Ontbyt help jou nié gewig verloor nie

Argieffoto: Pixabay

Daar is geen goeie bewyse dit help jou om gewig te verloor indien jy ontbyt eet nie, ook nie dat jy gewig aansit indien jy die maaltyd oorslaan nie.

Jare lank is geglo dat “die belangrikste maaltyd van die dag” deel is van die eetplan om mense te help om hulle gewig te beheer. Nuwe navorsing wat pas in die vakjoernaal British Medical Journal geplaas is, wys jou aptyt is nie groter later in die dag indien jy nie ontbyt geëet het nie.

Daar is selfs bevind die aantal kilojoules wat mense per dag inneem, is hoër by dié wat wel ontbyt gehad het. Die navorsing is ʼn metastudie  wat die resultate van verskeie ander studies tussen 1990 en 2018 ontleed het.

Vorige studies het klem daarop gelê dat ontbyt verbind word met ʼn gebalanseerde gewig. Die nuwe oorsigstudie het gekyk of daar ʼn verskil in mense se gewig is, tussen dié wat ontbyt eet en dié wat dit nie eet nie. Ander studies wat ingesluit is, het gekyk of die eet van ontbyt mense se daaglikse energie-inname, die aantal kilojoules, verhoog.

Die algehele daaglikse energie-inname was hoër in die groepe mense wat ontbyt geëet het, vergeleke met dié wat dit nie eet nie – gemiddeld sowat 240 kalorieë. (Die kalorie is as eenheid vir die meting van die energiewaarde van voedsel in dié navorsingstudie gebruik.) Die mense wat nie ontbyt gehad het nie, was ook gemiddeld 0,44 kg ligter.

ʼn Belangrike bevinding was dat die effek van ontbyt eet nie ʼn verskil tussen mense met  ʼn normale gewig, vergeleke met oorgewig mense, getoon het nie.

Argieffoto: Pixabay

Vorige studies het aangevoer om ontbyt te eet help met gewigverlies, want deur energie vroeg in die dag te verbrand, voorkom dit dat jy later te veel eet. Maar daar was nie ʼn metaboliese verskil tussen die groepe nie.

Ondanks die algemene opvatting is mense nie méér honger in die middag nie, of is daar enige verskil in die manier waarop hulle energie verbrand nie.

Die kenners het wel bygevoeg dit beteken nie jy moet jou manier van eet verander nie. Wat die studie toon, is dat ontbyt eet en gewigverlies nie met mekaar verband hou nie. Ontbyt eet is nie ʼn bewese strategie om te probeer verslank in volwassenes nie, en dit is belangrik dat kinders ontbyt eet.

Maar hoekom glo ons dit al soveel jare? Baie van die studies is eintlik in die laboratorium op klein soogdiere gedoen en min op mense. Baie mense met diabetes en dié wat aan vetsug ly, sal ook etes oorslaan, eerder as ander mense.

Dié soort waarnemings het gelei daartoe dat mense nie etes moet oorslaan nie, en het toe deel van die samelewing se reëls geword, sê prof. Tim Spector, ʼn kenner in genetiese epidemiologie aan King’s College in Londen.

Hy sê wat vir die een mens werk, werk nie vir die ander nie, en mense moet self vasstel wat die beste vir hulle is.  Sommige mense is geprogrammeer om eerder vroeg te eet en ander later in die dag. “Daar sal geen skade wees om ontbyt oor te slaan terwyl jy eksperimenteer nie.”

Daar is egter bewyse dat die 100 triljoen mikrobes in ons spysverteringskanaal wel daarby baat wanneer jy nou en dan vir ʼn dag vas.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hendrik UAE ·

Ek is geen ekspert nie maar ek weet die manne wat ontbyt gemis het in die weermag het meer”af getjop ”as die ander en meer omgeval op perade grond as die ander?Veral tydens basies.Ek mag verkeerd wees.

JS ·

Hendrik, dit sal afhang van die tipe kos wat mens eet ook. As jy meestal koolhidrate eet moet jy meer gereeld eet want jou lewer kan net ‘n beperkte hoeveelheid glukose stoor As jy egter meestal vet eet dan leer jou liggaam om vet as brandstof te gebruik en selfs maer mense het derduisende kaloriee se vet reserwes. Jou bloedsuiker vlakke is ook meer konstant op so dieet en derhalwe voel jy nie noodwendig honger nie. Daar is langafstand en ultra atlete wat so dieet volg (bv. Scott Jurek ) wat marathons of verder hardloop sonder dat hulle juis eet.

B ·

Ek hardloop redelik gereeld marathons en ultra marathons sonder die tradisionele opstopping met koolhidrate, en neem baie keer nie eens ontbyt voor so wedloop. (As ek ontbyt eet is dit hoogstens bv 2 gekookte eiers)
Neem ook weinig tot geen koeldranke / energiedrankies gedurende so wedloop, Comrades ingesluit. (Want ek is ‘vet-aangepas’)

Neef ·

Ek dink die bevinding en artikel mis dalk so bietjie die punt. of het nog net nie keto/banting/LCHF ondersoek nie. Dis nie wanneer jy eet nie, dis wat jy eet.
As jy ‘n keto tipe eetplan volg hoef jy nie gereeld te eet nie, in teendeel, jy word aanbeveel om minder gereeld te eet. As jy ‘n keto tipe eetplan volg, verander jou metabolisme en kry jou liggaam energie op ‘n ander manier. Ek doen dit nou al 5 jaar en dit werk vir my.

B ·

Dankie Elsabe, goed om bietjie iets anders te lees as die gewone ‘dieetkundige’ strooi.

@Neef, ek self is nou al vir 3j LCHF, maar het geleer dat mens nie alles deur net daardie bril hoef te bekyk. Daar is baie waarde in Elsabe se artikel.

Veronica ·

Ditsem!
Ek weeg my hele lewe lank niks meer as 60 nie en ek eet glad nie ontbyt nie
My bevinding is die dag as ek wel ontbyt eet , word ek baie honger voor 12 en as ek nie ontbyt eet nie , kan ek maklik uithou tot laat middag . . .
Punt is : Daar is mense wat nie ontbyt kan eet soggens nie en daar is mense wat nie sonder ontbyt kan gaan nie . . .
Doen wat vir jou werk

B ·

Dis nie net jy Veronica, ek ervaar dit ook so, en heelwat ander mense met wie ek dit getoets het.

As jy eers begin eet het in die vm is dit asof die ‘drang na kos’ (nie honger) baie groter is as wanneer mens weerhou om te eet gedurende daardie tyd.

Ek gaan baie dae deur met NET aandete, oefen ook op ‘n lee maag ens maar o wee, as ek die dag WEL ontbyt eet is dit sommer maklik middagete, versnapperinge, ens ens ook nog by.

Anoniem ·

Soos alreeds genoem hang dit af wat jy vir ontbyt eet. Dit het als te doen met bloed suiker vlakke. Eet lae “GI” kos vir ontbyt jy word nie so vinnig honger nie en ooreet jouself dan nie by die volgende maaltyd nie. Eet baie koolhidrate vir ontbyt en jy is rasend honger teen 11:00! Ek het jare lank nie ontbyt geeet nie en dra nou die gevolge daarvan…ja, mens word nie noodwendig honger as jy ontbyt oorslaan nie!

Ans ·

Ek voel in die loop van die oggend baie sleg as ek vroeër ontbyt geëet het. Een of twee koppies koffie sonder enige kos dra my egter ver.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek is nou op TWEE diëte….Een diëet se kos is heeltemal te min vir my!!

Onnie ·

Veronica en B, ek stem 100% saam! As dai varkie in jou maag eers wakker is, wil hy heeltyd gevoed word!??

Stripes ·

Omdat dit van die Britte afkom steur ek my nie eens daaraan nie. Hulle NHS is swak en mense wat siek is word verkeerd gediagnoseer, kinders sterf gereeld agv legio foute wat hulle maak. Ek eet my ontbyt en as ek langpad ry met die motorfiets is dit koffie 4uur in die oggend en brunch teen 10uur. Wat vir die een werk, werk nie altyd vir die ander nie.

Elke ·

Ek eet ontbyt, middagete, aandete, koekie of twee met my laaste koppie koffie en ek weeg helfte van my vriendinne se gewig. Hulle eet omytent net aandete. So raai wat werk nie vir hulle nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.