Jagters het Vrydag ʼn ontbinde liggaam in die Tholenirivier naby Butterworth in die Oos-Kaap opgespoor.
“Dit is vermoedelik ʼn man se liggaam,” het kapt. Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, gesê. “Die oorledene het ʼn rooi oorhemp met die woord “Uzzi” daarop, ʼn grys langbroek en grys drafskoene aangehad.”
Die polisie in Keibrug doen ʼn beroep op enigiemand wat ʼn familielid vermis om met hulle in verbinding te tree om die liggaam uit te ken.
ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal. -SAPA