Onteieningswetsontwerp deur NRP aanvaar: ‘Laaste poging om stemme te wen’ 

Sello Seitlholo (Foto: @ParliamentofRSA/X)

Die Onteieningswetsontwerp, wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak, is in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar.

Die ANC het sy meerderheid gebruik om die wetsontwerp te aanvaar en dit is nou terug na die Nasionale Vergadering (NV) verwys om die NRP-wysigings daaraan goed te keur. Dit kan hierna na pres. Cyril Ramaphosa verwys word vir bekragtiging.

Die DA sê hy sal egter enige pogings om die Onteieningswetsontwerp deur die parlement te stoomroller tot in die hoogste hof daag.

Sello Seitlholo, DA-LP en die party se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, het gesê die “verwoestende wetsontwerp word deurgestoot in ʼn desperate, laaste poging om stemme bymekaar te maak in die aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesing in Mei”.

“Die DA het al baie keer vantevore alarm gemaak oor hierdie wetsontwerp. Dit is duidelik teenstrydig met artikel 25 van die Grondwet wat bepaal dat eiendom slegs ‘onderhewig aan vergoeding’ onteien kan word.

“Die ANC-regering het ʼn bepaling in die wetsontwerp ingeskuif om onteiening met ‘nul vergoeding’ moontlik te maak, in die hoop dat dit die grondwetlike toets sal deurstaan. Dit is duidelik vir enigiemand wat hierdie wetsontwerp lees dat dit niks meer as onteiening sonder vergoeding in vermomming is nie.”

Die wetsontwerp gee ook verder aan die minister van openbare werke die mag om eiendom in die openbare belang of vir ʼn openbare doel te onteien. “Hierdie klousule is onredelik vaag met geen definisie oor wat dit mag behels nie,” meen Seitlholo.

“Net so vernietigend is die bepaling dat enige vertraging in die betaling van vergoeding aan die onteiende eienaar nie die oordrag van die reg op besit aan die regering sal verhoed nie. Dit beteken dus dat selfs waar ʼn fooi ooreengekom kan word, kan dit ʼn de facto-nulvergoeding tot gevolg hê waar betaling vir jare vertraag kan word, terwyl die eiendom reeds onteien is.”

Die DA sal nie dié aanslag op grondwetlike waardes onbeantwoord laat bly nie, het Seitlholo gesê. “Sou die ANC in die NV weer sy meerderheid misbruik, sal die DA sy regspan opdrag gee om onmiddellik ʼn aanmaning aan die president te stuur om te eis dat hy die Onteieningswetsontwerp terugverwys na die NV vir heroorweging van die grondwetlikheid daarvan.

“Ingevolge die Grondwet moet die president ʼn wetsontwerp terugverwys na die NV waar grondwetlike bekommernisse bestaan. Die ANC waag die eiendomsreg van miljoene Suid-Afrikaners suiwer vir goedkoop politieke gewin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Danie ·

Ek vermoed dat die naïewe en onkundige mense dink hierdie wat het net betrekking op landbou. Sou dit deur die parlement aanvaar word het dit betrekking op enige vaste en roerende bates, selfs aandele.

Kokerboom ·

Dis net logies dat NRP dit sal aanvaar. Net ‘n rubberstempel wat ANC ideologieë aanvaar.Hul praat almal uit een mond . Kon nog nooit nut van NRP begryp.
Nou begin regsoptredes!

Michael ·

Dit is asof die ANC nou ‘n beleid het van as ons nie in beheer kan wees nie dan gaan ons Suid-Afrika totaal vernietig. Die ANC verstaan nie hoe ‘n eerste wêreld land regeer word nie as jy kyk hoe hulle ‘n piesang Republiek probeer regeer.

ES ·

Ek wil nogsteeds verstaan hoe grond armoede gaan verbeter? Dit maak nie vir my sin nie en ek verstaan nie hoekom die kaders so dink nie en hoekom hulle met hierdie narratief van die berg af hardloop nie. En hul volgelinge vreet dit met soetkoek op want hulle weet nie van beter nie…

Aai ·

Dit is al hoe die ANC stemme kan kry om vir hulle mense eiendom vernuut te gee kan niks koop en verkoop.

Anel ·

Hoe laag wil hulle nog daal!!! Alles ‘n poging om ons in ‘n algehele komunistiese bestel te plaas!!! Sonder dat daar ‘n skoot geklap het!

Tong in die kies ·

Verstaan ek die situasie reg. As hulle ons eiendom wil afvat, dan mag ons ook mos ‘n spogerige huis van hulle gaan afvat. Of verstaan ek verkeerd

Raadsman ·

Hulle moet eers die bloudruk gaan soek by Rusland van die 1940’s.
Ek dink ons begin sommer by Phala-Phala.

LOUIS ·

Raadsman.ek stem saam met jou. Ons begin heel eerste by PHALA – PHALA. Die lot is siek verby

Althes ·

As ons sien wie die bedmaats is van ANC sal ek elke burger aanraai om teen hul te sê. Al hul bedmaats is onderdrukkers van vrye regte van die burgers.

Amelia ·

Kyk hoe lyk plase wat reeds ontein is of nie aan n boer behoort nie Bome word afgekap huise is nie meer en wie plant en ploeg niemand

Paul ·

Verstaan nie wanner die ” wigte” en “teenwigte” gaan inskop nie kan roelfie en leon nie nou dai knoppie kan druk nie ?

Misky ·

Dis reg dankie. Ek sal sommer by Phala Phala gaan inboek en hou van die idee dat rusbanke vol geld is.

Jakes ·

Dis lagwekkend. Van die duisende plase wat uitgedeel was aan kaders, word slegs 4 plase winsgewend bedryf. Deel grond of huise verniet uit en binne weke sal alles wat kan, verkoop word en sal hulle steeds in dieselfde posisie wees as nou.

hpven ·

@ Tong in die kies. Jy is reg. Ek is reeds gereed om Phala-Phala te vat in ruil vir my eiendom wat sonder vergoeding onteien gaan word….

Andre ·

…alles maar deel van die langtermyn planne van die A en C se borge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.