Ontblotende reaksie op Winnie Mandela se dood

Winnie Madikizela-Mandela. Foto: Lindi Masinga/ANA

Politieke partye se reaksie op die dood van die omstrede politikus Winnie Madikizela-Mandela kan gesien word as ʼn duideliker weerspieëling van hul eie politieke posisie as dié van Madikizela-Mandela.

Madikizela-Mandela is gister in die ouderdom van 81 jaar in Johannesburg dood nadat haar gesondheid die afgelope paar jaar verswak het.

Die politieke reaksie op haar dood – komende na ʼn dekadelange loopbaan vol hoogtepunte, laagtepunte, sukses en omstredenheid – herinner aan die Amerikaanse skrywer Anaïs Nin se bekende waarneming: Ons sien mense nie soos hulle is nie. Ons sien mense soos ons is.

Van haar politieke tuiste, die ANC, is klem geplaas op haar vroeëre geskiedenis, die tydperk voor 1986, toe sy uit ANC-geledere bo kritiek verhewe was as leidende en lydende ikoon: vrou van die aangehoudene Nelson Mandela; vurige, welsprekende en professionele vryheidsvegter in eie reg; ʼn moeder geskei van haar kinders deur eensame opsluiting en ʼn banneling in die township van die Vrystaatse dorp Brandfort.

Geen sprak is gesprook oor die probleme wat om haar losgebars het in die laat 1980’s toe leidende binnelandse struggle-figure genoop gevoel het om hulle van haar te distansieer weens haar ondersteuning van halssnoermoorde of die verdwyning en moord op die jong aktivis Stompie Seipei nie.

Die rede waarom sy onthef is as adjunkminister en haar omstrede verskyning voor die Waarheid-en-versoeningskommissie het ook nie vir die ANC ter sprake gekom nie.

Namens die ANC het die sekretaris-generaal, Ace Magashule, Madikizela-Mandela bestempel as ʼn stryder van die bevrydingstryd, ʼn rewolusionêre vegter en ʼn staatmaker van die ANC as beweging. Magashule het opgemerk dat haar naam verewig sal wees in die geskiedenis as ʼn persoon wat ʼn vormende rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het.

Die ANC het dus eerder op haar indrukwekkende struggle-geskiedenis as haar meer onlangse dade gefokus. Die ANC-leierskap het die Mandela-tuiste in Soweto besoek om met die familie te simpatiseer.

In ʼn interessante verwikkeling kon die DA, die amptelike opposisie, nie ʼn enkele woord van kritiek vind om oor Madikizela-Mandela uit te spreek nie. In ʼn verklaring wat baie ure ná ander partye s’n verskyn het, het die DA-leier, Mmusi Maimane, gesê hy is “diep ontroer” deur Madikizela-Mandela se dood. Hy het haar ook bestempel as ʼn “helder lig”, met geen verwysing na haar omstredenhede of beweerde vergrype nie.

Die EFF het sy veldtog om die bevrydingsmantel by die ANC oor te neem voortgesit in sy reaksie op Madikizela-Mandela se dood. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het in ʼn harde klap na die ANC gesê Madikizela-Mandela was die rots wat deur die bouer verwerp is, en die swart vrouepresident wat Suid-Afrika ontsê is.

Die EFF het onderneem om wat hulle hul “ekonomiese bevrydingstryd” noem, in haar naam voort te sit.

Madikizela-Mandela het ʼn baie sterk persoonlike verhouding met die EFF-leier, Julius Malema, gehad en hy het emosioneel op haar dood gereageer. Hy het ook haar huis besoek om sy medelye met die familie te betuig.

Die Inkatha Vryheidsparty se reaksie het heeltemal gefokus op die persoonlike band wat die partyleier, Mangosuthu Buthelezi, met Madikizela-Mandela gehad het. In ʼn aanduiding dat sy vertelling vir baie mense as ʼn volkome verrassing sal kom, gee hy in sy reaksie toe dat die hegte verhouding nie welbekend was nie.

ʼn Meer genuanseerde reaksie uit opposisiegeledere het gekom van die UDM-leier, Bantu Holomisa, wat Madikizela-Mandela se bydrae tot die struggle erken het, maar sonder omhaal kon konstateer dat sy omstrede was en dat baie mense van haar verskil het. Hy het die ontslapene nietemin vir ewig gegroet in Xhosa, hul gedeelde moedertaal.

Die Vryheidsfront Plus het geen verklaring uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.