae nadat sy ’n ondersoek na die Phala Phala-sage gelas het.

Die land se hoogste hof sou later Mkhwebane se skorsing bekragtig nadat die hooggeregshof in Kaapstad in September verlede jaar bevind het dat Ramaphosa se besluit om Mkhwebane te skors onregmatig en ongeldig was.

Die proses om ʼn nuwe OB te benoem om die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, te vervang, is tans aan die gang.

Die DA is egter van die mening dat nie ʼn enkele kandidaat met wie ʼn onderhoud vir die pos van OB gevoer is, onder wie die waarnemende Openbare Beskermer, adv. Kholeka Gcaleka, geskik is vir die amp nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Die aanstelling as O B sal verseker ‘n kader van Ramaphosa en die a n c wees.Ek glo die huidige waarnemende O B sal die pos kry al weet sy van die grondwet en regstelsels net so min as ‘n kat van godsdiens af.

Johann ·

Absolute teksboek voorbeel van onbevoegde mags mal kader! Onaantasbaar en onverandwoordbaar vir haar vergrype.

JohanR ·

Ek onthou die dag toe sy by die OB voordeur instap toe dag ek al klaar hoe arrogant sy voorkom. Gewoonlik as jy ‘n werk by iemand anders soos Thuli Madonsela oorneem dan se jy darem dankie, en neem van haar en die werk afskeid. Dink nie die een wat oorneem gaan veel beter wees nie, want sy het ONDER die een gewerk. Maak ons as parlement maar net die selfde foute oor en oor en oor?

Di ·

Hierdie vrou is net soos Zuma, geen einde nie. SO bly om uiteindelik van haar aanhoudende sages ontslae te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.