Onteieningswetsontwerp weer oop vir kommentaar

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die publiek word tans genooi om kommentaar te lewer op die onteieningswetsontwerp wat talle Suid-Afrikaners die josie in het.

Dit kom nadat die omstrede wetsontwerp in September deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is, maar weer na provinsiale vlak terugverwys is vir verdere insette.

Die doel van die onteieningswetsontwerp is om die bestaande Onteieningswet van 1975 te herroep om ʼn gemeenskaplike raamwerk in ooreenstemming met die Grondwet te verskaf om die prosesse en prosedures vir die onteiening van eiendom deur staatsorgane te rig.

TLU SA moedig nou alle Suid-Afrikaners aan om so gou moontlik op die uitnodiging te reageer en kommentaar te lewer.

In ʼn verklaring sê Bennie van Zyl, die landbou-unie se hoofbestuurder, dit is totaal ongrondwetlik om iemand se eiendom sonder vergoeding van hom af weg te neem.

“Wie wil geld in ʼn land belê waar daar ʼn wet is wat sê dat die staat jou grond mag vat sonder dat jy daarvoor vergoed word? Wil die Suid-Afrikaanse regering nóg ʼn Arabiese Lente skep waar hongersnood weens voedseltekorte algemeen is?”

“Ons doen ʼn ernstige beroep op Suid-Afrikaners om op hierdie geleentheid te reageer,” sê Van Zyl.

Hy sê grondonteiening sonder vergoeding is ongrondwetlik, rampspoedig vir die ekonomie, fataal vir voedselsekerheid en diefstal van elke Suid-Afrikaanse jong mens se toekoms.

Skriftelike kommentaar moet teen 6 Maart 2023 ingedien word.

Versoeke vir mondelingse voorleggings word ook nou gerig – TLU SA se eiendomskomitee is reeds besig om inligting vir hierdie doel in te samel.

Lede van die publiek wat kommentaar wil lewer kan dit op TLU SA se webwerf doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Wat se kommentaar het hulle nog nie gekry,verstaan of gehoor nie?Dit gaan my te bowe.

Daisy ·

Hoe kan ons kinders eers dink om ‘n eiendom in Suid-Afrika te koop? Net die finansiele aspek is al so moeilik vir hulle en dan kom die politieke agenda ook nog by. Ek glo elke jongmens wat die geleentheid kry om die land te verlaat sal dit doen. Ek dit sal jongmense wees wat geleerdheid, kennis en ervaring het.
Ek weet van heelwat mense, in verskeie velde (boere, veeaarts, rekenmeesters, ens.) wat al reeds land-uit is. En dit is kennis (en ekonomiese groei) wat vir ons land verlore is.

Mnr De Beer ·

Ek stem saam. Gaan oorsee as jy hardwerkend is en jy het n geleentheid gekry met goeie werk oorsee. Met alle mag en geleentheid.

Henry ·

dit groot ding is hulle hè dat alles aan die staat moet behoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.