Onthoofde liggaam langs geldwa aangetref

Die liggaam van een van die vermeende transitorowers is langs die geldwa aangetref. (Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Die liggaam van ʼn vermeende transitorower wat vermoedelik onthoof is in die ontploffing om ʼn geldwa oop te blaas, is Woensdagoggend op die R28 in Mohlakeng in Gauteng aangetref.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die Bekkersdal-polisie wat verhoorafwagtende gevangenes vervoer het, het Woensdag omstreeks 09:00 op die toneel afgekom.

Die bende rowers het van agter ʼn wit Ford Ranger op hulle losgebrand. Nie die polisielede of die gevangenes is beseer nie. Die rowers het met ʼn bedrag geld gevlug en is steeds soek.

‘n Uitgebrand BMW is ook op die toneel aangetref. (Foto: SA Polisie)

“Op die toneel het die polisie bepaal dat die G4S-geldwa reeds oopgeblaas is. Langs die voertuig is die liggaam van ʼn man, wat volgens die voorlopige ondersoek vermoedelik ʼn verdagte is, aangetref. Hy is oënskynlik onthoof in een van die ontploffings,” het Mathe gesê.

ʼn Uitgebrande 3-reeks BMW is ook op die toneel aangetref. Dié motor is verlede maand in Kagiso gesteel.

Die polisie het ʼn beroep op mense in die Soweto-omgewing gedoen om op die uitkyk te wees vir die enkelkajuit Ford-bakkie, asook ʼn silwerkleurige BMW waarin die rowers gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.