Onthou jy nog vir Francois en Elizabeth Fourie?

Die sangpaar Elizabeth en Francois Fourie het diep spore getrap in Afrikaanse musiekliefhebbers se harte. (Foto: Verskaf)

As jy hou van Afrikaanse musiek is die kans goed dat jy die treffer “Wil jy dans, Carina?” onthou, maar kan jy glo dit is nou al meer as 30 jaar sedert Francois en Elizabeth Fourie die musiekbedryf met dié treffer oorrompel het?

Maroela Media het met die sangpaar gesels oor die mooiste herinneringe en grootste treffers uit hulle meer as drie dekades in die musiekbedryf.

Op ʼn vraag oor wat die suksesresep agter “Wil jy dans, Carina?” was, skerts Francois hy wens hulle het geweet, want dan sou hulle beslis nog minstens tien sulke liedjies geskryf het.

“Elizabeth was in daardie jare betrokke by transkripsiemusiek en ʼn platemaatskappy het van haar te hore gekom. Ons is genooi om deel van hul kommersiële projek te word en het ʼn paar duette opgeneem. ‘Wil jy dans, Carina?’ het op kant B van die plaat verskyn,” vertel Francois.

ʼn Radiostasie het die liedjie egter gou opgeraap en dit het só gewild geword dat die platemaatskappy die plaat se omslag en naam moes verander omdat die snit die treffer geword het waarna almal soek.

Elizabeth glo die X-faktor van so ʼn treffer bly ʼn geheim. “Jy maak die liedjie en gee dit vir die mens; hulle besluit self om dit ʼn treffer te maak.”

Tog meen sy die langlewendheid van dié liedjie kan toegeskryf word aan ʼn heerlike wysie en woorde wat inhoud het waarmee mense kan identifiseer.

“Die aanbieding is ook belangrik. Ons is getroud, baie gelukkig saam en beste maats – ek dink iets daarvan blyk as ons hierdie liedjie saam op die verhoog sing.

“Dié liedjie het vir ons die pad oopgemaak na ʼn loopbaan wat ons nooit beplan het nie, maar dit is ʼn bonus wat ons tot vandag toe nog koester.

“En ja, ek is dikwels aangespreek as Carina,” vertel Elizabeth.

Nog ʼn treffer wat Elizabeth en Francois albei na aan die hart lê is “Meer as woorde”. Die publiek het dié liedjie as die treffer van die jaar aangewys op die destydse Radio Suid-Afrika.

“Ons het baie bekende kunstenaars daardie jaar uitgestof met dié liedjie. Ons was werklik trots daarop en dit was vir my ʼn heerlike verrassing,” vertel Elizabeth.

“Van Vredendal tot Beestekraal” en “Droommelodie” is later ook in dieselfde program as naaswenners aangewys.

Elizabeth en Francois Fourie saam met hulle twee dogters Minnette (links) en Liezel (middel). (Foto: Verskaf)

Die Fouries bedien ook mense deur geestelike musiek en Elizabeth is goed bekend vir haar kinderliedjies.

“Die kinderliedjies het natuurlik ontstaan terwyl ons eie kinders nog jonk was. Nou het ons twee dogters hul eie kinders, maar hulle bly steeds my inspirasie,” sê Elizabeth trots.

Sy het liedjies vir programme soos Siembamba en Wielie Walie geskryf. Die goue status wat haar kindermusiekalbum, My beste Jesus liedjies, verwerf het, is iets wat haar steeds baie na aan die hart lê.

“ʼn Mens moet onthou die Afrikaanse kindermusiekmark is klein, maar die mark vir Afrikaanse geestelike kindermusiek is selfs kleiner.”

Elizabeth en Francois glo hul musiek het deur die jare vir hulle soveel vriende gebring.

“Jy weet, in al die jare wat ons die land plat getoer het, is ons nog altyd weer teruggenooi na ʼn dorp waar ons opgetree het. Ons het ou customers en dit is ʼn lekker gevoel.”

  • Francois en Elizabeth Fourie het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met ons gesels oor hulle grootste treffers oor die dekades. Die Fouries het hulle mooiste herinneringe van hulle musiekloopbaan gedeel, en bly ingeskakel want die onderhoud speel uit met hulle snit “Ek hou van jou”. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wielspore ·

Ons het die paartjie baie jare terug ontmoet by die KKNK en hulle tema was die liedjie Sjokolade… tot vandag toe sing my 24 jarige seun wat daardie tyd ‘n peuter was, saam aan die liedjie, want dit is sjokolade….
Uitstekende mense wat intrek in jou lewe neem en jou siel en als wat goed is vir jou beteken.

marisa ·

Hulle het so rukkie terug opgetree in ons kerk en ai daai uur in die kerk was so gou verby ek sou ure na hulle kon luister!!

Thea ·

Ek was maar 6 jaar oud toe ek “wil jy dans Carina” vir die eerste keer gehoor het en dit was al wat in ons huis gespeel het. :) Pragtige liedjie van twee pragtige mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.