‘Ontlastinggooier’ vermoor

Loyiso Nkohla is Maandag voor omstanders doodgeskiet. (Foto: Tariro Washinyira/GroundUp)

Deur Tariro Washinyira, GroundUp

Die voormalige ANC-raadslid Loyiso Nkohla is Maandag in Philippi, Kaapstad, doodgeskiet tydens ʼn vergadering oor die hervestiging van mense wat by ʼn spoorlyn woonagtig is.

Nkohla is byna 10 jaar gelede uit die ANC geskors ná sy betrokkenheid by betogings waartydens menslike ontlasting gegooi is. Nkohla het onder andere sy medebetogers aangemoedig om ontlasting op die trappe van die Wes-Kaapse wetgewer en by Kaapstad se internasionale lughawe te stort.

AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Nkohla Maandag doodgeskiet is. Nog drie mense, twee vroue en ʼn man, is ook in die aanval beseer.

“Die motief vir die aanval moet nog vasgestel word, maar die polisie in Nyanga ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord,” sê hy.

Nkohla verteenwoordig sedert 2019 die families wat die spoorlyn in Langa, Khayelitsha en Philippi beset. Verskeie mense het die lyn beset nadat dit in onbruik geraak het. Nkohla het ook gereeld vrae aan die voormalige minister van vervoer, Fikile Mbalula, gerig oor vordering wat gemaak is om die families te hervestig.

Philip Mnisi, een van die bestuurskomiteelede van die Eyadini‑ informele nedersetting op die spoorlyne in Philippi, was by die vergadering toe Nkohla geskiet is.

“Ons het pas klaar gebid en Nkohla het die lêer uitgehaal om die agenda van die vergadering aan ons te gee, toe mense op hom geskiet het.”

Hy sê Nkohla was beslis die teiken.

“Hy het meedoënloos aan die hervestigingsproses gewerk, maar daar is mense wat ontevrede was met die werk wat hy gedoen het,” sê Mnisi.

“Ons het ʼn gefokusde, vreeslose leier verloor.”

Volgens Mnisi is daar kringtelevisie by die lokaal en hy is optimisties dat die moordenaars vasgetrek sal word.

Lindikhaya Payiya, ʼn raadslid in die gebied, het dieselfde tyd as die polisie by die toneel opgedaag.

“Sommige mense wat op die toneel was wat die gesigte van die vermeende skieters gesien het, het gesê hulle herken nie die mense nie,” sê Payiya.

“Ons is baie hartseer omdat Loyiso een van die aktiviste is wat ons weet toegewyd was om mense van die informele nedersetting te help. Ons het ʼn kader verloor wat altyd gereed was om minder bevoorregtes by te staan.”

Derrick America, DA Wes-Kaapse woordvoerder oor mobiliteit, sê die heropening van die spoorlyn is van kardinale belang vir duisende mense om met Kaapstad se sentrale sakekern verbind te word. Die moord op Nkohla sal die hervestigingsproses vertraag.

“Dit is duidelik dat Nkohla, ʼn passievolle aktivis, onvermoeid gewerk het om met informele bewoners by treinstasies te onderhandel om te hervestig om die in werkingstelling van die spoorlyn moontlik te maak. Sy tragiese moord moet ten sterkste veroordeel word.”

Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het die misdaadtoneel besoek en in ʼn video wat op sosiale media gedeel is sy medelye met Nkohla se vrou en diegene wat hom geken het, betuig.

“Dit lyk asof dit ʼn sluipmoord was.”

Niemand is al in verband met Nkohla se dood in hegtenis geneem nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Danie ·

Verkeerde plek op n verkeerde tyd .Moord in SA n alledaagse verskynsel en die toeskouers raak net al meer.

DJ ·

Kyk maar na die taxi bederf. Hulle is die enigste wenners in hierdie saak.

Blikkies ·

Jy kan nie jou eie gedrag en misvormende wyse van optrede aan almal afdwing nie. Sekere onbeskaafde maniere van betoog val nie in almal se kraal nie, en jou gedrag dra een of ander tyd gevolge. Hoop werklik sy volgelinge dink twee keer oor hoe om op ‘n ordentlike manier jou ongelukkigheid te wys. Moord was egter nie die oplossing nie.

piet ·

Hoe moeilik kan dit wees om mense van ‘n treinspoor af te kry en (eers net tydelik miskien) elders te vestig sodat die spoor darem oop is? Ek kan sulke dinge nie verstaan nie.

Johanna ·

Nou eers. Hy moes lankal verwyder geword het maar ons regstelsel beskerm die kwaad stokers

SjN ·

Haal die belhamels met geweld uit en alles stop onmiddelik, Marikana was n goeie voorbeeld.

JohanR ·

Omdat dit ‘n ANC is sal ons wonderlike minister van polisie self daar wees, en self die ondersoek bestuur. Sou nie dink as nog ‘n boer Woensdag dood gemaak word, sal hy die selfde diens kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.