Ontleding: SAL se miljarde sal nie Emirates kan koop nie

SAL-SAA-Airbus-A330-243

Drie van SAL se Airbus A330-243 vliegtuie staan by Heathrow-lughawe in Engeland in 2012. Foto: Alex Beltyukov/RuSpotters Team/Commons.wikimedia.org

Vir Suid-Afrika se gefrustreerde belastingbetalers lyk die land se sukkelende nasionale lugrederye soos ʼn bodemlose put. Markus Korhonen het die hipotetiese prys van ʼn meer winsgewende lugredery vir Africa Check bereken.

Bonang Mohale, die hoof van Business Leadership South Africa, het onlangs ʼn treffende vergelyking gemaak om te beklemtoon net hoeveel miljarde die Suid-Afrikaanse regering al bestee het om die nasionale lugredery te red.

“Ons het sedert 1999 reeds R50 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bestee. As ons die geld nie op die lugredery uitgegee het nie, sou ons Emirates Lugredery kon koop,” het Mohale gesê.

R50 miljard is beslis ʼn groot bedrag, maar hoe vergelyk dit met die prys vir een van die wêreld se grootste lugrederye?

Kom ons plaas die bedrag in konteks: As jy een rand elke sekonde van die dag sou verdien, sal jy ʼn ruim salaris van R86 400 per dag of net meer as R2,5 miljoen per maand verdien. Selfs teen hierdie koers sal dit jou 31,7 jaar neem om jou eerste miljard te kry. Om tot by R50 miljard te kom sal jou byna 1 600 jaar neem.

Om dit anders te stel, jy sou hierdie salaris moes begin verdien het in die tyd toe die eerste Ystertydperk-nedersettings in Groter Zimbabwe gebou is.

Kortliks, dit is baie geld!

R29,1 miljard en nie R50 miljard nie

Ongelukkig is Mohale se syfers nie heeltemal korrek nie, maar sy vergelyking is steeds interessant en dalk ʼn hiperbool om Suid-Afrikaners se frustrasie met SAL uit te beeld.

Sowel die 2015-’16-jaarverslag van die SAL en die 2016-’17-jaarverslag van die tesourie het ʼn totaal van R19,1 miljard in “staatswaarborge” geïdentifiseer, wat tot op hede aan die lugdiens beskikbaar gestel is.

ʼn Waarborg van die regering is basies ʼn lening, wat die regering onderneem om terug te betaal, indien die ontvanger van die lening dit nie self sal kan doen nie.

Staatwaarborge of borge vir SAL het wel geleidelik in grootte en frekwensie toegeneem.

Die grootste borg wat aan SAL tot 2012 toegewys is, was R1,6 miljard met verdere betalings van R5 miljard, R6,5 miljard en R4,7 miljard tussen 2013 en 2016. ʼn Bykomende R10 miljard is vanjaar aan die lugredery toegeken, wat die totale lening tot R29,1 miljard sal voer.

Dit is natuurlik steeds ʼn beduidende som en indien jy jou rand-per-sekonde-salaris sou verdien, sal dit jou steeds 920 jaar neem om hierdie bedrag te bekom.

emirates-vliegtuig

Die Emirates lugredery spoeg met 29 opeenvolgnde jare van wins. Foto: Adege/Pixabay.com

In die besit van die regering van Dubai

Die vraag bly egter, sou R29 miljard, of selfs R50 miljard, genoeg wees om Emirates te koop?

Die lugredery is in 1985 gestig en het tans ʼn vloot van 259 vliegtuie. Dit is geheel en al in besit van die regering van Dubai deur die staatsbeheermaatskappy, Investment Corporation of Dubai.

Daar is gevolglik geen markwaarde vir die lugredery beskikbaar nie en dit sal ʼn bietjie raaiwerk verg om uit te werk wat dit sou kos om die maatskappy aan te koop.

Wat ʼn hipotetiese koper bereid sou wees om vir ʼn maatskappy te betaal, sal bepaal word deur ʼn aantal faktore, soos die konkrete bates wat die maatskappy besit, die skuldverpligtinge daarvan, sy winsgewendheid en toekomstige verdienste asook die waarde van die handelsmerk. Minder maklik kwantifiseerbare eienskappe, soos bestaande en potensiële uitdagings in die bedryf, of die waarde van werknemers se vaardighede, kan ook oorweeg word.

Gelukkig is Emirates deursigtig in verslaglewering oor sy finansiële prestasie. Die maatskappy maak resultate van sy geldsake in fyn besonderhede in sy jaarverslae bekend. Die afskrifte, wat van die boekjaar 1993-’94 dateer, is ook vrylik aanlyn beskikbaar.

ʼn Mens sou hierdie bedrae kon saamflans om uit te werk wat Emirates sou kos indien dit te koop aangebied sou word.

29 opeenvolgende jare van wins

Emirates se 2016-’17-jaarverslag toon vinnig dat Mohale se R50 miljard – so ʼn enorme bedrag soos dit is – nie baie ver vorder nie.

Dit sal nie naby wees aan die dekking van die waarde van die bates wat die lugredery besit nie (R454 miljard). Dit sal nie eens verlede jaar se brandstofrekening (R78,5 miljard) dek nie. Die Emirates-handelsmerk alleen is na berekening sowat R105 miljard werd.

Die R50 miljard sal net genoeg wees om verlede jaar se personeelkoste by Emirates (R48 miljard) te dek. So, Suid-Afrika kon die lugdiens se personeel gekoop het – vir net een jaar.

Maar soos ons weet, Mohale se R50 miljard-skatting was nie heeltemal akkuraat nie en die korrekte syfer van R29,1 miljard sal minder as ʼn tiende van Emirates Lugredery se totale bedryfskoste vir 2016-’17 kon dek.

In Januarie 2015 het die stigter en hoof- uitvoerende beampte van die lugredery, Maurice Flanagan, beraam dat Emirates sowat R556 miljard werd kan wees as dit ʼn openbare maatskappy sou word. Sedert daardie skatting het Emirates nog twee winsgewende jare gehad, wat kan impliseer dat ʼn nuwe waardasie die pryskaartjie selfs nog hoër kon plaas. Let wel: Emirates het nou reeds 29 opeenvolgende winsgewende jare getoon.

turkse-lugredery-turkish-airline

Die Suid-Afrikaanse regering sou die Turkse lugredery kan koop vir al die geld wat dit al op SAL gespandeer het. Foto: NTavia/Pixabay.com

Binne bereik

Terwyl Emirates duidelik van die inkopielys geskrap is, sou die geld wat aan SAL se staatswaarborge bestee is, genoeg gewees het om ander lugrederye te koop.

Volgens die markwaardes wat deur Forbes verskaf is, sou R50 miljard ($3,52 miljard) voldoende wees om die Russiese Aeroflot-lugredery te koop (ter waarde van $3,2 miljard). Selfs die meer beskeie som van R29,1 miljard ($2,04 miljard) sou Suid-Afrika toegelaat het om die Turkse lugredery te koop, wat tans na raming sowat $2 miljard sou kos.

Inderdaad sou dit verstandig gewees het om dit te doen, aangesien albei lugdienste oor die afgelope vyf jaar hoofsaaklik winsgewend was, anders as SAL.

Dalk is dit ook maar beter dat die Suid-Afrikaanse regering nie Emirates kan koop nie. Daar word gereken die Emirates-groep het R4,5 miljard tot SA se BBP in 2014-’15 bygedra en sowat 13 000 werkgeleenthede in die plaaslike ekonomie ondersteun teen geen ekstra koste vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler nie.

Terwyl SAL 34 000 werkgeleenthede plaaslik ondersteun en R9,2 miljard aan die ekonomie in 2013 bygedra het, word hierdie syfers ietwat gedemp deur die nie-onbeduidende bydraes wat die belastingbetaler gemaak het om die SAL se kop bo water te hou.

  • Markus Korhonen skryf vir Africa Check, ʼn nie-partydige feitekontrole-organisasie. Korhonen is ʼn dosent in politieke studies wat spesialiseer in internasionale politieke ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Die oorspronklike Engelse artikel kan op Africa Check se webwerf gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel Strydom ·

Waar is al die geld heen???? Ek luister masr hoor niks.

CHRISTA ·

Dit lyk vir my of Mohale soveel kennis van syfers soos sy baas, Zuma, het!! HOW SCARY!! In die HELE ANC blyk NET Gordhan ENIGE kennis van syfers te hê!! (En HY is ge-fire!! HEHEHE!! AFRICAN NATIONAL CIRCUS!!)

Eish ·

Dit bly maar n bestuursprobleem.
Bestuur bly maar n probleem hê met kapasiteit.
Kapasiteit bly maar n opleidingsprobleem.
Die opleidingsprobleem blyk maar onopleibares te wees.
Onopleibares se probleem is gebrek aan kundige ervaring.
Ervaring se probleem is gesetel in die tydsduur op n opgeleide blootstelling te gee.
Dus sit ons met n bestuursprobleem.
Die bestuursprobleem kos belastigbetalers geld.
Nou is ons geld op…

Callie ·

Groot punt is n lugredery kan wisgewend bedryf word. In SA kry Mango hulle opdraand want n bankrot maatskappy wat met belangsting geld onderhou word, kry alles maklik. Arme werkers van Mango se belasting wat hulle betaal word teen hulle gebruik.

pieter ·

NET IN DIE NUWE SUID AFRIKA HET JY NIE GELD NODIG OM BANKROT TE SPEEL NIE.HOE DOM KAN N MENS WEES. OF MOET JY JUIS DOM WEES OM DIT TE VERSTAAN.

JoeV ·

Wat mens se verstand te bowe gaan is dat daar altyd ‘n voorbeeld is om te volg, en metodes en prosedures in plek te stel wat soos die voorbeeld die SAL sou kon red indien daar opgetree is twintig jaar gelede.
Mens wil regtig huil maar mens lag maar liewers.

bgj van der westhuizen ·

saa / mango/sa exspress behoord aan die staat en as hulle aan ander maatskapy behoord het was hulle toe gemaak kan nie vergelyk word met ander nie wand hulle word so swak bestuur en is nie die naam ligdiens werd nie

Pieter B ·

Los Emirates maar uit hulle weet wat doen hulle en hulle lugwaardinne is ook baie bekwaamd teen oor die ongeskiktes van SAL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.