‘Ontbloter’ by laerskool vasgetrek

Argieffoto: aguri_art/ Pixabay

Die polisie het vandeesweek ʼn vermeende ontbloter glo letterlik met sy broek op sy knieë by ʼn Kaapstadse laerskool betrap.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het gesê die polisie het verlede Woensdag ʼn klagte van ʼn plaaslike laerskool in Parow ontvang van ʼn onbekende man wat homself glo by die skool aan verskeie leerders ontbloot.

“Daar is deur verskeie ooggetuies beweer dat die verdagte oor ʼn tydperk sy voertuig naby die skool se ingang sou parkeer waar hy dan onvanpaste seksuele dade ten aanskoue van die leerders sou uitvoer,” het Van Wyk gesê.

Die polisie het Donderdag ʼn opspooroperasie beplan waartydens beamptes sonder enige sukses voetpatrollies en waarnemings gedoen het. “Ooggetuies is ondervra en hul verklarings is verkry. Sommige van die leerders het onthul dat die verdagte hulle geld aangebied het om in sy voertuig te klim, maar hulle het geweier.”

Die polisie het Vrydag weer ʼn soortgelyke poging aangewend, maar daar was geen spoor van die verdagte nie.

“Maandag het die ondersoekbeampte, sers. Randall Davids, en sy kollega, sers. Conrad van Zyl, ʼn klopjag by die skool uitgevoer en die verdagte se voertuig in die omgewing opgemerk. Toe hulle die voertuig nader, het hulle opgemerk die bestuurder pas by die ooggetuies se beskrywing. Hulle het hom versoek om uit die voertuig te klim en opgemerk dat sy broek afgetrek is.”

Die 47-jarige man is net daar in hegtenis geneem. Die polisie het ʼn lasbrief verkry om die man se huis te deursoek en Woensdag is daar op verskeie elektroniese toestelle beslag gelê waarop daar na bewering kinderpornografie gevind is.

Die man moet binnekort in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met ontbloting aan minderjariges en die besit van kinderpornografie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lerato ·

Hierdie ontbloter moet sielkundige behandeling kry. Daar is bevind dat baie van die onbloters gewldadig as kinders behandel is

JEN ·

Nee hy moet met sy vrot brein in die tronk gaan sit vir die res van sy lewe. Verstaan nie hoe jy so mens net wil sielkundige behandeling gee nie!

marous ·

Die mense moet altyd een of ander sielkundige verskoning uitdink ….sodra hulle gevang word. Die kinders moet egter daarmee vrede maak al is hulle op laerskool!

Sarel Strydom ·

Nie rehabiliteerbaar nie. Gee nir om wat Sielkundiges vertel nie. Sal seker borgtog kry.

Aggg asseblief! ·

Elke molesteerder rn verkragter en moordenaar en ontbloter het kamme swaar gekry as kind.
Dis net n verskoning om nie die realiteite en verantwoordelikheid te vat vir hul aksies nie.
Hulle maak keuses as volwassenes en BESLUIT OM SLEG TE WEES.

LB S ·

Dis reg, aag asseblief, ‘n mens het ‘n keuse wat jy van JOU lewe wil maak. Maak reg wat ander aan jou verkeerd gedoen het is ‘n goeie begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.