Onteiening is ‘kortsigtig, glybaan na vernietiging van SA’

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

TLU SA en die VF Plus het ten velde getrek teen die regering se besluit om voort te gaan met sy planne vir onteiening sonder vergoeding.

TLU SA het dié besluit as kortsigtig bestempel terwyl die VF Plus meen dis ʼn glybaan na die vernietiging van Suid-Afrika.

“Onteiening sonder vergoeding sal geen goeie resultate meebring nie,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA.

“Navorsing toon dat die meeste aansoekers nie die kennis of vermoë het om grond wat nou winsgewend tot die landelike en nasionale ekonomie bydra, volhoubaar te bestuur nie en in elk geval eerder verkies om finansieel vergoed te word as om met die grond opgesaal te word.

“Die verlede het ook reeds gewys dat die meeste grond wat voorheen onteien is nou nutteloos lê omdat die regering die nuwe eienaars nie voldoende bygestaan het om dit suksesvol te bestuur nie.”

TLU SA staan by die mening dat dit uiters onverantwoordelik is om met hierdie wysigings voort te gaan. “Dit het nie net ʼn direkte invloed op boere, hulle werkers en die platteland nie, maar ook op die vertroue wat buitelandse beleggers in die land het.

“Wanneer ʼn belegger se privaat besitreg in gedrang is, sal dit vanselfsprekend nie wys wees om dan jou bates daar te belê nie,” meen Meintjes.

“Dié tipe besluite het ook ʼn invloed op die veiligheid van boere met ondersteuners van Andile Mngxitama van die BLF en soortgelyke denkers wat opgesweep word deur die proses en dan die reg in eie hande neem. Pres. Cyril Ramaphosa het net verlede week gesê dat hy plaasmoorde veroordeel, maar vandag neem sy regering besluite wat dit heeltemal weerspreek.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, is van mening dat onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika op dieselfde glybaan na vernietiging sal plaas as wat met Zimbabwe gebeur het.

“Wat die kwessie van grond betref, is daar wel fundamentele verskille tussen die ANC en die EFF. Die ANC probeer mense onder die indruk bring dat hulle onteiening sonder vergoeding wil toepas om mense toegang tot grond te gee. Ook dat die proses met streng voorwaardes gepaard sal gaan.

“Die EFF is eerliker hieroor. Vir hom is dit ʼn ideologiese aangeleentheid en die EFF sê reguit hy wil al die grond hê deur dit te nasionaliseer. Die uiteinde gaan nogtans dieselfde wees. Die uitsprake van die ANC en die EFF oor die kwessie herinner daarom aan die Afrikaanse gesegde oor twee katte wat raas en ʼn mens weet nie of hulle vry of baklei nie.”

Volgens Groenewald is die proses om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, wesenlik foutief. Hy het gesê die VF Plus sal daarom seker maak dat die regte regsprosesse gevolg word indien die ANC wel die Grondwet deur wettige prosesse wil verander.

“Daar is steeds mense wat dink slegs landbougrond is ter sprake by onteiening sonder vergoeding. Artikel 25 van die Grondwet maak dit duidelik dat eiendom nie beperk is tot grond nie. Dit sluit roerende en intellektuele eiendom in.

“Die mense van Suid-Afrika moet verstaan dat onteiening sonder vergoeding die toekoms van Suid-Afrika in die gedrang sal bring en hulle sal hul misnoeë daaroor duidelik te kenne moet gee.

“Die VF Plus verwerp dit en sal alles in sy vermoë doen om te verhinder dat die Grondwet gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
cr

Nou sal ons moet saamstaan en terugveg, dit alles deur ‘n veraaier (FW de Klerk) van die Afrikaanse volk!

Cherokee

Dìt is wat die kommernis vererger. Die feit dat dit nie gespesifiseer is dat slegs landbougrond ter sprake is. Miskien sal daar toegeslaan word op mense wat meer as een (dorps)eiendom besit, maar dìt skeld ook nie die eienaar vry wat net een eiendom besit nie, want in Rhodesië is nie net plase onteiën van boere wat meer plase besit het nie. As jy Europies van kleur is en gesorg het daarvoor dat jy eiendom besit, is jy ‘n teiken.

Frik Lotz

Grondonteiening sonder vergoeding is n onding wat Suid Afrika se ekonomie gaan vernietig en dit gaan lei tot vernietiging van die land in sy geheel. Dankie aan TLU-SA en VF Plus wat dit teenstaan en beveg. Laat ons saamstaan en VF Plus ondersteun in hierdie uiters belangrike saak.

marous

Hulle gaan dit vat , en dit gaan gepaard gaan met geweld . Niemand op ‘n wit perd gaan dit keer nie . Dis die realiteit .

Erika Ochse

Grondonteiening sondervergoeding —’n stuk idiotika