Onteiningsplanne niks anders as ‘bedrog’

Die DA, Sakeliga en die Vryemarkstigting het Donderdag ’n gesamentlike konferensie oor onteiening sonder vergoeding gehou. (Foto: Noah Silliman/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse regering se planne om grond sonder vergoeding te onteien is nie net ’n reusebedreiging vir eiendomsreg en die ekonomie nie, maar kom ook neer op bedrog.

Só het Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga, Donderdag tydens ’n gesamentlike konferensie met die DA en die Vryemarkstigting gesê. Dié organisasie het hom Donderdag opnuut verbind om dié beplande wysigings ten alle koste te beveg.

Dié rolspelers het hulle stemme saamgevoeg om die beplande wysiging van artikel 25 van die Grondwet, wat onteiening sonder vergoeding sal toelaat, teen te staan.

Boonop wil die regering as deel van dié wysiging toesien dat howe ingevolge die wet by grondonteieningsake uitgesluit word.

Van Staden sê dat daar ’n duidelike onderskeid tussen onteiening en beslaglegging getref moet word.

“Wanneer jy na die res van die wêreld kyk, word daar ook wetlik voorsiening vir onteiening gemaak. Dis ’n laaste maar wettige uitweg.

“Wat die Suid-Afrikaanse regering egter probeer doen, is om op eiendom beslag te lê. Dis onwettig en strook nie met die bestaande aard van die Grondwet of ’n demokrasie nie. Sou dit goedgekeur word, sal dit die ligitimiteit van die Grondwet in twyfel trek.”

Van Staden sê die regering probeer sy ware agenda, wat polities en sosiaal gedrewe is, onder die vaandel van restitusie verdoesel.

“Eiendomsreg en demokrasie kan nooit onafhanklik van mekaar staan nie.”

Chris Hattingh, adjunkredakteur by die Vryemarkstigting, sê die regering probeer onteiening sonder vergoeding as ’n kuur vir alle grondhervormingsprobleme voorhou, terwyl hy wetgebaseerde regstelling ignoreer.

“Al wat dit sal doen, is om die staat se mag te bevorder. ‘Nuwe grondeienaars’ sal nooit werklik die grond besit nie, want dit sal aan die regering behoort.

“Boonop sal die regering nie net eienaarskap oor mense se eiendom hê nie, maar gevolglik ook oor mense se lewe en dié van hul kinders.”

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, sê die Grondwet soos dit tans daar uitsien, maak voldoende voorsiening vir billike onteiening en dat geen wysiging nodig is nie.

“Die regering behoort eerder ’n pragmatiese, rasionele benadering te volg om grondhervorming binne die raamwerk van die wet aan te pak.”

Hy sê die regering het bloot ten doel om alle grond te nasionaliseer.

“Die wysiging is ’n bedreiging vir Suid-Afrika se toekoms in geheel, veral noudat die ANC/EFF-koalisie voorstel dat howe nie oor grondonteieningsake moet kan beslis nie, maar dat die regering as ‘bewaarder’ volmag daaroor moet hê.

“Nie net is dit ’n bedreiging vir elke Suid-Afrikaner om eiendom te besit nie, maar dit kan ook ekonomiese ineenstorting en verhoogde armoede tot gevolg hê.”

Meyer het die regering se voorgestelde model met dié van Venezuela vergelyk, waar die vertrapping van eiendomsreg en staatsmag tot ’n algehele ineenstorting van dié land se ekonomie en ’n ernstige voedseltekort gelei het. Die inflasiekoers in Venezuela is tans 1 000 000%.

“Dis tyd dat alle Suid-Afrikaners saamstaan om eiendomsreg en ons Grondwet te beskerm.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

As breinselle verkoop kon word sou ek nou n uiters lonende mark daarvoor gehad het. As daar nog nie in 26 jaar deur hierdie onnosele spul gesien kan word nie dan is daar geen raad meer nie.

Tipper

Help nie meer om hier goed te doen nie.

Dup

Lyk vir my ons moet maar ñ “nuwe” Reijer,Drommedaris en Goede Hoop bou en terugvaar Europa toe.Dinge gaan vorentoe nog rof raak in SA.

Chris

Iewers sal hierie mense gestuit moet word. Hulle word gelei deur skerminkels en die hele ANC hardloop agter hulle aan

Werner

Twee goed wat hulle nie van my sal vat nie.My wapens en my plaas.Nie terwyl ek nog lewe nie.