Onteieningswetsontwerp geen oplossing vir grondhervorming, sê IRR

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die IRR (Foto: Skermgreep uit YouTube-video)

Die Instituut van Rassebetrekkinge (IRR) het gesê Suid-Afrika se grondhervormingsprobleme spruit grootliks uit ondoeltreffendheid, korrupsie en ʼn gebrek aan veilige eienaarskap.

“Die Onteieningswetsontwerp wat nou in die parlement bespreek word, sal nie oplossings bied nie,” het dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die IRR, in voorlegging oor die wetsontwerp aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur gesê.

Volgens haar sal die wetsontwerp boonop baie meer as net grond insluit, soos wat algemeen gedink word. “Dit sluit huise, pensioene, eiendomspersele, mynregte, aandele en effektetrusts in – dit word alles gedek deur die wetsontwerp se definisie van ‘eiendom’ – en dit sal alles kwesbaar wees vir onteiening of nul- of onvoldoende vergoeding,” het sy gesê.

“Teenstrydig met die regering se versekering, is die wetsontwerp dus nie net beperk tot grondhervorming nie, dit sal ook nie die grondhervormingsprobleme oplos nie, wat hoofsaaklik spruit uit ondoeltreffendheid, korrupsie en ʼn gebrek aan veilige eienaarskap.”

Volgens haar sal die wetsontwerp die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners bedreig: van die 9,8 miljoen mense wat huise besit (waarvan 7,8 miljoen swart mense is) tot die nagenoeg 18 miljoen individue wat gewoontereg-erwe besit en die sowat 17 miljoen mense wat aan pensioenfondse behoort. Dit raak ook alle sake-eienaars – groot en klein.

“Terselfdertyd sal die ekonomiese gevolge van die wetsontwerp die 11 miljoen individue verder benadeel wat nou werkloos is as gevolg van verminderde beleggings en beperkte groei en dit sal enige ná-Covid-19-grendeltyd-herstel kniehalter.”

Onder die wetsontwerp kan nul-vergoeding betaal word vir onteiende grond in minstens vyf omstandighede. Byvoorbeeld, geen vergoeding mag betaal word aan eienaars wat beheer verloor het weens grondbesetters of geboukapers nie. Dié bepaling sal waarskynlik onwettige gedrag van dié aard aanmoedig en die wet verswak. “Boonop is die omstandighede, waaronder nul-vergoeding sal geld, uitdruklik ‘nie beperk nie’ tot die vyf omstandighede wat in die wetsontwerp uiteengesit is – niemand kan dus regtig sê hoe wyd dié nul-vergoeding toegepas gaan word in die toekoms nie.”

Jeffery waarsku dat die wetsontwerp se prosedures vir onteiening swaar gekantel is in die guns van die staat. “Alhoewel die voorlopige stappe van onteieningsowerhede regverdig is, is die prosedures op gevolglike onteiening absoluut onredelik.”

Die wetsontwerp bemagtig honderde staatsentiteite en sodra hulle die voorlopige stappe afgehandel het, sal hulle die eienaar kan bedien met ʼn kennisgewing van onteiening. “Onder dié kennisgewing sal die eienaarskap en die reg om die eiendom te besit outomaties op ʼn gespesifiseerde datum oorgedra word aan die onteieningsowerheid. Dié datum kan baie vinnig vasgestel word: binne ʼn week of twee weke sedert kennis gegee is.”

Teoreties sal ʼn persoon dus die geldigheid van die onteiening en die vergoedingsbedrag in ʼn hof kan daag, maar in praktyk sal mense, wat reeds steier onder die skielike verlies aan hul huise, sakepersele of ander bates, dit waarskynlik te duur of moeilik vind om hof toe te gaan. Die onus sal ook op hulle rus om byvoorbeeld te bewys dat die vergoeding wat aangebied is, nie genoeg is nie – en hulle sal self hul eie en die regskoste van die onteieningsowerheid moet dek indien hulle nie die landdros of regter kan oortuig nie.

Volgens Jeffery is dit eerder nodig dat die onteieningsowerheid ʼn hofbevel moet bekom wat bevestig dat sy voorgestelde onteiening ten volle ooreenstem met die Grondwet voor ʼn kennisgewing van onteiening uitgereik word.

“Die wetsontwerp erken dat ʼn vooraf-hofbevel nodig is voor inspekteurs ʼn eiendom kan betree om die geskiktheid vir onteiening te bepaal; dat só bevel nodig is vir alle buiten die mees dringende tydelike onteienings; en dat ʼn vooraf-hofbevel ook vereis word om ʼn tydelike onteiening te verleng van 12 tot 18 maande.

“Wanneer dit egter kom by die meer ernstige saak van ʼn permanente onteiening, sluit die wetsontwerp die vereiste uit van ʼn vooraf-hofbevel. Dit is uiteraard ongrondwetlik.”

Jeffery het die portefeuljekomitee daaraan herinner dat die IRR ʼn alternatiewe onteieningswetsontwerp saamgestel het wat die foute in die huidige wetsontwerp regstel. Dié alternatiewe wetsontwerp het ten doel om die komitee te ondersteun wat die nodige veranderinge moet aanbring.

“Drie kern-wysigings is veral belangrik. Eerstens moet die wetsontwerp dit duidelik stel dat ʼn vooraf-hofbevel – wat die geldigheid van die onteiening bevestig en bepaal wat die regverdige vergoeding sal wees – bekom word voor ʼn onteiening kan voortgaan.

“Tweedens moet die wetsontwerp vereis dat die volle vergoedingsbedrag oorbetaal moet word voor die oordrag van eienaarskap aan die staat plaasvind.

“Derdens moet die vergoeding betaalbaar ook enige skadevergoeding insluit vir verliese gely weens die onteiening. Dié skadevergoeding sal verhuisingskoste, ʼn verlies aan inkomste en enige uitstaande bedrag op ʼn verband insluit indien die vergoeding wat betaal word, nie genoeg wees om dit te dek nie.”

Jeffery sê Suid-Afrika het nuwe onteieningswetgewing nodig wat ten volle met die Grondwet ooreenstem, en die huidige wetsontwerp voldoen nie aan dié toets nie. “Die IRR se alternatiewe wetsontwerp is in lyn met die Grondwet, met internasionale beste praktyk en die ekonomiese imperatief om welvaart vir almal te vergroot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

MM weier gereeld om my kommentaar oor tersaaklike onderwerp te plaas. Dus, as ons nie ons gesamentlike en georganiseerde spierkrag wys nie gaan hulle oor ons loop.

Hoekom ·

Dit is ‘n oorlogs verklaring onder ‘n dekmantel en ons moet dit so hanteer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.