Onteiening: ‘Mislukking van diep immorele wetsontwerp ’n groot oorwinning’

Die Nasionale Vergadering (Foto: ANA)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die sakegroep Sakeliga het gesê hulle neem kennis van en verwelkom die uitslag van die parlementêre stemming oor die 18de grondwetlike wysigingswetsontwerp.

Die ANC kon nie Dinsdag ’n tweederde-meerderheid in die Nasionale Vergadering kry om die voorgestelde wysigings aan artikel 25 van die Grondwet te aanvaar nie. Hierdie wysigings sou die onteiening van eiendom sonder vergoeding moontlik gemaak het.

“Die mislukking van ’n diep immorele wetsontwerp wat staat goedgekeurde diefstal en menseregteskendings sou toelaat, is ’n groot oorwinning vir Suid-Afrikaners. Onteiening sonder vergoeding is ’n onmenslike beleid wat gemotiveer word deur ’n kombinasie van korrupte hebsug en wrok,” sê Ernst van Zyl, veldtogtebeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Ons het die katastrofiese verwoesting gesien wat onteiening-sonder-vergoeding-beleide in lande soos Zimbabwe en Venezuela veroorsaak het asook die lyding wat hierdie beleide vir die deursneeburgers van daardie lande veroorsaak het. Daarom moet die nederlaag van ’n poging om daardie aaklige en vernietigende beleide hier in Suid-Afrika te herskep gevier word,” sluit Van Zyl af.

AfriForum is bewus daarvan dat die stryd om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm nie verby is nie en dat hierdie regte weer in die toekoms bedreig kan word. Daarom herbevestig die organisasie sy toewyding om as burgerregtewaghond op te tree teen sulke skendende beleide en om dit ten sterkste teen te staan sou dit weer oorweeg word.

piet-le-roux-afrisake-2018-06-05

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Reint Dykema)

Sakeliga het ook gesê hy bly nietemin waaksaam vir die risiko dat ʼn soortgelyke wysiging van die Grondwet op die parlement se agenda bly, en dat die parlement steeds kan volhard in sy poging om die aparte onteieningswetsontwerp aan te neem. Die blote moontlikheid van voortgesette pogings om konfiskering te bewerkstellig, ondermyn regsekerheid en grondwetlike legitimiteit, en ontmoedig investering en ekonomiese ontwikkeling, het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

“Die onmiddellike volgende stap moet wees dat die parlement enige verdere bespreking van konfiskering van private eiendom van sy agenda afhaal en ook weier om die onteieningswetsontwerp aan te neem. ”

Die voorgestelde Onteieningswetsontwerp bevat bepalings wat konfiskering van eiendom (sogenaamde onteiening sonder vergoeding) sou operasionaliseer. Hierdie wetsontwerp is onbestaanbaar met artikel 25 van die Grondwet, wat vereis dat vergoeding aan eienaars betaalbaar is wanneer die staat wel private eiendom kan onteien onder beperkte, duidelik gedefinieerde omstandighede.

“Ons kan nooit die voorgestelde veranderings aan die Suid-Afrikaanse Grondwet aanvaar nie, ongeag hoeveel parlementariërs daarvoor stem, of hoe bevredigend die formele en prosedurele aspekte daarvan behartig word. Die Grondwet kan nie gewysig word om voorsiening te maak vir die beoogde konfiskering, en terselfdertyd ʼn legitieme grondwet bly nie. Die Grondwet sal sy legitimiteit verloor in sover dit sodanig gewysig word [om vir konfiskering voorsiening te maak], en dit sal eers legitimiteit herwin nadat so ʼn wysiging ongedaan gemaak is.”

Sakeliga staan onwrikbaar by hierdie stelling. “Ons sal voortgaan om pogings om konstitusionalisme te ondermyn, teen te staan en ons sal veg vir die eiendomsreg van alle huidige en voornemende eienaars, waarsonder daar geen kommersiële lewensvatbaarheid in Suid-Afrika kan wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

JM ·

“Onteiening sonder vergoeding is ‘n onmenslike beleid wat gemotiveer word deur ’n kombinasie van korrupte hebsug en wrok.”

Kon dit nie beter gesê het nie! Beter nuus kon ons nie bereik het nie.

ES ·

Dis nou goeie nuus om te lees so vroeg in die oggend! Dit is goed dat meer as twee derdes van die parlement nie saam stem dat oneiening sonder vergoeding konstitusioneel kan wees nie.

Dalk is daar nog bietjie lig aan die einde van die tonnel.

melaney ·

Stem saam. Maar hulle gaan nie sommer handdoek ingooi nie. Hulle het duidelik te kenne gegee dat hulle sal veg om in beheer te bly. Die tyd stap aan.

Tubac ·

Hulle is so slinks en sal nie nee vir n antwoord neem nie. Sal nou wend na ou malemmer.

Frank ·

Pasop, oor die 200 parlementslede het gedink “DIS REG OM SOMMER NET TE VAT”. En hulle is nog steeds oortuig daarvan

Casper ·

Kyk maar mooi op die foto hoeveel van die rooi oorpak draers is daar wat vir my sê hulle steun ook nie die ANC nie.

Anoniem ·

Hulle beleid is nog meer radikaal Casper, dis hoekom hulle nie met die ANC saamstem nie. Hulle wil hê dat alle grond onteien word en aan die staat moet behoort vir herverdeling.

kaplyn ·

Ja ek het ook gisteroggend my voor God verootmoedig en gevra as dit Sy wil is dat hierdie bittere beker by ons sal verby gaan. Ons moet bly glo dat God ons gebede hoor en sal verhoor volgens Sy volmaakte raadsplan.

Nie Verbaas ·

Nog n klap in die gesig vir die onbevoegde korrupte ANC

Papsak ·

Niks meer as reg nie hoekom wil hulle alles hulle way gedoen he kry lekker

Kokerboom ·

Goed gestel Ernst. Hebsug, gierigheid, bedrog, wraak en vele meer het die bemarkingsetiket van ANC geword(inteendeel dit was nog ALTYD0! Tyd heel wonde maar in die geval teen hoë koste vir SA samelewing! Ons moet NIE toegee en oë na BO gerig hou!

pdbpta ·

Dankie vir veral Afriforum, Solidariteit, Piet le Roux en Maroela vir jul stem en standvastigheid om Afrikaner-waardes te beskerm!!

Annelize ·

Surely but slowly the awakening is happening. Die ANC is besig om al hoe meer steun te verloor.

Francois ·

Goeie nuus maar, die EFF mag dalk teen die wet gestem het maar ook net omdat die EFF wil sien dat alle grond onder staatsbeheer moet wees, dus sal niemand ooit grond besit nie. Julius Malema se uitlating soos gerapporteer op News24 mag dalk ook lei tot meer geweld teen grondeienaars en meer onwettige grondbesetting. Hy het glo gesê: “We call on South Africans to know that it is now in their hands. They must stop trusting that the ANC can do anything in its power to give them the land back. They must take it upon themselves to reclaim that which was stolen from them, and the EFF will be fully behind them when they engage in that struggle of taking back the land that was stolen from them by children of criminals.” [bron News24]

Porseleintjie ·

Francois juis meer rede om God te vertrou vir wie Hy is. Alle mag en krag behoort aan Hom. Hy sal geen mens so ver bring en dan net los nie. Bid, glo en vertrou Hom net.

Johan ·

Dis presies wat gaan gebeur Francois. Die boere is nou uitgelewer aan grond besetters.

gpsa ·

Dankie aan al die stemmers wat teen die ANC gestem het en gehelp het om opposisie in die parlement te kry.

Tino ·

Onthou net ook dat meer as 50% in die parlement en direk die populasie is steeds ten gusnte van die onteiening sonder vergoeding…

Porseleintjie ·

Die belangrikste is dat God nie ten gunste daarvan is nie. Het die beantwoorde gebede dit nie gewys nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.