Onstuimigheid oor NMB-leierskap

Athol Trollip, die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Facebook

ʼn Dag vol politieke bedrywighede word vandag in Nelson Mandelabaai verwag in aanloop tot ʼn belangrike raadsvergadering wat moontlik ʼn einde kan bring aan die brose DA-geleide koalisieregering onder die leierskap van burgemeester Athol Trollip.

Met al die ander opposisiepartye wat aangedui het dat hulle Trollip by Donderdag se spesiale raadsvergadering wil uitstem, blyk dit dat die toekoms van die DA-geleide koalisie in die stad berus by die Patriotic Alliance (PA) se stem.

PA-raadslid Marlon Daniels het Dinsdag gesê nog geen ooreenkoms is gefinaliseer nie.

Daniels het in Augustus verlede jaar ʼn mosie ingedien om die voormalige adjunk-burgemeester, die United Democratic Movement (UDM) se Mongameli Bobani, te verwyder. Dié mosie was uiteindelik suksesvol.

Na afloop hiervan het Daniels by die DA-geleide koalisieregering aangesluit, maar drie maande later hom weer onttrek.

Die PA het gedreig om sy ooreenkoms met die DA te beëindig indien Daniels nie gekies word as die adjunk-burgemeester nie. Daniels was destyds vasbeslote dat hy benoem moet word vir die vakante posisie van adjunk, maar Trollip het volgehou dat die posisie vakant moet bly.

In November het Daniels en Bobani ʼn mosie van wantroue in Trollip en die speaker, Jonathan Lawack, ingestel, wat nie suksesvol was nie aangesien die EFF teen daardie tyd vir Trollip gesteun het.

Die PA was egter vasbeslote om die posisie van adjunk-burgemeester op te raap, asook die polisie van politieke hoof van veiligheid en sekuriteit.

Vroeër vandeesmaand het die EFF, wat die DA gehelp het om ná die plaaslike verkiesing in Augustus 2016 beheer by die ANC oor te neem, ʼn mosie van wantroue in Trollip ingedien. Die EFF het die ondersteuning van elke ander opposisieparty, insluitend die ANC, nodig om die 61-stem meerderheid in die raad van 120 setels te kry.

Die DA het saam met sy oorblywende koalisievennote, die Congress of the People (Cope) en die African Christian Democratic Party (ACDP), altesaam 59 setels, terwyl die ANC 50 het, die EFF ses, die UDM twee en die PA, AIC en United Front een elk.

Die DA sal vandag ʼn “Save Nelson Mandela Bay”-veldtog op die Vuyisile-plein hou in aanloop tot die raadsvergadering môre, terwyl die EFF-leier, Julius Malema, vanmiddag ʼn samekoms in die Nangoza Jebe-saal in New Brighton sal toespreek.

Die EFF het onderneem dat hy die DA sal “straf” omdat die party nie sy onlangse mosie vir grondonteiening sonder vergoeding in die nasionale vergadering ondersteun het nie.

“Ons praat op 28 Maart 2018 met die mense van Nelson Mandela[baai] oor die toekoms van hulle munisipaliteit. Ons is aanspreeklik teenoor ons mense, nie teenoor witheid nie [sic],” het Malema getwiet.

Trollip het die vorige mosie van wantroue teen hom oorleef deur die EFF se ses stemme, maar die rooi barette het intussen ʼn ommeswaai gemaak en gesê hulle sal ʼn geloofwaardige ANC-kandidaat soos Mcebisi Jonas steun.

Die ANC in die provinsie het sedertdien ontken dat hy al besluit het op ʼn burgemeesterskandidaat vir Nelson Mandelabaai.

Die ANC het Dinsdag in ʼn verklaring gesê gesprekke met ander opposisiepartye is nou in ʼn sensitiewe stadium. Die party het gesê hy sal die “pakket” wat Nelson Mandelabaai moet regeer deurgee voor Donderdag se raadsvergadering.

Dinge lyk egter steeds onseker nadat Gayton McKenzie, die PA se leier, Dinsdag in ʼn ope brief gesê het sy party sal nou die DA steun in die mosie van wantroue in Trollip.

McKenzie het gesê dat enige raadslid wat Donderdag teen Trollip stem, sal “deelneem aan ʼn aksie van rassisme”.

Hy het ook die EFF in die brief beskuldig dat dié party die grondonteieningskwessie gebruik as ʼn dekmantel vir “openlike rassisme”.

“Trollip het nie gister wit geword nie. Hy is wit gebore. Laat ons nie om die bos gelei word deur mense wat gemaklik was om die mag aan Trollip te oorhandig nie, maar nou skree hy is te wit na hulle smaak en moet gaan,” het die PA-leier gesê.

“Ons kan nie ʼn mosie van wantroue steun teen ʼn man wanneer die enigste grond vir hierdie mosie is dat die betrokke man toevallig wit is nie. Laat ons dit duidelik stel: Enigiemand wat Donderdag teen Trollip stem sal deelneem aan ʼn aksie van rassisme. Die PA sal nie deelneem hieraan nie, selfs al probeer die EFF dit nou voorhou as ʼn straf oor verskille oor grondonteiening.”

McKenzie het gesê Trollip sal nêrens heen gaan nie.

“Moenie ʼn fout maak nie, ek is ʼn voorstander van die teruggee van grond sonder vergoeding – maar nie deur die bitter en spuwinge van rassisme nie. Dit is iets waarmee ek nooit sal saamstem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.