Ontdek ons nou die ware krag van ’n gemeenskap?

Dr Dirk Hermann is die bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Reint Dykema)

Die burgerregte-organisasie AfriForum se aktiewe ledetal het vandeesmaand die kwartmiljoenkerf verbygesteek en staan tans op 250 054 lede.

Solidariteit het op sy beurt van Mei tot Julie vanjaar met sowat 15 000 lede gegroei, wat ʼn maandelikse groei van 30% beteken.

“Ons is dankbaar vir die rekordgetalle van mense wat by die organisasies aangesluit het te midde van die ekonomiese uitdagings wat die inperking meebring,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Hy meen die Suid-Afrikaanse ekonomie het reeds voor die Covid-19-pandemie gesukkel, maar dat die land se grootste ekonomiese krisis moontlik nog voorlê.

“Ekonome reken soveel as drie miljoen mense kan hul werk verloor, en terwyl die verlies aan werk verskriklik is, sien ons reeds ook ʼn verlies aan inkomste by talle Suid-Afrikaners.

“Mense besef hier is ʼn herskommeling van die arbeidsmag en ekonomie in Suid-Afrika en almal gaan daardeur geraak word.”

Hermann het gesê mense besef hulle wil nie alleen staan as ʼn krisis hulle tref nie. “Hulle soek beskerming en ʼn soort solidariteit in gemeenskaporganisasies teen die probleme wat die wêreld en land in die gesig staar.”

Dit is egter nie net AfriForum en Solidariteit wat in die tyd gegroei het nie, verskeie organisasies van die groter Solidariteit Beweging kry toenemend meer ondersteuning. Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurorganisasies (FAK) het ʼn rekordgetal aansluitings in die afsonderingstyd gehad, terwyl Solidariteit Helpende Hand ook toename aan ondersteuning in die tyd ondervind het.

“Die Covid-19-pandemie het die foutlyne van die ekonomie oopgebreek en hier het nou ʼn versnelling van die toekoms plaasgevind,” het Hermann gesê.

“Ons het altyd geweet die staat gaan toenemend wil sentraliseer terwyl dit verswak, dat die Suid-Afrikaanse ekonomie ook gaan verswak en minderhede verder gaan vervreem, maar ʼn sterk gemeenskap is steeds die antwoord in hierdie tyd.”

kallie-kriel-2019-05-02

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum. Foto: Verskaf.

Dit is iets wat Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum beaam. “Sterk gemeenskapsinstellings soos AfriForum dien as buffer teen ʼn ANC-regering wat tydens die Covid-19-krisis selfs groter vyandigheid tenoor minderhede openbaar.

“Die feit dat die regering, met die goedkeuring van die hof selfs tydens ʼn krisis ras as maatstaaf vir Covid-19-hulpverlening gebruik, asook die openlike rasbeheptheid by selfs die president van die land, stuur ʼn sterk boodskap aan minderhede dat hulle self deur sterk burgerlike instellings na hul eie belange sal moet omsien,” het Kriel gesê.

Volgens hom sal die kwartmiljoen lede AfriForum in staat stel om sy netwerk van meer as 150 buurtwagte en ander selfbestuurprojekte in plaaslike gemeenskappe nog verder uit te brei. Boonop kan dié organisasie se nasionale en internasionale veldtogte op ʼn selfs groter skaal met die ondersteuning van bykomende lede aangepak word.

“AfriForum se krag lê nog altyd in sy lede. Daarom bedank ons elkeen van sy lede vir hulle volgehoue ondersteuning wat AfriForum se suksesse moontlik maak.”

Hermann het op sy beurt gesê die Beweging hoor dikwels mense is bekommerd oor die staat wat al meer magsbehep raak.

“Mense moet besef die krag van ʼn gemeenskap is soveel groter as dié van die staat. Die oomblik wanneer jy besef jy is nie van die staat afhanklik vir jou toekoms nie, is bevrydend. Dit is ook in dié oomblik wat jy self verantwoordelikheid kan neem om die sukses van jou eie toekoms te begin bou.

“Die Covid-19-pandemie leer ons ons kan vry van die staat wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie solidariteit wat jul doen vir Afrikaanssprekendes en geregtigheid in SA. Help ASB om Tshwane onafhanklik van staats/ANC tentakels te kry!!!

Genis ·

Ek is n trotse lid, dis tyd almal saamtrek… die Afrikaner kannie so rigting en leierloos nie

Heinrich ·

Dankie AfriForum en Solidariteit vir dit waarvoor ons almal staan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.