‘Onteieningswetsontwerp sal ekonomie vernietig’

Dr. Pieter Groenewald., leier van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

Die VF Plus waarsku dat sou die onteieningswetsontwerp, wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak, finaal goedgekeur word, dit Suid-Afrika se ekonomie sal vernietig.

“Een van die belangrikste hoekstene van ʼn vryemark-ekonomiese stelsel is die reg op private grond- en eiendomsbesit. Hierdie wetsontwerp is niks anders nie as onteiening sonder vergoeding en bring alle eiendomsbesit in gedrang,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Daar heers wesenlike kommer nadat die onteieningswetsontwerp Dinsdag in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar is.

Maroela Media het vroeër vandag berig die ANC het sy meerderheid gebruik om die wetsontwerp te aanvaar en dit is nou terug na die Nasionale Vergadering (NV) verwys om die NRP-wysigings daaraan goed te keur. Dit kan hierna na pres. Cyril Ramaphosa verwys word vir bekragtiging.

Groenewald sê nou dit wil voorkom dat die ANC in hierdie stadium alles moontlik sal doen (en sy getalle sal gebruik) om die wetsontwerp voor die verkiesing deur te stoomroller.

“Die wetsontwerp maak dit duidelik dat roerende sowel as onroerende eiendom soos intellektuele eiendomsbesit geraak word,” verduidelik Groenewald.

“Dit beteken dat niemand in Suid-Afrika meer kan aanspraak maak op die alleen-eienaarskap van sy of haar besittings nie aangesien die staat op ʼn diktatoriale wyse enige besitting kan onteien na goeddunke.

“Die VF Plus beskou onteiening sonder vergoeding as ongrondwetlik en sal hierdie saak tot in die Grondwethof saam met ander organisasies en politieke partye beveg wat so sterk soos die VF Plus daaroor voel.”

Die DA het ook reeds gesê hy sal enige pogings om die onteieningswetsontwerp deur die parlement te stoomroller tot in die hoogste hof beveg.

“In belang van almal in Suid-Afrika mag daar nie toegelaat word dat die wet goedgekeur word nie,” sê Groenewald.

“Almal in Suid-Afrika en in enige demokratiese bestel het die reg om eiendom te besit en die staat het geen reg om dit eensydig af te neem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.