Ontploffing by Denel-aanleg het ‘hele gebou verwoes’

Die toneel by die Rheinmetall Denel-depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap (3 September 2018). Foto: Phando jikelo/African News Agency

Rheinmetall Denel Munition het in ʼn verklaring gesê die ontploffing Maandagmiddag by sy depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap het die hele gebou verwoes.

Plofmure in die onmiddellike omgewing is ook beskadig.

Norbert Schulze, uitvoerende hoof van Rheinmetall Denel, het gesê die maatskappy het Stad Kaapstad verseker dat die rookwolk ná die ontploffing geen bedreiging inhou vir die algemene publiek nie. “Alle nodige voorsorgmaatreëls is getref en die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Theo Layne, hoof van die brandweer van Stad Kaapstad, het bevestig minstens agt persone is dood in die ontploffing. Brandbestryders is Maandagmiddag omstreeks 15:45 na die toneel ontbied.

“Die uitvoerende raad en personeel van die Rheinmetall Group betreur die verlies van ons kollegas. Ons dink aan hulle en hul vriende en familielede. Ons wens daar was meer wat ons kon doen om hul hartseer te verlig,” het Schulze bygevoeg. “Kundiges is reeds besig om die oorsaak van die voorval en omvang van die skade te bepaal. Ons kan nie verder kommentaar lewer of besonderhede bekend maak terwyl die ondersoek voortduur nie.”

Lungi Mnganga-Gcabashe, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, het gesê die komitee betuig sy meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffers. Sy het wetstoepassers versoek om die oorsaak van die ontploffing te ondersoek.

Times Live het berig een van die slagoffers, Jason Hartzenberg (21), het daarvan gedroom om eendag ʼn polisiebeampte te word. Hy het pas sy toelatingseksamen suksesvol geslaag. Hartzenberg was een van 10 persone wat besig was om dryfmiddels vir artillerieladings te meng toe die ontploffing plaasgevind het.

EWN het intussen berig daar was die afgelope 10 jaar vier veiligheidsvoorvalle by Rheinmetall Denel Munition, drie in Somerset-Wes en een by Arlington. Volgens EWN het Schulze gesê daar was ʼn lekkasie by een van die tenks op die perseel, maar dat dit nie enige effek op die werkers in die omliggende gebied gehad het nie.

Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel het ʼn 49%-aandeel in Rheinmetall Denel Munition (Edms) Bpk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harry ·

Buiten die lewensverliese, het hierdie ontploffing rampspoedige gevolge vir ons polisie, weermag en almal wat sportskiet en jag. Hierdie fabriek was Somchem, die enigste vervaardigers van dryfmiddels (“kruit”) waarsonder geen ammunisie vervaardig kan word nie. Vreemde dryfmiddels sal nou ten duurste ingevoer en getoets moet word en dryfmiddel kan vinnig so skaars soos hoendertande word.

realis ·

Wat nie in die berig verskyn nie is die feit dat veiligheid in die aanleg laaaaankal by die agterdeur uitgegooi is, aldus TV nuus.

Snert ·

Realis jou kommentaar is alles behalwe. Streng veiligheid word toegepas.

B ·

Is daar waarheid in die gerugte dat daar al ‘n rukkie terug gewaarsku is dat vaardighede van personeel in sleutel posisies ver te skort skiet?

Mags ·

B.. as jy kyk na al die top bestuur by meeste ander groot besighede, S.A.L., Eskom, ens, dan het jy jou antwoord, haha.. Hulle wou die plek skynbaar al voorheen sluit, a.g.v. ongeruimdhede, o.a. veiligheid, maar het aanhou vervaardig, sonder om, soos oral elders in SA, onderhoud te doen. Nou sit ons almal met’n geweldige probleem.. Welkom in die “nuwe” SA !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.