Onteiening, ekonomiese groei top-prioriteite vir parlement

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

ʼn Debat oor pres. Cyril Ramaphosa se plan om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei is vandeesweek bo-aan die agenda van die parlement, terwyl openbare insette oor die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, ná ʼn onderbreking van ses maande hervat word.

Die veelpartydebat in reaksie op Ramaphosa se aankondiging van sy ekonomiese plan verlede week sal Woensdag plaasvind. Dit volg nadat opposisiepartye tydens verlede week se sitting van die parlementêre programkomitee aggressief daarop aangedring het dat so ʼn debat wel plaasvind sodat die president nie bloot aan die parlement vertel wat hy gaan doen in ʼn tipe monoloog nie.

Dit is egter nie tans duidelik of Ramaphosa repliek op die debat gaan lewer en, indien wel, wanneer sodanige repliek sal plaasvind nie.

Die ad hoc-komitee oor die verandering van art. 25 van die Grondwet begin Donderdag in Limpopo en die Noord-Kaap met openbare vergaderings om insette van die publiek te ontvang.

Die ad hoc-komitee se lede sal in twee groepe verdeel, met een groep wat in Limpopo na die publiek se insette sal luister, en die ander groep terselfdertyd in die Noord-Kaap.

Donderdag sal die openbare vergaderings in Thohoyandou en De Aar plaasvind, Vrydag in Kimberley en buite Tzaneen, Saterdag in Jane Furse (Sekhukhuneland) en Upington, en Sondag in Polokwane en Concordia naby Springbok.

Suid-Afrikaners sal Dinsdag met belangstelling ʼn ministeriële verklaring deur die minister van arbeid, Thulas Nxesi, in die Nasionale Vergadering volg oor die suksesse en mislukkings, sowel as die toekoms, beloftes en uitdagings van die Werkloosheidsversekeringsfonds (UIF).

Donderdagmiddag sal adjunkpresident David Mabuza mondeling vrae antwoord in die Nasionale Vergadering.

Tans word 45 portefeuljekomiteevergaderings vir hierdie week beplan, met die grootste fokus dalk op die portefeuljekomitee oor justisie, wat ʼn verskeidenheid nuwe wetsontwerpe teen huishoudelike en geslagsgeweld gaan begin afrond.

Die impak van die koronavirus op (onderskeidelik) die mynbousektor en die teaterbedryf sal deur die onderskeie portefeuljekomitees onder die loep geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris ·

Ek weet nie hoekom dink ek hierdie man leef in n droomwereld nie.

Mariana ·

grondonteieining en ekonomiese groei???? Dit gaan NIE hand aan hand nie!!!!

Pieter ·

Al wat groei is jou en jou menisters se bankrekenings en die mense op straat sukkel om n bestaan te maak. Julle ANC het mooi geleer by julle chinese vriende.

Pietertjie ·

“ons gaan julle eiendom wegvat, en ekonomies groei”.
Wat ‘n oksi-moroon!

henndrik ·

Solank as BEE daar is gaan die ekonomie glad nie groei nie want BEE veroorsaak die bedrog en diefstal uit die staatskas

Misky ·

Jy vat die woorde so uit my mond (pen) @Mariana. Hulle kan maar vergeet van enige buitelandse beleggers en hoekom nie die sinnelose moorde prioritiseer en daadwerklik aandag aan gee nie. Nee wat, hulle jaag net meer aan

Danie ·

Die land word gestroop deur die ANC en ons sit net en toekyk. Kom ons maak dit net vinniger, ontrek al jou geld uit die banke en bele oorsee, maak jou besighede toe, boere verminder of staak boerderye laat ons dan nou onmiddelik die gevolge voel want die proses loop te stadig en stress en selfmoorde gaan elke dag hand aan hand. Ek sterf eerder nou in n geveg as om my eie lewe te neem omdat ek nie n heenkome het nie.

Rassie ·

Beteken dit dat Ramaphosa se plase ook dan gevat kan word sonder vergoeding? Hy kry immers ñ massiewe salaris en het dus nie die grond nodig nie? Kan dit mos dan vir een van die “minderbevooregtes” gee.

Retha ·

Dit is baie goeie vraag. Begin eers by sy bates, dit mos regverdig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.