Ontbinde liggaam ís dié van vermiste 10-jarige

Miguel Louw. Foto: Facebook.

Die erg ontbinde liggaam van ʼn jong seun wat op 3 September in Phoenix in KwaZulu-Natal aangetref is, is dié van die 10-jarige Miguel Louw.

Maroel Media het vroeër berig Miguel het op 17 Julie naby sy skool in Sydenham vermis geraak. Dié voorval het die land geruk en sy verpletterde gesin het ʼn R50 000-kontantbeloning “sonder enige vrae” vir sy veilige terugkeer uitgeloof.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend aan Maroela Media bevestig dat die liggaam wat gevind is wél die van Miguel is.

Sy liggaam is in Longburyweg in Phoenix aangetref toe beamptes na ʼn verdagte in ʼn onverwante voorval in dié omgewing gesoek het.

“Hulle het ʼn hond gebruik om die verdagte se spoor te volg toe die hond skielik in ʼn ander rigting begin hardloop het. Dit is toe dat hulle die erg ontbinde liggaam aangetref het,” het Mbele gesê.

Mohammed Vahed Ebrahim, ʼn man wat bekend is aan Miguel se familie, is in Julie ʼn paar dae ná die voorval in hegtenis geneem in verband met Miguel se ontvoering en is later aangekla van mensehandel.

Hy moet op 17 September weer in die hof verskyn. Mbele het gesê daar word nog nie in dié stadium ʼn klag van moord ook teen hom ondersoek nie. “Ons moet nou eers verder ondersoek instel om vas te stel of Ebrahim met Miguel se moord verbind kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Santjie ·

Waar daar ‘n rokie trek is gewoonlik ‘n vuurtjie – aan die ouers, baie jammer oor julle verlies.

VanAfrika ·

Die arme ouers en familie, my innigste simpatie is met julle, dis nie maklik om n kind te verloor, mag die Heer met julle wees in hierdie tyd van hartseer.

Lauren ·

Dit is verskriklik. Toe ek die nuus hoor, het ek gehoop dit is nie hy nie. Dus so hartseer vir sy ouers om finaliteit te kry.

Bernadette ·

Dis verskriklik, hoe kry mens ooit closure….hoe gaan jy aan. Bring die doodstraf terug en laat hierdie misdadigers boet vir hulle dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.