Ontevredenheid oor voorleggingproses vir Bakwena-grondeis

Argieffoto: led.co.za

Argieffoto: led.co.za

AfriSake het vandeesweek gewaarsku hy sal noodgedwonge die hof nader indien die Grondeisekommissie versuim om grondeienaars ʼn behoorlike geleentheid te bied om voorleggings aan die kommissie te maak oor die reuse Bakwena-grondeis.

Die Johannesburg-Suid-grondeis, oftewel die Bakwena-eis, word as die grootste van sy soort in Suid-Afrika se geskiedenis beskou. AfriSake het Vrydag in ʼn verklaring gesê hy het ʼn finale brief aan die Grondeisekommissie gerig oor beweerde versuim om die Wet op die Herstel van Grondregte na te kom.

Volgens die organisasie is briewe op 9 Desember 2016 en weer op 16 Januarie 2017 aan die kommissie gerig om dit in te lig dat die toegelate tyd vir voorleggings te kort is. Volgens AfriSake het verskeie grondeienaars AfriForum gekontak, omdat hulle eers in die laaste twee weke voor die afsnydatum vir voorleggings van dié eis te wete gekom het, omdat die kommissie die grondeis nie behoorlik geadverteer het soos wetgewing vereis nie.

“Die kommissie moes volgens behoorlike prosedure die eis in die Staatskoerant en plaaslike koerante geadverteer het en persoonlike kennisgewings aan grondeienaars gegee het waarin na straatadresse verwys word,” het Armand Greyling, regs- en beleidsanalis vir AfriSake, gesê.

Grondeienaars het tot Donderdag kans gehad om voorleggings aan die kommissie te doen oor waarom betrokke eiendomme nie deel van die eis moes uitmaak nie.

“Dit is noemenswaardig dat die kommissie se eie navorsingsverslag bevind dat die eis afgewys moet word, omdat geen getuienis bevestig dat die Bakwena’s met geweld van die betrokke grond volgens diskriminerende wetgewing ná 1913 verwyder is nie,” lui AfriSake se verklaring.

AfriSake waarsku as die kommissie nie die eis behoorlik adverteer en elke grondeienaar die geleentheid bied om behoorlike voorleggings aan die kommissie te maak nie, sal die organisasie die hof nader om die kommissie teenoor die publiek verantwoordelik te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Welkom in die realiteit van SA. Wette; reëls; regulasies; voorskrifte; N GRONDWET….maar daar word gedoen soos wat en wanneer dit die selfaangewese magsbeheptheids kliek goed viel!!!!! Onaantasbaar!

lewies ·

Johann, jy vat ons dilemma in ‘n neutedop saam. Die ergste wat kan gebeur is om doodeen-voudig die grondwet te verander. Zimbabwe is ‘n voorbeeld. Hofsake is ‘n pynstiller. Ons regeer nie meer nie. Om Suid-Afrika leeg te suig gaan langer neem as Zim. maar suig gaan hulle suig. “Erfgoed is swerfgoed” of glo ons nie meer aan hierdie uitdrukking nie. Ons moet baie meer radikaal begin dink as ons se ons is onskuldig!!!

skorra ·

Alhoewel daar ook ander groepe is wat prysenswaardige werk doen en beplan vir die toekoms, is dit vir my ondenkbaar wat ons situasie op hierdie oomblik sou wees as dit nie vir Afriforum was nie. Dankie tog vir julle!!

skorra ·

Ns. : As meer mense dit tog maar net wou raaksien, onbevooroordeelde krediet gee waar dit toekom en groter ondersteuning bied…

snoefie ·

was die bakwena stam wat van hulle grond voor en na 1913 verwyxer was,nie elders hervestig nie? of was hulle sonder alternatiewe huisvesting weggejaag!

Johanna Botha ·

Ons gaan weer van die eis hoor oor n paar jaar as niks meer werk en almal dwarstrek en vir mekaar kwaad is …die diere verwaarloos is en geen trekker meer werk nie …kyk mooi …mos nou al baie gesien.

Ouma ·

Miskien nie meer so oor ‘n paar jaar nie!! Maar ek wil vir die Bakwenas vra: Doen julleself ‘n guns en gaan kyk in Zim en besluit dan. Of nog nader sommer hierby ons rond! Groot plaashuis: pragtige Fries beeste!! Nou verdroogde lande vermaarde beeste plaashuis verwaarloos stroois gebou en sit onder “n boom!!! Toe kom daar iemand en vra: wat gaan aan! Antwoord: waar moet die geld vandaankom om die plek te bedryf?

Justice ·

Ouma nou vra jy vrae wat die Bakwenas nie wil hoor nie. Kontantvloei is mos geld wat aan bome op `n plaas groei – jy moet net eers die eienaar van daardie grond word want dan gebeur al daardie wonderwerke vanself.

John ·

Kamma-Bakwena-grond gerieflik gekies naby groot stede om die grond te verkoop vir verstedeling en ‘n lekker skep te vat… Sluheid ken geen perke nie…

Henk ·

My ma was n vdWalt,haar voorgeslagte het in die 18 honderds om die fonteine geboer,boerkoring nat gelei uit die fonteine,van daar vd Walt straat,kan ek dalk n eis instel,daar is oorgenoeg bewyse van my voor geslagte se teenwoordigheid?

Wim Kotze ·

Henk, as jou ma ‘n Tswana of Sotho van der Walt was het jy dalk ‘n kans gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.