Ontdekking van geraamte ‘lees soos boek’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Sieklike bejaarde vrou wat ʼn kluisenaarsbestaan gevoer het, ʼn opsigter wat die erf tot ʼn mate onderhou het en twee plakkers het gelei tot die ontdekking van ʼn geraamte in ʼn huis in Edenvale in Johannesburg.

Sedert Maroela Media Donderdag berig het oor die ontdekking van die geraamte, vermoedelik die van ʼn 77-jarige vrou wat moontlik twee jaar gelede in die slaapkamer dood is, was daar oorweldigende reaksie op stellings dat inwoners van Erasmusweg in Edenglen onbetrokke is.

“Dié mening is ver van die waarheid af. Dit is juis betrokkenheid wat tot die ontdekking gelei het. As die inwoners nie betrokke was nie, sou dit dalk nog tien jaar geneem het voordat die oorskot gevind is,” het Heather Hart, DA-raadslid van die woonbuurt, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Hart het aan  Maroela Media verduidelik dat die gebeure wat tot die ontdekking gelei het, amper uit ʼn storieboek kon kom.

Hart het verduidelik dat ʼn bejaarde vrou, Iona Ditcham (77), vermoedelik saam met haar broer in die huis gebly het, nadat haar man, Ditch, ʼn ruk gelede dood is. Die Ditcham-egpaar was glo kinderloos.

“Ditcham en haar broer was glo verouderd en swak en veral sy is min gesien. Van die bure het verneem dat Ditcham se broer glo sowat twee jaar gelede deur sy dogter na ʼn versorgingsentrum in Oos-Londen geneem is. Van die bure het egter verneem dat hy gesterf het. Hulle het rede gehad om te glo dat Ditcham ook na ʼn plek van versorging geneem is, of moontlik ook gesterf het,” het Hart gesê.

“Die huis is in ʼn straat waar toegang beheer word geleë en het hoë mure. ʼn Opsigter het in ʼn buitekamer op die perseel gebly en die eiendom tot ʼn mate onderhou en pos verwyder. Die opsigter het voorheen by navraag aan bure gesê dat hy na die eiendom omsien omdat die vrou se seun glo in Dubai woon. Daar was geen rede om dit te bevraagteken nie.”

Die opsigter het vermoedelik toegelaat dat twee plakkers op die perseel bly, aangesien hy glo nie betaling ontvang het nie. Die eiendom het gou vervalle geraak en die inwoners het sowat twee maande gelede by hul raadslid gaan aanklop om hulp in ʼn poging om die perseel op te ruim en van die plakkers ontslae te raak.

“Ek het dadelik met die stadsraad in verbinding getree om te bepaal waar en wie die huiseienaar is. Die huis was in Iona se naam en daar is vasgestel dat sy as hulpbehoewend geregistreer is en dus geen agterstallige diensterekeninge het nie. Haar dood was ook nie by die departement van binnelandse sake geregistreer nie, wat die indruk geskep het dat sy in ʼn plek van versorging was.”

Hart het gesê die ondersoek was hierna in ʼn doodloopstraat en ʼn buurman het deur die huis se venster gaan loer en gesien daar is belangrike dokumente in die huis wat moontlik kan help om die vrou of haar naasbestaandes op te spoor.

Nadat die nodige reëlings getref is, is ʼn slotmaker saam met die Ekhurhuleni-metropolisie na die huis, waarna die oorskot van ʼn vrou, vermoedelik Ditcham, gevind is.

“Dit was vir ons almal ʼn skok, veral om te dink dat sy alleen was toe sy dood is.”

Hart het gesê buiten die gerugte van Ditcham se broerskind, is sy nie seker wie die ander naasbestaandes is nie.

Lt.kol. Robbie Roberts, van die Edenvale-polisiestasie, het Woensdag aan Maroela Media gesê die identiteit van die oorskot kon nog glad nie bevestig word nie.

“Ons kan wel aanneem wie dit is, maar alvorens die nodige forensiese toetse nie gedoen is nie, kan ons niks amptelik bevestig nie,” het Roberts gesê. Hy het gesê die polisie is steeds besig met ʼn geregtelike doodsondersoek en is in verbinding met familielede van die mense wat voorheen in die huis gewoon het.

Hy het gesê hulle behoort teen Maandag ʼn aanduiding van die forensiese eenheid te kry van hoe lank hul ondersoek kan duur.

Die oorsaak van haar dood word ook nog ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hannelie ·

So val ‘n oumens toe deur die gate in die net wat ons ‘n samelewing noem! Tragies!

Eliza-beth ·

Ja-nee, weer ‘n geval van “methinks the lady doth protest too much”. Mure wat te hoog is en dit en dat – ek weet darem nie. Mense IS te onbetrokke deesdae. Dis erg dat iemand eensaam moes sterf. Weet ook nie hoe het die opsigter dan nie gaan klop en as hy nie antwoord kry dag na dag dan IEMAND gevra het wat dalk kan help. Sekerlik moes dit tog baie sleg vir ‘n lang ruk geruik het ook en het mense nie DAN navraag probeer doen nie? Verstaan nie sulke goed nie.

Liza ·

Plakkers op die perseel en die huis is nie gestroop nie? nogal snaaks, gewoonlik waar daar n huis is met geen beweging nie, steel hulle die dak, deure vensters ens

Kathy ·

Hoe kan die die raadlid se die bure se betrokkenheid het gelei tot die ontdekking – hoe betrokke kon hulle wees as dit hulle 2 jaar vat om agter te kom iewers is iets fout

Dave ·

Presies soos julle twee dames sê. Heather Hart sê dat hulle nie onbetrokke is nie en gaan dan voort om te verduidelik hoe onbetrokke hulle werklik is en dat wat almal gedoen het dui bloot op eie gewin. Die enigste rede waarom hulle betrokke geraak het ‘sowat 2 jaar later’ was om ontslae te raak van plakkers en omdat die plek onooglik begin lyk het en opgeruim moes word. Dit is immers die afleiding wat gemaak kan word uit ‘n berig soos hierdie.

Eliza-beth ·

Is so Dave, is net so. My ma was siek aan kanker en ons almal baie ver en omdat sy wou in haar huisie wou bly waar sy gelukkig was en nog in die tuin kon vroetel was mens maar bekommerd en het elke dag gebel. Omdat my pa reeds oorlede was het die een buurvrou so twee huise oorkant haar gese sy moet elke oggend net haar kamergordyne ooptrek dan weet sy sy het die nag oorleef en is nog “reg”. Sy het wel later in die dag altyd gaan inloer, maar vroeg soggens is mens maar besig maar minstens kon sy darem net sien my ma het die nag oorleef. So maklike manier kan mens in kontak bly – dit kos nie eers geld nie! Hoevele kere het ons nou al op Maroela gelees van iemand wat oorlede is – meer as ‘n week of so sonder dat enige familie of iemand navraag doen. Baie erg…

HEVW ·

Maroela M julle waarsku dikwels sesitiewe mense wanneer die nuus en beeld erg is om ne te kyk. Ek glo hierdie argieffoto is ook nie die gewensde nie.

Annelize ·

Laat my nou wonder, as sy so ‘n bejaarde siek kluisenaar was, was die oorsaak van dood dalk honger?

Elfie ·

Annelize – mens wil nie eers DINK aan so-iets nie. Kan nie glo niemand het ooit enigsins na haar gesoek nie. Selfs mense wat min vriende het… ek weet nie hoe gebeur so-iets nie.

anon ·

roseline ek glo vas n mens kan na 2 j kyk wat di oorsake was

Marléne ·

Ja dit is verstommend. Ek moet noodgedwonge elke dag verby ‘n begrafplaas ry. Die “aroma” maak my mal. Ja ek weet daar lê liggaame wat ontbind 8vt onder die grond en moet dit net aanvaar. Wat ek egter nie begryp nie is hoe op aarde kon die opsigter nie (wat rondom die huis beweeg het) iets “aardig geruik” het en ondersoek ingestel het nie. Een ding is duidelik dat die man was baie getrou aan sy mense om even sonder betaling nie die pad te vat nie.

Elize ·

Dink die “opsigter” was ook maar net n plakker. As dit nie was dat die bure oor die plakkers bekommerd was wat oor die muur geloer het nie het niemand nog die oorskot gevind nie.
‘n Mens sou darem verwag het dat die Broer se dogter so nou en dan met die tannie sou probeer kontak aak het

Eliza-beth ·

Miskien moet dit ‘n les vir ons almal wees – raak/wees betrokke. Sommige ou mense is nie altyd gaaf of wil nie juis kuier, maar sien dit oor. Hulle vereensaam en verloor soms die manier om soisaal te verkeer. Neem soms ‘n paar pannekoeke of ‘n vars blommetjie uit jou tuin. Gesels oor die muur, enigiets. Ek dink ons almal leef maar baie verby mekaar in baie opsigte.

pop ·

Ek hoop iemand gee vir daardie 3 “plakkers” nou onderdak. Ek dink hulle het eintlik die plek opgepas dat dit nie gesloop word nie. Sulke mense sal dalk bly wees vir n dak oor die kop en help in die tuin vir n klein fooi. Wens ek het naby gewoon, ons sukkel met betroubare werkers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.