Onteiening sonder vergoeding sal ‘anargie’ veroorsaak

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die FW de Klerk-stigting meen die onteiening van grond sonder vergoeding sal uiters negatiewe politieke implikasies vir die land inhou, insluitend politieke onstabiliteit en anargie.

Dié stigting gaan vandag ʼn voorlegging voor die grondwetlike hersieningskomitee doen oor die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Volgens die stigting is die kwessie van sentrale belang vir die toekoms van Suid-Afrika, nie net vir suksesvolle grondhervorming nie maar oor vir die toekoms van eiendomsregte, die toekoms van die ekonomie en die toekoms van rasseverhoudinge in die land.

Die stigting het gesê net soos verskeie gerespekteerde regsgeleerdes en die hoëvlakpaneel wat deur die parlement aangestel is en onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe is, glo hulle dat dit nie nodig is om artikel 25 te wysig om grondhervorming te bewerkstellig en eiendomsreg tot alle Suid-Afrikaners uit te brei nie.

Volgens die stigting is “die huidige beleidsinstrumente, insluitend die bereidwillige verkoperbeleid en ander bepalings van artikel 25 van die Grondwet”, soos geopper tydens die parlementêre mosie oor hierdie aangeleentheid, nie die hooffaktore wat effektiewe grondhervorming belemmer nie.

Die stigting het beklemtoon dat die hoëvlakpaneel se verslag daarop gewys het dat die mislukking van grondhervorming eerder voor die deur van onbevoegdheid van die relevante regeringsdepartement en korrupsie gelê kan word. “Die huidige formulering van artikel 25 en ʼn behoorlike wetgewende raamwerk kan en moet gebruik word om die grondhervormingsproses te bespoedig en eiendomsreg vir almal uit te brei.”

Die stigting is verder van mening dat die wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak die nasionale akkoord wat in 1994 en 1996 bereik is, sal vernietig. “Ekonomies gesproke is dit nie net nie moontlik om artikel 25 te wysig sonder om landbouproduksie en voedselsekerheid ernstig te benadeel nie. Dit sal ook toekomstige beleggings en ander sektor van die ekonomie negatief beïnvloed.”

Volgens die stigting sal die wysiging van artikel 25, wat ʼn spesifieke groep Suid-Afrikaners teiken, uit ʼn regsoogpunt, strydig wees met die “wet van algemene toepassing” van artikel 36 (1) (a), spesifiek die beginsel van gelykheid.

“Indien die wysiging ook die verwysing na billike vergoeding en die jurisdiksie van die howe om dit te bepaal verwyder, sou dit inbreuk maak op een van die grondliggende waardes van die Grondwet, naamlik die oppergesag van die reg.”

Die stigting het gesê sy sterk standpunte in hierdie verband beteken egter nie dat dit nie die status quo oor eiendomsreg en grondhervorming ondersteun nie.

“Om die rede maak die stigting ook ʼn aantal ander aanbevelings oor hoe eiendomsreg tot alle Suid-Afrikaners kan uitbrei en betekenisvolle grondhervorming kan volg.”

Die stigting sê dit sluit onder andere in:

  • die behoefte aan samehangende beleid en ’n behoorlike wetlike raamwerk vir grondhervorming / herverdeling (insluitend ’n behoorlike definisie van grondhervorming);
  • die noodsaaklikheid om hervormingswette te verander omdat dit onvoldoende regsbeskerming bied;
  • die behoefte aan veilige informele grondregte in beide stedelike en landelike gebiede (insluitend herverdeelde en herstelde grond);
  • die dringende behoefte aan ’n volskaalse en akkurate grondoudit; en
  • die noodsaaklikheid om volgens wet ’n ‘special purpose vehicle’ (SPV) op te stel, om eiendomsregte aan alle Suid-Afrikaners uit te brei en grondhervorming effektief te implementeer. Hierdie SPV moet ideaal gesien direk aan die presidensie rapporteer en moet die mandaat en vermoë hê om horisontaal oor departemente en vertikaal van plaaslike tot provinsiale en nasionale vlak te werk.

Die stigting het gesê dit glo dat indien daar in die parameters van die huidige artikel 25 gewerk word en sy voorstelle onmiddellik geïmplementeer word, dit grondhervorming sal bespoedig en eiendomsreg tot alle Suid-Afrikaners sal uitbrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jaspaas met sy stil geraas... ·

hoc est bellum translation: this is war.

Slappe ·

Indien jy Regtig weet wat oorlog is, sal jy jou hande Stompies werk vir VREDE…

Gemaskerde Sopbeen ·

As hulle my grond vat, gaan ek onder-gronds. Die skerpioen steek seer…..

Dit sal ·

Dit sal, honger massas is geweldadig as daar nie meer boere is om kos te produseer nie.

Krummel ·

Paragraaf 7 – daar is iets fout met die struktuur van die sin. Daar is net te veel nie’s. Dit maak nie sin nie asb!!

PJ ·

Hoe kan frikkie se mense nou so praat hy was mos daar met die onderhandelinge toe die Art 25 bespreek is met wigte en teenwigte of was hy in Griekeland?

Hoe nou....... ·

Hoeveel keer moet hulle gewaarsku word oor die gevolge wat so verandering bring?! Ons word net nog n mislukte Afrika Staat want die spul kannie eers leer uit hulle broers se foute nie – die beginsel werk nie!!!

HPV ·

Dit kan nie anargie veroorsaak as die land reeds anargisties is nie, wel moontlik ‘n burgeroorlog.

Bokram ·

Ek dink die hele onteieng operasie het reeds gefaal,daar is te veel ander goed wat die anc en eff besig hou,dat hulle nie meer by als uitkom nie,kyk nou maar die vbs skandaal,die staat is te korrup(en te arm) om hierdie groot planne deur te voer.

Anti Stigting ·

Die stigting beteken niks nie.
Dit dra nie krag nie – nie hier nie en ook nie in die res van die wereld nie. Maak eerder julle deure toe want vir my bestaan julle nie.

John ·

Sekere geagte here het vinnig na 1994 van hul grond ontslae geraak welwetende wat kom. Tussen ( ) wat is die doel van die sg Stigting? Word geld ingesamel vir wie en vir wat en wie dra kennis van die bedrag… Sars?

O my genade! ·

Die land is klaar in anargie- het die stigting dit nog nie agergekom nie?
Indien nie – is daar baie wat ons vir julle kan vertel.

Nikita ·

O my genade! Stem saam jou. Hier is klaar n volksmoord aan die gang…slow war! Of hulle nou die damn art 25 gaan verander of nie…die bal is klaar aan die rol…die massas dink mos daar gaan nou vir hulle huise opskiet soos paddastoele! Hier moet mens tuff raak, die golf kom nog. Die kaf moet vd koring geskei word.

Wigte&Teenwigte ·

Dis mos die “Wigte&Teenwigte” Stigting daardie, die vriendelike wolwe in skaapklere wat probeer blêr.

Alida ·

Hoe anders moes CR stemme werf? Weereens aan die ongeletterde massas grond te belowe iets wat hy nie sal kan deurvoer nie. Hulle dink nie daaraan dat jy nie grond kan eet nie behalwe as jy iets daarop wil plant nie. Nou kry hulle grond eish maar waar is die kos?

Dries ·

Hulle stel nie belang in die grond nie hulle wil dit wat op die grond opgebou is he.

HPV ·

Dries jy is reg, om dit te plunder en dan weer te “demand”.

Ai ·

Ons moet dink.

Gaan die duiwel direk vir jou sê hy gaan jou wurg? Leer asb. uit die verlede! Net soos in die verlede word die ware doel nie genoem nie, maar eerder deur woordspeling verbloem.

Onteining Sonder Vergoeding bestaan nie! Woordjies gool met ons, mors met ons begrip en energie.

Dit gaan hier om Nationaliseering van grond, die skep van ‘n kommunostiese staat soos vervat in die Freedom Charter!

So lank ons hierdie onderwerp nie op sy naam noem nie gaan ons nêrens kom nie, die skaapies gaan net aanhou blêr.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.