Onteiening skielik in vinniger versnelling

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Die proses om art. 25 van die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, het skielik Dinsdag na ʼn vinniger versnelling oorgeskakel toe ʼn konsepweergawe van die grondwetlike wysiging deur die parlement se regsafdeling voorgehou is.

Dit het gebeur tydens ʼn sitting van die ad hoc-komitee oor die wysiging van art. 25.

Die voorgestelde aanvanklike bewoording van die wetswysiging lui ʼn hof mag beslis dat regmatige en billike vergoeding vir ʼn stuk grond wat in belang van grondhervorming onteien word, nul kan wees. Dit moet egter in ooreenstemming wees met nasionale wetgewing wat spesifieke omstandighede uiteensit waarbinne ʼn hof kan besluit dat ʼn nulwaarde regmatige en billike vergoeding kan wees.

Die parlementêre regsadviseurs het uitgewys dat niks in die proses uit die grondwetlike artikel gehaal word nie – bostaande word bloot bygesit. Dit sou beteken dat vergoeding vir onteiende grond die bedrag is wat óf deur die partye onderling, óf deur die hof bepaal word.

Die DA en VF Plus het dadelik beswaar gemaak dat die voorwaardes waaronder onteiening sonder vergoeding kan plaasvind, wesenlik oorgedra word op nasionale wetgewing, wat met ʼn meerderheid van 50% in die parlement aanvaar kan word – eerder as met ʼn tweederde-meerderheid.

Die ANC en EFF het toe die ander twee partye daarvan beskuldig dat hulle bloot hul voete wou sleep. Die ANC-LP en voorsitter van die ad hoc-komitee, dr. Mathole Motshekga, het boonop voorgestel dat die rol van die hof verminder word om geen spesifieke rol in die proses te speel nie, afgesien van die noodwendige mag van hersiening waaroor die hof beskik.

Hierteen het die DA en VF Plus nogmaals beswaar aangeteken, maar die aanvanklike aanduiding was dat die ANC en EFF redelik positief gestaan het teenoor Motshekga se voorstel – die ANC in groter mate as die EFF.

ANC-LP’s het trouens los en vas begin praat oor ʼn tribunaal eerder as die hof om oor grondwaarde te besleg, maar daardie gesprek is kortgeknip en die vergadering is tot Donderdag verdaag.

ʼn Ander punt het voor die verspreiding van die wetsontwerp ter sprake gekom toe ʼn brief waarin AgriSA vra dat die konsepwetsontwerp nie tydens die Kersvakansietyd vir openbare kommentaar voorgelê word nie, bespreek is.

Motshekga het besluit die wetsontwerp kan wel in hierdie tyd in die Staatskoerant vir kommentaar geplaas word, aangesien daar oorgenoeg tyd (sowat drie weke) in die nuwe jaar is om kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
jf

die naiewe ou afrikanerkies gaan nou begin leer watse fout dit was om hul land aan kommuniste weg tre gee..

Agteruitboer

Regmatige en billike vergoeding vir sommige ministers behoort nul te wees! Onteiening van grond gaan beslis die Rand se waarde na nul verander! Dalk lyk nul beter as niks vir ons regering!

Kola

FW kom in!!.
Waar is daardie vurige FW wat mense aan die neus gelei het met sy Wigte en teenwigte, eie skole, eie woongebiede.
Hoekom het hy dit nie onderhandel nie.
Sy skaakspel was SWAK.

James

Hoekom betaal ek nog my huis af as hulle dit net gaan vat. Ek werk 2 werke om alles te betaal en dit gaan niks beteken nie.

Louise

Hier is ‘n slang in die gras. Chinese kolonialiste raak ongeduldig