‘Ontploffing by munisipaliteit is terreur’, sê LUR

Sibusiso Sithole, voormalige stadsbestuurder van eThekwini, is as administrateur aangestel om te help om die Msunduzi-munisipaliteit te verbeter. (Foto: Armand Hough/ANA)

Sipho Hlomuka, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in KwaZulu-Natal, het die ontploffing Maandag by die Msunduzi- munisipale kantoor in Pietermaritzburg as ʼn “terreurdaad” bestempel.

Dit volg nadat ʼn skynbare “ontploffing” binne die munisipaliteit se gebou gister ʼn raadsvergadering tot stilstand gedwing het.

“Dít is ʼn daad van terreur, eenvoudig en duidelik. Ons kan nie toelaat dat onbekende aanvallers ons plaaslike regeringstrukture tot stilstand dwing en ons beamptes en die algemene publiek intimideer nie,” het Hlomuka gesê. “Wat vandag in Pietermaritzburg gebeur het, het geen plek in ʼn beskaafde samelewing nie.”

Hlomuka het sy departement se volle ondersteuning aan die munisipaliteit verseker totdat die munisipaliteit weer ten volle self-funksionerend is. “Die administrasie van die munisipaliteit is steeds in plek totdat daar tasbare verbetering in Msunduzi se sake is,” het die LUR gesê.

Hy het verder ʼn beroep gedoen dat die voorval dringend ondersoek word en het stadsamptenare aangemoedig om die nodige veiligheidsvoorkomingsmaatreëls voortaan in te stel. “Ons sal nie geïntimideer word deur individue wat probeer om chaos en wanorde te saai nie. Ons rol is om munisipaliteite in hierdie provinsie te ondersteun en dit is wat ons sal doen,” het Hlomuka gesê.

Die Msunduzi-munisipaliteit is in April onder administrasie geplaas nadat probleme met regeringsake sy dienslewering in en om Pietermaritzburg beïnvloed het. Sibusiso Sithole, voormalige stadsbestuurder van eThekwini, is as administrateur aangestel om saam met departementsbeamptes te help om die munisipaliteit te verbeter.

DA-raadslid Sibongiseni Majola, wat minder as ʼn meter weg van die ingang van die raadsvergaderingvertrek in die munisipale gebou sit, sê hy was geskok toe hy die ontploffing hoor. “Ek was op die podium tydens die vergadering toe daar ʼn harde plofgeluid was. My eerste gedagte was dat ʼn vuurwapen van een van die veiligheidsbeamptes afgevuur is, maar toe sien ek hoe rook deur die deur borrel en dis toe ons bang word,” het Majola gesê.

Gister se vergadering was deel van ʼn werksessie waar Sithole sy vertroulike omdraaiplan vir die stad voorgelê het. Na verneem word, word die probleme wat die munisipaliteit tot die rand van ineenstorting gedruk het duidelik in die plan uitgestippel en die beamptes hiervoor verantwoordelik ook duidelik genoem.

Veiligheidsbeamptes wat by die vergadering was, het bevestig hulle het ʼn harde plofgeluid in die gebou gehoor. Hulle het die skuld op onvoldoende veiligheidsmaatreëls gepak wat hulle sê stadsamptenare en raadslede in gevaar stel. “Daar is nie skandeerders by die ingange nie en ons doen nie liggaamsoektogte op mense wat inkom nie, daarom kan mense met gevaarlike items die gebou binnekom,” het een beampte gesê.

Mzi Tebolla, taakspanlid van die ANC se Moses Mabhida-streek, het gesê die voorval is ʼn bewys dat daar ʼn agenda is om die munisipaliteit onregeerbaar te maak. “Ek kan nie verstaan hoekom mense sulke goed sal doen wanneer daar so baie moeite gedoen word om Msunduzi ʼn munisipaliteit te maak waarop ons almal trots kan wees nie,” het Tebolla gesê.

Hy het bygevoeg dit is ʼn verligting dat niemand seergekry het nie.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Sy sê die SAPD se bomeenheid is na die toneel ontplooi nadat die ontploffing gehoor is. Daar kon egter geen ploftoestelle gevind word nie, geen skade is aan eiendom aangerig nie en geen beserings is aangemeld nie. Daar is daarom nie ʼn saak geopen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theresa

Tereur, brandstigting, sabotasie – whatever. Dit kom nou al hoe meer voor. So ook kragstasies wat nou almal aan die brand slaan.
So hoekom doen julle nie iets daaromtrent. Maklik om te sê, dit was dit of dit was dat, maar geen flippen haan kraai weer daarna nie……………………………………………..

Johanna Botha

Dwing die vergadering tot stilstand ….ag alles staan reeds so wat is die verskil ?

Susan vl

STOP ALLE STAKINGS! Stel bevoegde mense aan, ongeag ras… ons land sal weer floreer. STOP DIE RAS KAART… GEEN LAND KAN FLOREER MET SO HOUDING.. one S A is ongebalanseerd, daarom gebeur al hierdie goed . God moet ingenooi word en regverdigheid moet gekies. Amen.

Hendrik ferreira

Simptome van n piesang republiek.

Diefie

Geen plek in ‘n beskaafde samelewing nie. Van watter land praat die ou? Kriminele oorheers die land dan. Eish nou is ek alweer “confused.”