Ontbinding van Noordwes-komitee verwelkom

Ace Magashule (Foto: ANA)

Die burgerregtegroep Sanco het die ontbinding van die ANC se Noordwes- provinsiale uitvoerende komitee verwelkom en gesê dit is ʼn stap in die regte rigting om die provinsie van die bestaan van faksies en onenigheid te reinig.

Paul Sebegoe, voorsitter van Sanco in Noordwes, het gesê die aanstelling van Job Mokgoro as sameroeper van die provinsiale taakspan is ook verwelkom. Sebegoe het verder gesê die ander individue wat op die taakspan sal dien moet onbaatsugtig, eerbaar en patrioties wees.

“Op regeringsvlak sal dit die premier in staat stel om die uitvoerende raad te versterk en mense aan boord te bring wat dienslewering in die belang van die gemeenskappe sal bespoedig, asook dié wat glo hul poste gebruik het om hulself te verryk te vervolg,” het Sebegoe gesê.

Sebegoe het ook gesê die bedanking van dr. Keneilwe Lydia Sebego as direkteur-generaal van Noordwes vandeesweek voorsien Mokgoro met ʼn geleentheid om die regte aanstelling aan die hoof van die provinsiale administrasie te maak.

“Bedankings en/of herontplooiings van openbare verteenwoordigers en beamptes moet hulle nie kwytskeld van strafregtelike vervolging vir hul wangedrag as daar weer vertroue in openbare instellings moet wees nie,” het Sebegoe gesê.

Maroela Media het vroeër berig  Ace Magashule, sekretaris-generaal van die regerende party, het dié nuus van die ontbinding Vrydag bevestig. Magashule het in Kaapstad gepraat na afloop van ʼn vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Magashule het gesê Supra Mahumapelo, die ANC se provinsiale voorsitter wat vroeër uit sy premierspos verwyder is, het aan die NUK-vergadering deelgeneem. Mahumapelo is dus nou sy pos as provinsiale voorsitter ook kwyt.

“Getrou aan die tradisie van die ANC en ʼn gedissiplineerde beweging, het Mahumapelo aan die gesprek deelgeneem en die uitslag daarvan ten volle aanvaar,” het Magashule gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

dejager ·

Een bewese korrupte skop ń ander bewese korrupte uit sy pos.Dit is nou skeinheilig.Daar word seker grappenderwys na die ANC as ń gedissiplineerde party verwys!

Paul ·

Jip, 100 vir jou. (Hy was mos as ‘n gedissiplineerde lid in die komitee opgeneem.)

John ·

…. en getrou aan die eerbares se tradisie is dit nie die laaste sien en hoor van die’ blikkantien nie. Die Supra’s en Ace’e sal die boksgevegte heerlik opgeklits hou soos dit die gebruik is…

Spike ·

Lees op Netwerk24 oor die Vrede melkplaas. Ace en almal betrokke moet aangekla word vir dieremishandeling. Dit is nog buiten die korrupsie klagte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.